ANC se voorstelle oor landbou ‘dra nie by tot bedryf’

Onteiening sonder vergoeding is een voorbeeld van ANC-beleid wat misluk het nadat die regerende party dit in die parlement probeer deurvoer het. (Argieffoto: Jo Raubenheimer)

Die ANC wil transformasie, infrastruktuur en dienslewering in die landbousektor prioritiseer.

Die party sê in sy besprekingsdokument oor die ekonomie wat pas bekend gemaak is, die landboubedryf het die vermoë om talle arm Suid-Afrikaners deur verhoogde voedselproduksie, lewendige ekonomiese bedrywighede en werkskepping op te hef.

Die dokument lui voorts dat verskeie bepalings nodig is om transformasie en groei in die landboubedryf te steun.

Ten minste een kenner meen egter dié voorstelle sal weinig doen om uitdagings in die landbousektor aan te spreek en groei te bevorder nie.

Dít wil die ANC prioritiseer:

  • Bestendige en bevorderlike beleid en beleggingsomgewing;
  • omvattende, voldoende infrastruktuur wat goed in standgehou word, wat krag, water, paaie, spoorlyne en hawens insluit;
  • plaaslike munisipaliteite wat goed funksioneer en betroubare dienste lewer;
  • doeltreffende steun vir boere, sowel as administratiewe steun en uitgebreide toegang tot finansiering en
  • staatsdienste soos veeartsenydienste, landbounavorsing, bio-veiligheidsmaatreëls, handelsonderhandelinge en steun.

Verskeie maniere om grondhervorming te versnel word ook in die dokument uitgestippel. Dit sluit in die skep en bestuur van maniere om erkenning te gee aan boere wat grond skenk of geldelike en ander steun aan begunstigde boere gee, asook ontwikkelingsprogramme om nuwe boere te help om toegang tot markte te kry en vaardighede oor die ganse landbouwaardeketting te ontwikkel.

Fanie Brink, ʼn onafhanklike landbouekonoom, sê die ANC volg steeds “dieselfde vernietigende sosialistiese benadering wat reeds gefaal het sonder om die gevolge vir die landbou en die ekonomie in ag te neem”.

Volgens hom is dié benadering nie daarop gemik om die doelwitte van die landboubedryf vir die finansiële oorlewing van produsente, die voorsiening van voedselsekerheid vir die land en die bedryf se bydra tot ekonomiese groei te bereik nie.

“Die ANC verstaan nie eers wat dit behels nie, maar hy is goed daarmee om met groot woorde te speel wat niks sal bereik nie,” sê Brink.

“‘Inklusiewe groei’ is niks anders nie as ʼn politieke slagspreuk wat geen verband het met enige ekonomiese doelwitte nie en daarom niks beteken nie – soos reeds oor en oor baie duidelik bewys is.”

Die politieke ontleder Roland Henwood sê daar moet in gedagte gehou word dat nie alles wat in die besprekingsdokument bevat word, eindelik in beleid omskep sal word nie. En selfs al word dit as ANC-beleid aanvaar, word dit nie noodwendig as wetgewing deurgevoer nie.

Onteiening sonder vergoeding is een voorbeeld van ANC-beleid wat misluk het nadat die regerende party dit in die parlement probeer deurvoer het. “Ons kom uit ʼn geskiedenis waar ons dink as ons oor iets gepraat het, gaan dit gebeur. Dit werk nie so in Suid-Afrika nie,” sê Henwood.

Hernuwing van ANC-strukture

Maroela Media het Dinsdag berig oor die voorwoord van die ANC se beleidsdokument wat verwys na “enorme uitdagings wat die party as beweging in die gesig staar”.

Pres. Cyril Ramaphosa sê dit kan gesien word in die “afname in steun in die 2021- plaaslike verkiesing”, wat ʼn weerspieëling is van die “dalende vlak van vertroue en geloofwaardigheid in ons as leierskap en kaders”.

Om hierdie negatiewe kwessies teen te werk, moet die ANC sy pogings verskerp met ʼn hernuwing- en herlewingsproses van ANC-strukture.

“Ons moet bankvas staan op die reis van hernuwing terwyl ons die verraderlike water, op pad na die 2024-verkiesing, navigeer,” sê Ramaphosa.

Volgens hom moet daar gefokus word op die verbetering van mense se lewensgehalte, eerder as op ʼn dikwels eng, interne partyfokus. Ramaphosa verwys ook na die “profetiese” woorde van OR Tambo waarin hy waarsku dat diegene wat dink dit is moeilik om ʼn vryheidstryd te voer, moet wag tot hulle in beheer is. “In daardie stadium sal jy besef dit is moeiliker om die mag te behou as om ʼn vryheidstryd te voer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Ian ·

Kom ons begin by sommer met as hulle ernstig was oor herlewing was almal wat korrup is verhoor en deur die straf regs proses hanteer. Ministers soos bv Cele, Mantashe, Sisulu, Nathi, Zulu, Blade, Toko, Pandor wat n ernstige probleem is vir die land sou alreeds vervang gewees het met kundige mense.
Almal weet teen die tyd dat Cyril lieg so ver hy gaan en nogsteeds haat verkondig teen witmense. Dit saai net verdeeldheid. Die Agenda van die ANC is duidelik en vir die bestaande kaders wat uit die apartheid era af kom soos bo genoem is dit glad nie moontlik om herlewing in te blaas nie want hulle ideologie is kommunisme en sosialisme. Dit is wat die land so erg kniehalter.

Boatsie ·

My liewe aarde mense.
Wat rook die ouens.
Dis die basiese goed wat instand gehou en gedoen moes word toe hul bewind oorgeneem het.
Ons almal weet wat het gebeur.
En hierdie is probeerslag nommer hoeveel????

Waarnemer ·

Die anc en sy gebroedsels sal eers moet ophou om plaas moorde te pleeg voor daar bestendigheid en voedsel versekering kan kom.Hulle vermoor die boere maar wil steeds kos op hul tafels he…..sorry…geen boere beteken geen pap of melk op die tafels nie.

Lillian ·

Als net ‘n pot snot.
In 27 jaar kon hierdie sogenaamde regering nog niks suksesvol afhandel nie. maar die dag wanneer daar nie meer een elke kommersiële boer in hierdie land oor is nie, en al wat hul en hul tjommies het om te eet is hul geld, dan is dit te laat vir omdraai en probeer regmaak wat hul so verbrou het.

Frederik C ·

Die ANC is te onbevoeg om net ‘n pothole reg te maak. Intussen kruip die land al nader aan nog ‘n Zimbabwe.

annie ·

Cyril verwys sekerlik na sy eie stryd om die hoofkadder te bly in die ANC-nes. Nêrens in Afrika, nie eens in Egipte, kon, wou of wil regerings met eerbare selfwerksaamheid iets opbou nie. Misbruik, oneerlikheid, leuens en wanbestuur stu deur die eeue voort. G’n boer kan met massa-oorproduksie handelaars of verbruikers dwing om sy prys te betaal vir sy produkte nie. Maar SA plant burgers dat dit klap en probeer dié wet afdwing. Probeer eers om sy son om die aarde te laat wentel.

Jaco ·

Gaan onteiening sonder vergoeding net oor landbougrond, of is stedelike grond ook ingesluit? Ek besit 2 huise, so 25km van mekaar af. Gaan net 1 onteien word, met die rede “dis onregverdig dat jy 2 het terwyl ander niks het”, of gaan albei onteien word met die rede “jy is wit en moet vir apartheid gestraf word”.
Niemand kan my antwoord nie en eks te bang om die ANC direk te vra, want dan sit hulle my bo an die lys vir die dag wanneer onteiening sonder vergoeding finaal begin.

Marius ·

Alles op die anc se prioriteits lys was alreeds daar en in uitstekende werkende toestand, maar hul is ook die mense wat alles vernietig het tot so ‘n mate dat niks meer werk nie. En dan wil ek net weet jeens hul houding teen die boere wie gaan boer ? Al wat hul het is leë hande en niemand wat kan of wil boer nie.

Burgermeester ·

Luister die ANC ooit na hulself as hulle iets kwyt raak? As hulle terug kyk na hulle eie handewerk, sal hulle duidelik sien dat ‘transformasie’ nie werk nie!

JohanR ·

Nog ANC verwoesting! Watter kaders is op besluit om hierie keer die groot geld te kry?

Wondermaarnet ·

Hulle kan nie boer nie! Hoe verwag jy om ‘n paar saadjies te strooi, agteroor te sit en vir 10 jaar te oes? Hulle kan nie boer nie!!!

Nie Verbaas ·

Die enigste voorstelle wat ANC kan maak is hoe om korrup te wees, te vernietig en diefstal te pleeg. Integriteit bestaan nie in ANC woordeskat nie en ruggraatlose Ramaphosa blabber net voort. Hy is die meester van leuens.

henndrik ·

die ANC weet van mooi woorde en hulle kiesers reken dit is goed omdat hulle nie die gevolge verstaan nie.

TC ·

Tonnel visie dis wat hulle het. Al vir 27 jaar breek hulle af en nou wil hulle ons boere se land ook vernietig soos Zimbabwe . Mensig is hier geen einde aan hulle slim stories…

domheks ·

Ou oom cyril geen wonder jou mense verwys na jou as ‘n agent en nie ‘n leier nie – engelse koerante.

Andrew ·

“Plaaslike munisipaliteite wat goed funksioneer en betroubare dienste lewer”. mmm, almal is al onder administrasie so nie seker waar jy die ponde gaan kry nie.

Andrew ·

begin by die afdank van die hele limpopo munisipale bestuur op elke potfolio in elke streek. Doen niks vir ses maande en kyk hoeveel geld julle gespaar het.

Herman ·

Hulle kan ie eers al die dienste in n klein dorpie laat werk nie. Hahaha.

Blikkies ·

Dankie Mr. Brink, jy slaan die spyker op die kop. Hulle kon tot nou toe, na 27 jaar nog nie eers punt 1 tot 5 regkry nie? Wat gaan nou verander. As die res van die volk maar net kan besef dat sosialisme en kommunistiese grond en landbou beleid reg oor die wereld misluk en nie werkbaar is nie. Tensy die res van die volk ook aan daardie waansin ly. Dit klink reg as jy sê hulle speel met woorde wat hulle nie verstaan nie. En nie ‘n enkele een van die raadgewers het enige opleiding, kwalifikasies of selfs ondervinding van landbou nie. Laat die Blindes asb sien.

MakersMark ·

Al bydrae wat die ANC kan maak tot landbou is met ‘n pik en graaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.