‘ANC rede vir SAUK-raad se ineenstorting’

Die grootskaalse bedanking van hoogs professionele en bevoegde SAUK-raadslede is ʼn duidelike aanduiding van die ondraaglike en toksiese omgewing wat die ANC se onregmatige politieke inmenging in die raad geskep het.

Só het Dennis Bloem, nasionale woordvoerder van Cope, gesê na aanleiding van die bedanking van ʼn vierde lid van die SAUK-raad, die deurwinterde verslaggewer en redakteur Mathatha Tsedu.

Tsedu se bedanking kom kort ná dié van die adjunkvoorsitter, Khanyisile Kweyama, asook Krish Naidoo en John Matison. Naidoo het gister haar bedanking uit die raad aangekondig en “politieke inmenging” as rede aangevoer, berig African News Agency.

Die openbare uitsaaier, wat tegnies bankrot is, staar weerstand in die gesig teen sy planne om minstens 2 000 voltydse en vryskutwerkers in die pad te steek om uitgawes te besnoei.

“Dié hoogs gerespekteerde individue [wat uit die raad bedank het] was nie bereid om hul integriteit op te offer op die altaar van identiteitspolitiek wat swaarder weeg as redelikheid en die onafhanklikheid van die SAUK nie,” sê Bloem.

Hy meen dit was net ʼn kwessie van tyd voor die ANC sou inmeng om die onafhanklikheid en onpartydigheid van die raad te ondermyn.

“Die laaste strooi wat die kameel se rug geknak het, was die ondeurdagte en arrogante houding van die nuwe minister van kommunikasie, Stella Ndabeni Abrahams. Dis nou duidelik haar topmandaat is om die onafhanklikheid van die raad te dwarsboom en te frustreer.”

Hy beskryf dié minister se optrede as ’n voortsetting “van wat hulle in 2009 begin het met die skandalige kaping van die SAUK. Hulle het die slopingsbal ingebring in die vorm van Hlaudi Motsoeneng. Die huidige geldelike krisis by die SAUK is niemand anders as die korrupte ANC-regime se skuld nie. Dis hulle wat alle werkers se sekerheid, salarisse en professionele prestasie moet waarborg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JaNee ·

“toksiese omgewing” – is toksies ‘n regte Afrikaanse term of woord?

Morné van Rooyen ·

Dagsê JaNee,
Dankie vir jou deelname. Die woord is aanvaarbare Afrikaans; trouens, dit kom 10 keer in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal voor.
Groetnis,
Morné nms. Maroela Media

Jack Daniel ·

Toksies is waar!!!
Alles waaraan n waarin hulle hand sit is toksies of te wel TOTSIENS!!!
Is die Limpopo bank nie a goeie voorbeeld nie??

Jason ·

Jare terug het iemand die “SABC” as volg opgesom: Select Another Black Channel – ja, ek besef dit is beledigend, maar ook baie waar – nie waar nie??? En dit laat my wonder hoeveel mense betaal hulle TV lisensies???? As dit soveel as 10% is, sal dit my verbaas….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.