ANC-regime in Den Haag se politieke sentrum bespreek

Dr. Heinrich Matthee (links), dr. Ineke van Kessel en prof. Koos Malan (regs).

Dr. Heinrich Matthee (links), dr. Ineke van Kessel en prof. Koos Malan (regs).

Europese sakelui moet voorberei vir groter politieke risiko’s in Suid-Afrika in die volgende vyf jaar.

Daar is ook ‘n reuse verandering in die wyse waarop internasionale media oor die ANC berig teenoor twintig jaar gelede. Dit word opgesom in die Britse Economist-blad se oproep voor die verkiesing in Mei 2014: “Tyd om ontslae te raak van Mandela se party”.

Dit is die bevinding van ʼn verslag wat deur dr. Heinrich Matthee, ‘n politieke ontleder vir internasionale bedrywe en lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, opgestel is vir SA Monitor. Die verslag is op 10 Desember 2014, Internasionale Menseregtedag, vrygestel in Nieuwspoort-Mediasentrum by die Nederlandse Parlement.

SA Monitor is ‘n stigting wat die stand van burgerregte en minderheidsregte in Suid-Afrika monitor en onder die aandag van Europese politici, amptenare en joernaliste bring. Die byeenkoms is deur Nederlandse parlementslede, diplomate, sakelui en ander belangstellendes bygewoon.

Die verslag het bevind dat Suid-Afrika onder pres. Jacob Zuma van ‘n gebrekkige demokrasie tot ‘n hibriede regime met ondergeskikte demokratiese kragte beweeg het. Die drama in die parlement in November en pres. Zuma se ondeursigtige kerntransaksie met Rusland is bloot die nuutste seine hieroor.

Die politieke sentrum is nie meer die parlement en verkiesings nie, maar ‘n magsveld van wisselwerking tussen nie-demokratiese en demokratiese kragte. Die nie-demokratiese kragte sluit ‘n onaanspreeklike presidensialisme, en die ANC se kaping van instellings in die eenparty-dominante staat.

Sekurokrate beveilig die hooffaksies in die ANC. Die veiligheidsmagte raak gepolitiseer en honderde proteste vorm deel van politiek buite die parlement.

Soos prof. Raymond Suttner daarby opmerk, politieke sluipmoorde het nou ‘n aanvaarde manier geword waarop plaaslike politieke stryde binne die ANC beslis word. Pas is weer ‘n komplot onthul om ‘n kabinetslid in Noordwes te vermoor.

Die ANC gebruik ook staatsdiensposte, kontrakte aan ondersteuners en pro-ANC kapitaliste om sy greep te verstewig. Verkiesings vind plaas, maar die verkiesingsspeelveld is vooraf reeds ongelyk gemaak.

Groot staatskuld, korrupsie en die ANC se interne befondsingsprobleme vuur nou faksiestryde aan. Die ANC het die staat “opgeëet” en soek vinnig nuwe bronne van inkomste. Meer belastings en nuwe sakelisensievoorwaardes is waarskynlik.

Dit is nie verrassend dat prominente sakeleiers van Invicta tot Remgro privaat en in die openbaar hul kommer uitspreek nie. Eiendomsreg in sektore soos die landbou, energie, minerale, farmaseutika staan weens ANC-planne ook onder druk. ANC-faksies sal deur die staat en soms deur privatisering hul toegang tot hulpbronne probeer verhoog.

Die ANC se afhanklikheid van internasionale ondersteuners soos Rusland en China sal toeneem. Dit was heel simbolies dat Zuma op die eerste herdenking van Mandela se sterfdag in China verkeer, en dat China die ANC-leierskapskool by Venterskroon help oprig.

Selfs Duitsland, die magtigste staat in Europa, het dit in November agtergekom. Die Duitse minister van buitelandse sake is tydens sy besoek nie deur belangrike ANC-mense ontvang nie en slordig behandel. Die verhoudings tussen Zuma en die Britse premier David Cameron is ook tans ysig.
Suid-Afrika bly ‘n mooi land met sakekanse. Weens die ANC se hibriede regime, sal die risiko’s vir sommige Europese sakelui egter te hoog raak, en is sakekanse elders aantreklik.

Prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria, en dr. Ineke van Kessel, ‘n UDF-kenner van die Afrika-Studiesentrum in Leiden, Nederland, het die verslag bespreek. Prof. Malan het genoem dat die ANC baie agterdogtig is oor enige opposisie en dit as ‘n bedreiging beskou.

Die ANC is geneig om nie sake te verbeter waar dit wanfunksioneer, byvoorbeeld munisipale dienste en veiligheid, nie. Die ANC fokus volgens Malan sy aandag daarop om daardie gebiede wat goed werk, soos die privaatsektor, sportspanne en Afrikaanse skole en universiteite, te beheer.

Dr. Van Kessel het aangevoer dat die ANC eerder ‘n regering is wat dilemmas moet hanteer, maar dat sy saamstem oor die kommerwekkende druk op die media en regbank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dewald ·

Uiteindelik het iemand wakker geskrik! Hulle noem nie eers die uitermatige moord syfers in die land nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.