ANC se ‘skulderkenning’ nie voldoende – DA, VF Plus, AfriForum

Die ANC-afvaardiging het glo ‘n saamrygeleentheid saam met die minister gekry. (Foto: Tawanda Mudimu/The Herald)

AfriForum, die VF Plus en DA sê die ANC se aankondiging dat hy die geld gaan terugbetaal wat die lugmag bestee het om ʼn afvaardiging van die regerende party na Zimbabwe te karwei, is basies ʼn erkenning dat die ANC nasionale bates misbruik het. AfriForum en die twee partye eis ook dat die skuldiges volle verantwoording moet doen.

Die ANC het Dinsdag aangekondig dat hy onderneem om die koste vir die lugmagvlug waarop verskeie ANC-amptenare verlede week na Zimbabwe gereis het, terug te betaal. Die afvaardiging is na Harare om met Zanu-PF te vergader.

Soos vroeër berig was die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, haar eweknie by maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, asook ANC-lede Tony Yengeni en Enoch Godongwana, op dié vlug.

Nadat dit geblyk het dat die belastingbetaler moes opdok vir die ANC se partypolitieke reis, het Mapisa-Nqakula gesê die ANC-afvaardiging het bloot ʼn saamrygeleentheid saam met haar – wat op ʼn staatsbesoek aan Zimbabwe was – gekry.

Pres. Cyril Ramaphosa het egter beveel dat Mapisa-Nqakula ʼn verslag oor die omstrede vlug aan hom voorlê.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê die DA gaan ʼn klag by die parlement se etiekkomitee teen die Mapisa-Nqakula indien. Die opposisie party voer aan Ramaphosa het nou geen ander opsie as om Mapisa-Nqakula as minister van verdediging af te dank nie.

“Dit is nou duidelik dat Mapisa-Nqakula die ANC-afvaardiging opsetlik toegelaat het om staatsbronne te misbruik vir die politieke doel van haar party. Dit was ʼn growwe skending van haar ampseed, pligsversuim en ʼn totale miskenning van etiese standaarde. Sy moet eenvoudig gaan,” sê Marais.

Volgens Marais het die ANC nie net erken dat hy staatshulpbronne misbruik het nie, maar ook aangedui dat die party die regering “sal vergoed vir die koste wat namens [sy] afvaardiging aangegaan is”.

Die DA vra dat ʼn paneel lugvaartkenners aangestel word om die volle koste van die ANC se reis na Zimbabwe te bepaal, insluitend die slytasie aan die vliegtuig en gepaardgaande koste. Marais sê hierdie inligting moet aan die ouditeur-generaal (OG) voorgelê word vir volledige ondervraging teen departementele uitgawes vir die ANC-vlug.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, bepaal die Wet op Verdediging dat bates wat aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) behoort slegs in uitsonderlike gevalle gebruik mag word vir ander doeleindes as die beskerming van die land. Dié gevalle moet aan sekere voorwaardes voldoen.

“Eerstens moet die gebruik van die bates in openbare belang wees. Tweedens moet die minister van verdediging die gebruik van hierdie bates goedkeur in oorleg met die minister van finansies,” sê Taute.

“Die feit dat die ANC nou wil betaal vir die gebruik van die lugmag se bates, beteken nie dat dit hulle vrywaar van die oortreding van die Verdedigingswet nie.”

Taute sê AfriForum wil weet hoe die Mapisa-Nqakula kan regverdig dat hierdie reis op ’n lugmagvliegtuig enigsins in openbare belang was en verwag steeds antwoorde of die regte kanale gevolg is.

“Magashule se aankondiging dat die ANC vir die vlug gaan betaal, spreek egter boekdele.”

AfriForum het verlede week aangedui dat hy regstappe sal neem, sou dit aan die lig kom dat staatsbates onregmatig deur die ANC gebruik is. Die organisasie het aan dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Mapisa-Nqakula en Tito Mboweni, minister van finansies, geskryf vir ’n verduideliking of die lugmagvliegtuig regmatig gebruik is. ’n Klag is ook by die Openbare Beskermer ingedien.

Luidens ʼn verklaring van die VF Plus versoek Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, ook ʼn volledig gespesifiseerde rekening oor die vlug om te bepaal of alle koste vir die afvaardiging se reis wel betaal gaan word. Geskrewe parlementêre vrae oor die koste van die vlug is reeds aan Mapisa-Nqakula gerig.

Verder sê Marais benewens die koste-aspek is daar nog geen duidelikheid of die minister van vervoer, Fikile Mbalula, die afvaardiging se reis oor die grens volgens die vlak 2-toesluitregulasies goedgekeur het nie. Hy het ook vroeër gesê dit is duidelik dat die ANC-afvaardiging verskeie afsonderingsmaatreëls verbreek het, dat daar geen sosiale afstandhandhawing was nie en ook geen toestemming om die land te verlaat nie.

Die DA het gesê ingevolge die Wet op Verdediging kan burgerlikes net toegelaat word om oorsee te reis ná konsultasie met die minister van finansies, Tito Mboweni.

Groenewald voeg by dat die afsonderingsmaatreëls rakende kwarantyn ook in die proses oortree is. Die VF Plus het ook in dié verband ’n vraag gerig aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, om vas te stel of die lede van die afvaardiging vooraf toestemming vir die reis verkry het.

“Die ANC is nie verhewe bo die reg om eers al die reëls te wil oortree en wanneer hy uitgevang word, hoogheilig te verklaar hy sal regmaak nie. Wanneer die wet oortree word, moet daar gevolge en vervolging wees, ook vir die ampsdraers van die ANC,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DieKriek ·

Die ANC gaan die geld terugbetaal? Met ons belasting geld; wat help dit? Nou betaal ons twee keer.

Persheks Adri ·

Fire die hele lot! Kom Cyril ons wag in spanning

#Tsek ANC tsek!

Kobus ·

CR het nie ruggraat om haar te fire nie. As ek reg onthou het die agbare minister ook n tyd terug gereël dat n familie lid uit die DRK n gratis vlug na SA in n militêre vliegtuig gehaal het.Hier gaan dadels van kom

Louwrens ·

Wat is die protokolle wanneer ‘n militêre vliegtuig van een land n anderland se lugruim binne dring. Wir reël dienodigevergunnings?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.