Die ANC sê die bedanking van Jabu Mabuza, Eskom se raadsvoorsitter, is ʼn “lofwaardige demonstrasie van verantwoordbaarheid”.
“Die bou van ʼn etiese ontwikkelingstaat plaas ʼn verantwoordelikheid op diegene wat verantwoordelik is vir staatsinstellings om te verseker dat die openbare belang voorrang bo enigiets anders geniet,” het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, gesê.
Mabuza het laat Vrydag bedank.
In sy bedankingsbrief vra hy om verskoning vir Eskom se onvermoë om die belofte wat hy op 11 Desember verlede jaar aan pres. Cyril Ramaphosa, adj.pres. David Mabuza en verskeie ministers by ʼn vergadering gemaak het, na te kom. Mabuza het beloof dat beurtkrag eers ná 13 Januarie weer ingestel gaan word.
Beurtkrag is egter sommer al in die eerste naweek van die nuwe jaar in werking gestel en die adjunkpresident het die afgelope week gesê Eskom het Ramaphosa oor die situasie mislei.
Die ANC sê hy neem kennis van Mabuza se rede – dat hy nie sy belofte gestand gedoen het nie – vir sy bedanking.
“As ons die krisis by Eskom wil pak en oorkom, moet die raad versterk word met hernieude ywer om Eskom se omkeerstrategie in werking te stel,” het Mabe gesê.
“Eskom speel ʼn kritiek noodsaaklike en strategiese rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie en dit is belangrik dat daar as ʼn saak van dringendheid bestendigheid in die Eskom-raad kom. Energiesekerheid is die grootste enkele bedreiging vir ekonomiese groei en vereis dringende en beslissende optrede.”
Mabe het gesê die ANC bevestig weer – soos vervat in die resolusies van sy 54ste Nasionale Konferensie – dat die land se staatsinstellings die drywers van ontwikkeling en sosio-ekonomiese transformasie is en versterk moet word om dié belangrike ontwikkelingsrol te vervul.
“In die resolusies neem ons kennis dat streng optrede nodig is om die bestuur en prestasie van staatsbeheerde ondernemings te verbeter deur te verseker vaardige personeel en gekwalifiseerde raadslede word aangestel. Hulle moet ook teen onbehoorlike inmenging beskerm word.”
Mabe het gesê die ANC weet dat Jabu Mabuza die leisels by Eskom op ʼn “uiters moeilike tyd” oorgeneem het en wel sy werk na die beste van sy vermoë gedoen het.
Ramaphosa het Vrydagaand gesê ʼn nuwe voorsitter vir Eskom sal binnekort aangestel word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
18 Kommentare
Nou wil hulle begin loop want daar is nie meer geld daar om te plunder nie.
Gee hom sy R20m pakket laat hy gaan!
47 000 ÷ 4 sal nog meer lof ontvang. Traai dit.
Wanneer val Gordhan op sy swaard? Daar was probleem by SARS met hom, daar is ekonomiese probleme na hy Min van Finansies was, daar is probleme in sy huidige posisie… Daar was Guptha vrae..
Die ANC kan nog meer ” lofwaartdig” wees as alle ANC amptenare wat onbekwaam is bedank…O gaats! Dan gaan daar van die President tot by diue raadslede in munisipaliteite nie ‘n enkelele siel oorbly nie!