ANC se voorstelle vir regulering van partybefondsing

Dakota Legoete. Foto: ANC

Die laaste dag van voorleggings aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het vanoggend begin met ʼn voorlegging deur die ANC.

Die regerende party is deur ’n hele paneel verteenwoordig en die nasionale woordvoerder, Dakota Legoete, het begin deur te verduidelik dat die party 4 700 takke en omtrent ’n miljoen lede het.

Elke tak het minstens een bankrekening, so die administrasie is omvattend.

Namens die ANC het Febe Potgieter gesê die ANC ontvang meestal klein donasies – honderde duisende daarvan – of skenkings soos lede wat toebroodjies maak of hul petrol bydra as hul motors gebruik word.

Sy het bygevoeg dat die nuwe wetgewing reeds ’n dempende uitwerking op donasies het omdat donateurs bekommerd is dat hulle daardeur een of ander wet gaan oortree.

Boonop gaan die nuwe wetgewing geen steun deur provinsiale regerings aan politieke partye toelaat nie.

Andries Nel het namens die party voortgegaan met die aandrang dat die regulasies deurdag, realisties en uitvoerbaar moet wees.

In ’n belangrike verwikkeling het die ANC dieselfde waarskuwing gerig as wat die DA gister gerig het – dat die regulasies nie die bedoeling van die wetskrywers moet oorskry nie.

Die wetgewing moet voorts implementeerbaar wees, anders gaan die hele proses ondermyn word, en moet die vermoëns van sowel die OVK as die politieke partye in ag neem.

Daarom moet die regulasies nie te kompleks wees nie, en nie oorhaastig geïmplementeer word nie. Deurlopende insette van politieke partye is nodig.

Die ANC meen politieke partye gaan meer geldelike steun uit die staatskas benodig, met belastingvoordele vir bydraes tot die veelparty-demokrasiefonds.

Voorts ondersteun die ANC slegs die rapportering van skenkings bo R100 000, een keer elke drie maande, en dat dit nie te moeilik gemaak moet word vir donateurs om donasies aan politieke partye te maak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

hahahahahahah – Wie glo julle???????????

Hans

So, dan word deursigtigheid by die agterdeur uit gegooi!!! Net bo R100 000!!?? Dan word die skenking “opgebreek”…byv 10 maal R100k!!!!
Los die agterdeur waewyd oop!!!!

Arak

Tog opvallend dat die DA en ANC so saamstem oor die “skenkings”. Laat Jan publiek net nie uitvind wie werklik die land bestuur nie.

Ekke

As jy politiek wil bedryf doen dit met jou eie geld en betaal vir jou eie gemors, hoekom word dit enigsins toegelaat maar is mos n Internasionale trend en ook die voorloper vir die groot korrupsie en bevoordeling wanneer MENEER of MEVROU in die parlement sit, dan kom die GUNSIES by die biljoene se belastinggeld wat ek en jy voor werk, alle politiek is korrup en ek is seker n kand kan funksioneer sonder die parasiete.