ANC sê dalk dán oor nuwe president

dlamini-zuma-mantashe-en-nuk-by-anc-konferensie-2017

Lede van die ANC se NUK op neem ’n toer Donderdag deur die Nasrec-sentrum voor die party se nasionale konferensie afskop. Foto: @MyANC/Twitter

Suid-Afrika kan dalk reeds so vroeg as Sondagoggend weet wie verkies is om die leisels van die ANC by pres. Jacob Zuma oor te neem.

Volgens Zizi Kodwa, die party se woordvoerder, sal afgevaardigdes reeds Saterdagoggend vir die ses top-leierskapposisies stem en die uitslag sal dan Sondagoggend bekendgemaak word.

Met minder as 24 uur voordat die 54ste nasionale leierskapkonferensie van die ANC amptelik begin is die Nasrec-eksposentrum reeds ʼn miernes van bedrywighede soos afgevaardigdes en die media vir die geleentheid aanmeld.

In dié stadium word die party se leierskapstryd steeds as kop-aan-kop beskryf met adj.pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ANC-LP en uitgetrede hoof van die Afrika-Unie, as die voorlopers.

Ramaphosa het die steun van 1 859 takke ontvang en Dlamini-Zuma is 1 330 takke se voorkeurkandidaat. In Mpumalanga het die meeste takke vir “eenheid” van die ANC gestem en nie vir een van die voorkeurkandidate nie.

“Sondagoggend sal ons ʼn aankondiging maak oor die top-ses en die benoemings vir die res van die leierskap. Hierdie item op die agenda moet so vinnig as moontlik afgehandel word sodat ons emosies en die hartsake waarmee afgevaardigdes na die konferensie gekom het, kan hanteer,” het Kodwa gesê.

Kodwa het gewaarsku die ANC sal streng dissipline van al sy afgevaardigdes by die konferensie vereis. “Ons sal nie huiwer om afgevaardigdes van die konferensie te diskwalifiseer en dadelik na hulle provinsie terug te stuur nie. Ons sal nie swak dissipline by hierdie konferensie toelaat nie.”

Planne om stemproses te verander is laat vaar

Die ANC se uitgaande nasionale uitvoerende komitee (NUK) het Donderdagaand planne om die stemproses op vanjaar se konferensie te verander laat vaar.

ʼn Konsepprogram vir die konferensie het aanvanklik voorsiening gemaak vir twee afsonderlike stemrondtes. In die eerste sessie sou daar vir die president van die ANC gestem word, asook die poste van die partyvoorsitter, sekretaris-generaal en tesourier-generaal. Nadat die uitslae verklaar is, sou ʼn tweede rondte van stemme plaasvind waarin daar vir die adjunkpresident en adjunk-sekretarisgeneraal gestem sou word, maar dié plan is nou heeltemal van die tafel afgevee.

Sekere ANC-lede het die verandering voorgestel om te verhoed dat afgevaardigdes stem vir ʼn voorafbepaalde lys van kandidate vir die top-posisies in die party. Dit sou ook vir sommige van die kandidate aan die verloorkant die kans gegun het om in die top-leierskap ingesluit te word, in plaas van een faksie wat al die posisies opneem.

Sihle Zikalala, voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal, het gesê die NUK het besluit die logistiek van die twee stemrondtes sal te uitdagend wees.

Dit beteken dat daar nou geen kans is dat die een van die voorlopers vir die presidensiële kandidaat van die party wat verloor, nou van die vloer benoem kan word vir die pos van adjunkpresident nie.

Voor die stemmery Saterdagoggend kan plaasvind, sal afgevaardigdes eers moet besluit oor voorstelle om die leierskap van die ANC uit te brei deur twee adjunkpresidente en twee adjunk-sekretarisse-generaal aan te wys en die aantal bykomende NUK-lede van 80 tot 60 te verminder.

Ramaphosa en Sisulu staan nou saam

Ramaphosa en Lindiwe Sisulu het intussen ʼn gesamentlike verklaring Donderdagaand uitgereik waarin hulle gesê het dat Ramaphosa sal staan as presidentskandidaat van die ANC en Sisulu stel haarself as adjunkpresident verkiesbaar.

Sisulu was saam met Ramaphosa een van sewe kandidate wat om die ANC se leierskappos meegeding het. Sy is deur die meerderheid takke in vier provinsies – die Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo en die Noord-Kaap – as adjunkpresident benoem.

Die twee kandidate het in die verklaring gesê hulle het oorweldigende steun van verskillende belanghebbendes, asook die ANC-veterane gekry en hulle het die verskillende ANC-takke se insae in ag geneem toe die besluit gemaak is.

Ramaphosa het egter vroeër Naledi Pandor as sy gunsteling kandidaat vir die adjunkpresidentpos uitgewys. Kenners en politieke ontleders het dit aanvanklik as ʼn vreemde skuif gesien, maar reken Ramaphosa het dit gedoen om vir homself meer bedingingsmag te gee. Hulle is nie seker waar dit Pandor in die proses laat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.