ANC se PPA-nuus is bog, sê Eskom

Skermskoot van die oorspronklike verklaring deur die ANC Groter Johannesburg-streek

Die ANC in die Groter Johannesburg-streek het in ʼn verklaring Stad Johannesburg se ANC-geleide burgemeester geloof dat hy ʼn kragaankope-ooreenkoms (PPA) met Eskom onderteken het. Eskom sê dié nuus is vals.

Dada Morero, sekretaris van die ANC in die streek, het gesê Johannesburg se uitvoerende burgemeester, Mpho Moerane, het ʼn kragaankope-ooreenkoms met Eskom onderteken wat die stad in staat sal stel om Eskom-buurte oor te skakel na City Power.

“Gemeenskappe van Soweto, Orange Farm, Ivory Park en ander Eskom-buurte is al lank aan die ontvangkant van onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening. Dit het ʼn negatiewe impak op dienslewering in Stad Johannesburg. Die ooreenkoms verseker dat elektrisiteit, wat in grootmaat by Eskom aangekoop word, die stad se elektrisiteitsverspreider, City Power, in staat kan stel om veilige en betroubare verspreiding van elektrisiteit aan die inwoners van Johannesburg kan verskaf,” het Morero in die verklaring gesê.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom se woordvoerder, sê egter dié nuus is vals. “Eskom het slegs ʼn memorandum van verstandhouding onderteken oor hoe die voorgestelde oordrag moontlik gaan werk. Die munisipaliteit moet nog eers die omsigtigheidsondersoek doen om te bevestig dat dit wat ons vir hulle voorgestel het, aanvaarbaar sal wees,” sê Mantshantsha.

“Hulle is besig om transaksie-adviseurs aan te stel om hulle by te staan om die sakemotivering te ontwikkel.”

Hy benadruk enige moontlike transaksie is nog jare van afgehandel wees – indien dit ooit sou gebeur.

“Daar is skuld wat deur die verbruikers aan Eskom betaal moet word. Daar is infrastruktuur wat Stad Johannesburg by Eskom moet aankoop. Daar is infrastruktuur wat nog geïmplementeer moet word deur wie ook al die elektrisiteit gaan versprei. Bowendien moet die tesourie, die departement van energie, die departement van minerale hulpbronne en energie, die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake ook eers hul goedkeuring gee.”

Mantshantsha sê die betrokke verbruikers sal volgens die wet ook eers hul kommentaar moet lewer in ʼn Nersa-openbaredeelnameproses.

Morero het egter later dieselfde verklaring uitgereik en dié keer gesê die kragaankope-ooreenkoms is met die privaat Kelvin-kragstasie aangegaan, nie Eskom nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Werner ·

Eskom is so in die drein af.Dat ons een van die dae almal sonder krag sit.

Samuel ·

Lieg en bedrieg is tog aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Boonop is dit verkiesingstyd en kyk politieke partye wie die beste kan lieg.

Johann ·

En jy verduidelik iets SO gekompliseerd aan die massas hoe? Al wat die ongeskoolde navolgers hoor is “forniet lektieks”!

Jack ·

Eskom weet seker nog nie daarvan nie. Die minister van kragbote het klaar gese dis ok.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.