ANC se ‘werkloosheidbloedbad’ duur voort

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die DA meen die “werkloosheidbloedbad” wat oral voortduur waar die ANC aan bewind is, is ʼn oortuigende rede om oor twee weke dié party uit te stem.

“Terwyl werkloosheid op kommerwekkende vlakke bly in ANC-provinsies, is dit steeds in die DA-geleide Wes-Kaap dat Suid-Afrikaners die beste kans het om ʼn werk te kry,” sê Michael Bagraim, die DA se skaduminister oor indiensneming en arbeid.

Maroela Media het vroeër berig Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het aangekondig dat die werkloosheidsyfer met 0,8 van ’n persentasiepunt – van 32,1% in die vierde kwartaal van 2023 tot 32,9% in die eerste kwartaal van 2024 – gestyg het.

Die werkloosheidskoers volgens die uitgebreide definisie het ook met 0,8 van ’n persentasiepunt tot 41,9% gestyg.

StatsSA het Dinsdag aangekondig dat die getal werkende persone gedurende die eerste kwartaal van 2024 met 22 000 tot 16,7 miljoen toegeneem het. Die getal werklose persone het gedurende die tydperk met 330 000 tot 8,2 miljoen toegeneem.

“Dit moet verskriklik wees vir die ANC om na dié getalle te kyk en te besef dat daar waar hulle regeer, werk en lewens vernietig word,” voeg Bagraim by.

“Ons land het ʼn verkwikte arbeidsmark nodig. Dit is net die DA wat sterk genoeg is om dit te bereik. Ons sal die arbeidsmark moderniseer deur ontslae te raak van die strukturele versperrings, wat tot die werkskrisis gelei het. ʼn DA-geleide regering sal, met ons jeug-indiensnemingsgeleentheidsertifikaat (YEOC) die land omskep in ʼn ondernemende ekonomie waar jongmense werklik ervaring kan opdoen en klein ondernemings hul deure kan oopmaak om mense aan te stel.”

Bagraim sê die party het in die Wes-Kaap gewys wat hy kan doen, “selfs met die ANC wat teen ons werk”. “Deur sinvolle, bewese beleide, bly die Wes-Kaap Suid-Afrika se werksmasjien.”

Die provinsiale werkloosheidskoers staan op 21,4% – ʼn afname van 0,2% in vergelyking met die eerste kwartaal van 2023. “Dit is ʼn getuienis van premier Alan Winde se Growth for Jobs (J4G)-strategie wat oor die volgende paar jaar honderdduisende poste gaan skep. Premier Winde het bewys wat behaal kan word. Die DA staan gereed om hierdie verandering vanaf 29 Mei na die res van die land te bring.”

Werkloosheid ʼn duidelike simptoom van ʼn onbevoegde regering

Vir die VF Plus is StatsSA se term “uitgebreide werkloosheid” ʼn eufemisme om die harde werklikheid van die omvang van werkloosheid te versag. “Uitgebreide werkloosheid” sluit mense in wat reeds moed opgegee het om aktief werk te soek omdat hulle bloot nie werk in ʼn deurlopend verswakkende ekonomiese arbeidsmark kry nie.

“Daar kan dus net een werklike werkloosheidsyfer wees, en dit is die een wat aandui hoeveel mense in die land onder die ANC nie werk het nie, naamlik 42,98%,” sê Heloïse Denner, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor arbeid. “Tog spog die ANC op sy verkiesingsplakkate steeds dat daar ná dertig jaar onder sy regering ʼn ‘Beter bestaan vir almal’ sal wees indien hy aan bewind bly.”

Denner sê die ironie is dat sowat vier uit tien mense – dalk meer – vir die ANC stem omdat hulle bly vaskleef aan leë beloftes en die verskrikking van apartheid wat steeds vanuit die ANC se hangkas bly loer.

“Gewone Suid-Afrikaners moet werkloosheid sien vir wat dit is; die gevolg van ʼn regering wat onbevoeg en korrup is en sy beleid hoofsaaklik rig om mense van hom afhanklik te hou. Dit het die ekonomie vernietig.

“Die VF Plus sê jare reeds dat werkloosheid om hierdie redes net sal aanhou styg. Soos misdaad.”

Die enigste oplossing wat die ANC hiervoor het, is meer maatskaplike toelaes en onuitvoerbare beloftes soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat die illusie wil skep van wêreldklas-gesondheidsorg vir elke persoon in Suid-Afrika.

“Dit is nie moontlik nie en die waarheid is dat daar uiteindelik feitlik niks vir niemand gaan oorbly nie. Die land se totale gesondheidstelsel sal in duie stort soos Eskom en al die ander staatsentiteite waaraan die ANC geraak het.”

Daar is tans net 7 miljoen mense in die land wat belasting betaal en wat die ANC se beloftes moet finansier en 63 miljoen mense moet onderhou. Dit is nie volhoubaar nie, voeg Denner by.

“Soos die VF Plus in sy Verkiesingsmanifes 2024 duidelik uitwys is ʼn gesonde en lewenskragtige ekonomie gerugsteun deur ʼn dinamiese vryemarkstelsel die sleutel tot voorspoed en welvaart vir die land en al sy inwoners. Dit sal nooit gebeur onder die ANC nie. Suid-Afrika kan net gered word deur van die huidige regering ontslae te raak en ʼn koalisieregering in sy plek te stel wat in staat is om die land te herstel en te bou. Die VF Plus sal deel wees van hierdie regering.”

Werkloosheidskrisis is ‘rampspoedig’

Pieter Scribante, ActionSA Team FixSA-lid oor ekonomiese ontwikkeling, sê die huidige werkloosheidskrisis is rampspoedig.

“Die ANC se rampspoedige beleide, oneindige beurtkrag, korrupsie en kapitale vlug het die Suid-Afrikaanse ekonomie verwurg. Dit verhoed die ekonomie om te groei en nuwe werk te skep.”

Scribante sê tussen 2014 en 2023 het die ekonomie met ʼn skrale 0,76% per jaar gegroei. “Dit is baie swakker as ons bevolkingsgroei van 1,15% tydens dieselfde periode. Eenvoudig gestel: Onder die ANC word Suid-Afrikaners armer terwyl water, elektrisiteit en werk al hoe skaarser word.”

Hy sê werkskepping is een van ActionSA se hoogste prioriteite in die regering.

“Ons sal nuwe infrastruktuurprojekte befonds, die arbeidsmark hervorm, entrepreneurs en ondernemings ondersteun en nuwe lewe in landelike ekonomieë blaas.”

ActionSA se inklusiewe ekonomiese bemagtiging (IEE)-plan benadruk sy planne om die ekonomie te laat herleef. “Dit sluit grondverskuiwende beleidsmaatreëls in soos die geleentheidsfonds, ʼn universele basiese inkomstestimulus (Ubis) en geteikende gelyke indiensnemingsmaatreëls, tot voordeel van die hele land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Ek het ń konstruksie besigheid. Sodra ek van die werkloses vra om vir my te kom werk kry jy hulle net rondstaan en ek moet hul betaal. Dan sal hul nog vra vir sigarette ook.

annie ·

Die destydse onderhandelaars is gewaarsku oor hul ondeurdagte plan om sommer so boedel oor te gee. Die gesanik wat ons nou uit vrome monde hoor, meestal diegene is wat destyds so vrolik saam met Cyril & kie tee gedrink het, borrel nou oor. Wat het die Afrikaners van destyds toe onderhandel vir die nageslag? Boggerol? Netso! Nou wil hulle uit die verloorposisie gaan bedel. Hoe dwaas kan Afrikaners wees? Die wenners, want dit is hoe hoe hulle dit vertolk, sal niks maar niks teruggee nie. Al preek ds Eloff vir ure uit die Bybel met trane in sy ogies. De Klerk het die silwerstukke gekies en hy is moontlik dood weens skok toe hy besef watter dwaas hy was.

Grassie ·

Die ANC leer die peoples dat hulle baie regte het – reg op ‘n woonhuis, reg op elektrisiteit, reg op water, reg op mediese dienste en sommer nog ‘n horde ander regte. Hulle laat egter skromelik na om hul volgelinge mee te deel dat regte gekoppel is aan verpligtinge en verantwoordelikhede .Dit is nie alles net mahala nie. Jy is geregtig op ‘n woonhuis maar jy moet werk en geld spaar vir ‘n deposito. Jy is geregtig op water en krag maar jy moet daarvoor betaal. Die peoples verwerp betaling want hulle het mos regte. Niks in die lewe is gratis nie, as jy nie betaal nie moet iemand anders, naamlik die oorbelaste 7 miljoen belastingbetalers dit doen. Maar dit is blykbaar reg so in die oë van Afrika.

Grassie ·

Annie – jy het vuur in jou bloed. Doet so voort. Ek hou vn iemand wat sê wat gesê moet word.

Mari ·

@ Annie,
De Klerk het tot aan sy einde gesê: As ek weer moet kies om dit te doen, sal ek dit weer doen. ( om ons uit te verkoop ). Hy het baie geld gekry daarvoor.

Di ·

Die meederheid wat werkloos sit gee nie om nie, GRANTS maak hulle stil en gelukkig! ANC het net geweet hoe om hierdie menigte se monde stil te hou. Solank hulle afhanklik is van die ANC kan hulle in beheer gehou word.

Cassie Carstens ·

Die ANC het self hierdie monster geskep wat hy nie meer kan beheer nie.

OneWheel ·

“Freedom’s just another word for nothing left to loose.
Nothing ain’t worth nothing, but it’s free…”

Louis ·

Wonder of die kieser op straat of in platteland werklik verstaan dat Suid Afrika die HOOGSTE werkloosheid syfer in die wereld het(Nr 1)! Geen wonder SA het 5 de hoogste misdaadsyfer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.