ANC-regering blaas R1,4 miljard op verblyf, vermaak en spyseniering

Die bedrag wat op partytjies, aandetes en hotelle bestee is, is genoeg om etes aan meer as 250 000 behoeftige leerders vir hul algehele skoolloopbaan van 12 jaar te verskaf. (Argieffoto: Esté Meyer Jansen)

Inperking, watter inperking? Terwyl Suid-Afrikaners gesteier het onder die uitwerking van die inperkingsregulasies wat weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie ingestel is, het 18 ANC-ministers, hul adjunkte en departemente meer as R1,4 miljard op spyseniering, vermaak en verblyf bestee sedert pres. Cyril Ramaphosa in Mei 2019 tot president verkies is.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê terwyl miljoene Suid-Afrikaners honger gaan slaap, het ANC-kaders regdeur die inperkingstyd – met belastinggeld – voortgegaan om partytjie te hou. En as jy só kyk na die vermaakrekening, was hulle beslis ook nie verveeld nie.

Terwyl die meeste gewone Suid-Afrikaners ʼn groot gedeelte van die laaste drie jaar onder een of ander vorm van inperking moes oorleef, het

  • die nasionale regering minstens R1,2 miljard se staatsgeld aan verblyf bestee,
  • het die regering nog R157 miljoen aan spyseniering bestee, en
  • het die regering R12 miljoen bestee aan vermaak vir ministers, adjunkministers en ander kaders wat deur nasionale staatsdepartemente ontplooi is.

Van die groot sondebokke is Lindiwe Sisulu, Ronald Lamola en Angie Motshekga.

Schreiber sê die algehele bedrag wat op partytjies, aandetes en hotelle bestee is – meer as R1,4 miljard – is genoeg om etes aan meer as 250 000 behoeftige leerders vir hul algehele skoolloopbaan van 12 jaar te verskaf.

Die DA se parlementêre vrae het probeer vasstel wat elke minister, adjunk en departement die afgelope drie jaar aan akkommodasie, spyseniering en vermaak bestee het.

Hier is die vyf topbesteders:

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) onder Ronald Lamola:

R293 miljoen

Die DKD het toegekyk terwyl die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weggekalwe is en is nou betrek by die Bosasa-korrupsie wat deur die kommissie na staatskaping blootgelê is. Die departement is verantwoordelik vir sowat ʼn kwart van die geld wat die afgelope drie jaar aan luukses bestee is.

ʼn Allemintige R285 miljoen is aan verblyf bestee in ʼn tydperk wat die meeste Suid-Afrikaners met Jan Tuisbly se karretjie moes ry.

Menslike nedersettings, water en sanitasie onder voormalige bestuur van Lindiwe Sisulu:

R252 miljoen

Die departement wat Lindiwe Sisulu, of Suid-Afrika se eie Marie Antoinette – soos die DA na haar verwys – die afgelope drie jaar bestuur het, het ʼn gesamentlike R252 miljoen geblaas. Schreiber sê dit sluit in R200 miljoen vir verblyf en meer as R50 miljoen vir spyseniering.

Angie Motshekga se departement van basiese onderwys:

R149 miljoen

In dié departement is die paspoorte graag uitgehaal en Motshekga, haar adjunk en ander amptenare het R6 miljoen aan buitelandse verblyf bestee, benewens die R120 miljoen wat hulle verblyf op Suid-Afrikaanse bodem die belastingbetaler gekos het.

Binnelandse sake onder Aaron Motsoaledi:

R149 miljoen

Terwyl die departement se immigrasiestelsels tydens die inperkingstyd byna tot stilstand geknars het, het Motsoaledi en sy span die afgelope drie jaar rojaal geld bestee aan luukses. Hulle het heerlik aan drankies by hotelle geteug – pleks daarvan om die geld te bestee om die ellelange toue by kantore te verkort of aansoeke tydig te verwerk, sê Schreiber.

Barbara Creecy en die departement van bosbou, visserye en omgewingsake:

R137 miljoen

Talle vissers sukkel om kos op die tafel te sit weens die departement se nalatigheid en onbevoegdheid, maar dit lyk nie of amptenare in dié departement juis honger ly nie. ANC-kaders hier het meer as R11 miljoen aan spyseniering bestee en nog R126 miljoen aan verblyf.

Naledi Pandor se departement van internasionale betrekkinge en samewerking het R127 miljoen bestee: byna R10 miljoen vir vermaak, R7 miljoen vir spyseniering en R110 miljoen vir verblyf.

Blade Nzimande en die departement van hoër onderwys, wetenskap en innovasie het R74 miljoen bestee aan spyseniering, vermaak en verblyf. “Om ons hoër onderwysstelsel te verwoes, maak jou oënskynlik honger, want Nzimande en sy departement het ʼn gesamentlike R17 miljoen aan spyseniering bestee,” sê Schreiber.

Die departement van gesondheid, toe nog onder leiding van dr. Zweli Mkhize, het R59 miljoen aan verblyf en meer as R8 miljoen aan spyseniering bestee, terwyl Gwede Mantashe en sy departement van minerale hulpbronne en energie R55 miljoen aan luukses bestee het.

Fikile Mbalula en die departement van vervoer het in dieselfde tyd R34 miljoen bestee, Ayanda Dlodlo en departement van staatsdiens en administrasie R26 miljoen, Patricia de Lille se openbare werke en infrastruktuur het R22 miljoen bestee aan verblyf, spyseniering en vermaak en Stella Ndabeni Abrahams by kleinsakeontwikkeling R12 miljoen.

Die departement van sport, kuns en kultuur het geweier om vrae oor dié soort besteding te beantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

43 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marianna

Nie ‘n wonder ons sit met slaggate, vervalle staatsgeboue, vuil strate en haglike omstandighede in hospitale en swak dienslewering. Hierdie ministers behoort in die hof uitgedaag te word. Hoe gaan SA ooit uit hierdie gemors kom.

Kokerboom

Hoe regverdig die kaders dit?Geld het GEEN waardevir die skepsels. Hul is onaantasbaar en President te slapgat
Ons weet hul het geen gewete!
Weereens arrogansie van Min van Kuns en Kultuur
Oplossing: Raak ASB net ontslae van die hele gespuis!

Willem

Ongelooflik soos daar gemors word . Hierdie land verdien iets beter

domheks

Niks gewoond. Moet vandag alles gebruik wat beskikbaar is, more moet my opvolger niks kan kry nie! Tipies cANCer!

BOKKIEBEK

Dis genoeg om mens te laat opgooi van ontsteltenis!!!!!