‘ANC-regering moet ophou om geleenthede van wit jeugdiges te weerhou’

Tienerseun_leerproses.jpg

Foto: pixgood.com

Wat die ANC-regering met die wit jeug van Suid-Afrika doen, is niks anders nie as rassisme in sy ergste graad, het die Vryheidsfront Plus gesê.

Volgens dr. Pieter Groenewald, nasionale voorsitter van die VF Plus, maak die regering dit uiters moeilik vir wit jeugdiges om by te dra tot die ontwikkeling van Suid-Afrika. Groenewald het Donderdag tydens ‘n parlementêre debat oor jeugontwikkeling gesê die regering wil die jeug van Suid-Afrika net ontwikkel in terme van die Vryheidsmanifes van die ANC.

Volgens dr. Groenewald dui al die regering se uitsprake daarop dat hy net sy kaders en ondersteuners wil ontwikkel. Hy het gesê die mees benadeelde jong mense en groepe in Suid-Afrika is die wit jeug en dat die ANC-regering uit sy pad gaan om klippe in die weg van die ontwikkeling van wit jeug te rol bloot op grond van hul velkleur.

“Wit jeugdiges se aansoeke om toelating en beurse by universiteite word afgekeur, nie op grond van meriete nie, maar op grond van hul velkleur. As hulle aansoek doen vir werk, word hulle nie afgekeur op grond van hul opleiding, kwalifikasies en meriete nie, maar op grond van hul velkleur weens regstellende aksie.

“Dit is niks anders nie as rassisme in sy ergste graad. Die regering sê hy veg teen rassisme en dit moet uitgeroei word, maar hy pas dit self passievol toe teenoor die wit jeug.

“Wat Suid-Afrika nodig het, is om die beste mense vir die werk te kry wat die beste opgelei is om die beste te lewer vir die ontwikkeling van die land.

“Waarom as ʼn wit student aansoek doen om medies te studeer, moet hy ʼn sekere hoë punt behaal, maar ʼn swart student se punte kan maar laag wees? Ons beledig eintlik die mense van Suid-Afrika, want wat dit eintlik sê, is dat ons nie die bestes wil hê nie.

“Ons sien tans hoe Eskom en ander openbare ondernemings in duie stort waar regstellende aksie kundigheid uitgedryf het en omdat meriete nie tel nie.

“Die VF Plus wil vir die ANC sê indien hy erns het met die ontwikkeling van Suid-Afrika, moet hy wegdoen met regstellende aksie, want die wit jeug wil ʼn bydrae lewer, en die regering moet ophou om klippe in hul pad te rol,” het dr. Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Tommy ·

Gee hulle gas!
Wonder of van daai Dokters of studente ooit ‘n bietjie sit en die vraag aan hulle self stel van HOOR EK EINTLIK HIER – het ek GEWERK om hier te kan wees? of is dit danksy liefste oom FW dat ek sit waar ek nou sit? Snaaks dat die ras kaartjie kort kort gespeel kan word oor onregverdigheid, maar wanneer dit by hulle kom, en die VOORDELE wat hulle geniet omdat hulle ‘n donker skakering is, dan is dit reg.

Peet Schabort ·

Behalwe nou in die weermag.
Daar is duidelik ‘n kanon in die gras . . .

Petro ·

Alles goed gesê maar dink VF+ werklik praat gaan die situasie verander? ANC vee hom af aan al die gepraat! Ons weet almal dit werk nie.

R ·

My seun het gematrikuleer in 2011 met 5 A’s en 2 B’s en kon nie toelating om medies kry nie, natuurlik weet julle hoekom. Hy het ‘n BSc graad gaan swot by NWU sonder ‘n beurs hy het sy graad geslaag met “CUM LAUDE” keuring gekry om honneurs te doen die jaar en met die genade van die Here het Tukkies hom laat weet hy is gekeur om Medies te swot! My kind is in ‘n ekstase dit is absoluut sy passie maar het 3 jaar gemors en moet nou weer 6 jaar swot en finansieël weet ek nie hoe ons dit gaan doen nie. Dit alles oor dit van die wit jeug geneem word.

ANNABELLA ·

U seun sal bo uitkom – hoekom? hy het deursettingsvermoe en pitte tussen sy ore!!
Mooi so seun, dat jy wys hulle SAL jou nie onderkry nie. Sterkte aan die ouers met die finansies – dit sal goedgaan. Stel jul vertroue en dank in die Almagtige!

Netta ·

Lees nou ook dat die regering die mediese ouens wat oorsee werk, wil dwing om terug te keer? Hulle is nou kwansuis vies dat “ons” mediese praktisyns deur Europa gesteel word. MAAR die bevoegde, hardwerkende mense wat medies wil studeer word afgekeur op grond van kleur.

Grassie ·

Kom die VF+ dit nou eers agter? Dit is hoog tyd dat hulle wakker word en hul stem laat hoor.

Loeis ·

Genade Grassie, VF+ is die enigste party wat in die parlement daarteen baklei, en wat verlede jaar in die parlement daarteen gestem het. Kom jy DIT nou eers agter?

Grassie ·

Loeis – een van my seuns het presies dieselfde paadjie geloop as R hierbo se seun. Alhoewel sy kwalifikasies van die begin af in orde was, was dit vir hom nodig om eers ‘n BSc graad en daarna ‘n honneurs te doen voordat sy aansoek aanvaar is. Dit het hom 9 jaar gevat om ‘n dokter te word. Hy is vandag ‘n suksesvolle algemene praktisyn maar dit het gekos. Anderskleurige studente wat maklik toelating gekry het het almal langs die pad gesneuwel. GEEN blanke politikus het daardie tyd sy mond oopgemaak oor hierdie wanpraktyke nie. VF+ se mense het my nog nooit beïndruk nie.

Elmien ·

Die regering is kommunisties. Hulle het heeltemal te veel sê ooral.

Marthi ·

Ons was by die Modeskou van die Beoordeling van die 10 finaliste vir die Young Designers Emporium. Net 2 Wit Ontwerpers en 23 Ander. Almal is van die Universiteite. WAT sè dit vir ons? Beurse net vir sekeres!

Pieter Swart ·

Grassie, gaan besoek gerus die VF Plus se facebookblad. Kyk wat hulle elke dag vir alle minderhede, en in besonder die Afrikaner doen in die parlement. Kyk en luister gerus na hul toesprake in die parlement. Ek glo jy sal aangenaam verras wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.