ANC-regering moet mislukkings erken, ophou hamer op verlede

Wouter Wessels. (Foto: VF Plus)

Die VF Plus sê die sogenaamde “skuld van die verlede” het vir die regering ʼn refrein geword wat hy aanhou gebruik om sy eie mislukkings, korrupsie, ekonomiese agteruitgang en die groeiende werkloosheid en verarming van mense goed te praat.

Wouter Wessels, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor finansies, sê die ANC se mislukte beleid, wanbestuur en dít wat bygedra het om die land tot op die afgrond te bring, word ook elke jaar herhaal.

“Die kommerwekkendste is egter dat die ANC-regering ’n begroting verwelkom wat hierdie verval manifesteer. Dit word verwelkom dat die begroting teruggesny word daar waar dit werklik die nodigste is welwetende dat dit wat wel begroot word, ook wanaangewend gaan word.

“Dit is ʼn skande dat dit verwelkom word.”

Wessels sê selfs al word faktore soos korrupsie en wanbestuur buite rekening gelaat, staan die verkeerde prioriteite in die begroting steeds soos ʼn seer duim uit.

“Die minister van finansies sê by herhaling dat uitgawes besnoei gaan word. Tog word kontrakteurs teen reusebedrae aangestel om dienste te lewer terwyl daar reeds amptenare in die staatsdiens teen groot salarisse aangestel is om die werk te doen.

“Waarom ʼn maatskappy R150 miljoen betaal om mediaskakelwerk te doen en ʼn onderhoud op TV te reël wanneer daar reeds mense in diens is om dit te doen?” het Wessels gesê met verwysing na die kontrak aan die maatskappy Digital Vibes, waaroor die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, tans in die pekel is.

“Dit is verkeerd en beginselloos, ongeag of dit R10 of miljoene rande kos.”

Wessels sê Kubaanse ingenieurs, dokters en werktuigkundiges word teen miljoene rande die land ingebring om werk te doen terwyl daar in Suid-Afrika kundiges is wat dit ook kan doen, baie van hulle boonop werkloos.

Hy sê die begroting sal daartoe bydra dat dit aanhou gebeur.

“Al hierdie dinge gebeur terwyl die regering aan die begroting sny waar dit die gewone man op straat die seerste gaan maak, mense soos onderwysers en verpleegsters.

“Daar is talle gekwalifiseerde maatskaplike werkers wat in die grootste maatskaplike krisis denkbaar in die land sonder ʼn werk of inkomste sit omdat die staat sy begroting aan hulle sny om te mors op luukshede en die beskerming van gewaande belangrike persone. Dit is verkeerd en onaanvaarbaar.”

Wessels sê ook daar kan nie volgehou word met beleid soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie wat net enkele mense bevoordeel, terwyl dit die “saad van rassehaat wyd saai” nie.

“Die tyd het aangebreek dat die regering erken hy het misluk en volle verantwoordelikheid daarvoor neem. Dit is veral tyd om op te hou om die verlede ná 27 jaar steeds die sondebok te maak vir mense se gierigheid en ʼn onbevoegde regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.