ANC skok DA in Durbanse tussenverkiesing

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Vandeesweek se tussenverkiesings het ʼn skok vir die DA gebring toe die ANC die party onverwags in ʼn veilige wyk in die Durbanse woongebied Chatsworth ontsetel het.

Die tussenverkiesing het plaasgevind in wyk 71 van die Durbanse Ethekwini-metro. Die wyk sluit in Shallcross en omliggende gebiede in Chatsworth. Chatsworth het die grootste konsentrasie Indiërs ter wêreld buite Indië.

In ʼn swaai van 23% teen die DA sedert 2016 het die 26-jarige ANC kandidaat adv. Previn Vedan die wyk afgeneem deur 2 793 stemme te trek teen die DA se 2 325, Die IVP was derde met ʼn baie skaflike 623 stemme, gevolg deur die Minority Front met 124, die EFF met 120, die ACDP met 59, die Democratic Liberal Congress met 49 en Al-Jamaah met 18 stemme.

Die nuwe stadsraadslid is die jongste van die plaaslike struggle-leiersfamilie in Shallcross, die Vedans.

Beter nuus het vir die DA gekom uit Richardsbaai aan die KwaZulu-Natalse se Noordkus, wat die grootliks Afrikaanse woonbuurte Arboretum en Veldenvlei insluit. Henning de Wet (DA) het 1 211 stemme gekry teenoor 364 vir die ANC, 135 vir die IVP, 64 vir die EFF, sewe vir die ACDP en vier vir die NFP.

Dit verteenwoordig ʼn verbetering van vier persentasiepunte vir die DA vergeleke met 2016.

In die hart van Zoeloeland het ʼn tussenverkiesing plaasgevind in wyk 3 van die Mthonjaneni-munisipaliteit, wat die gebied tussen die dorp Melmoth en die plaaslike vliegveld insluit.

Daar het die IVP sy onlangse groeitrajek in die provinsie se platteland voortgesit met ʼn swaai van agt persentasiepunte teen die ANC sedert 2016. Die nuwe raadslid is Zipho Ndlovu (IVP) wat 1 081 stemme getrek het teen 607 vir die ANC en 11 vir die EFF.

Die laaste tussenverkiesing van die week was op die Hoëveld van Mpumalanga, en wel in die Mhluzi-township buite Middelburg waar die ANC met tien persentasiepunte agteruitgeboer het teen die EFF sedert 2016.

Patrick Malinga (ANC) is die nuwe stadsraadslid vir wyk 25 van die plaaslike Steve Tshwete-munisipaliteit. Malinga het 904 stemme gekry teenoor 392 vir die EFF en vier stemme vir die United Constructive Party.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Klaaswaarsegger ·

Die vorige wyksraadslid het niks vir gemeenskap gedoen nie en was vanwee nepotisme vir die posisie be noem. Om dinge erger te maak het die vakature juis ontstaan nadat sy onlangs tot LPR. bevorder is.

Koos B ·

DA watter DA hulle baklei so met mekaar hulle het skoon vergeet daar is ander partye.

PLP ·

Dit is regtig verblywend om te sien dat die EFF ten spite van al hulle lawaai en lee beloftes nie juis stemme trek nie. Ek sou dink dat dit in die ander wyke ook so sal gaan. So EFF julle is stadig maar seker besig om te verdwyn.

Jaco ·

Die DA is in vir slegte nuus volgende jaar. Mmusi het die party laat verswak, wit mense gaan nie meer vir hom stem nie.

Moenie kla nie ·

Ek is jammer die spesifieke MINORITY groepie wat daar vir die ANC gestem het moet dan ook nou nie verder kom kla oor hulle geteiken word of watter slegte diens hulle kry of hoe rassisties die swartmense teenoor hulle is nie . KRY VIR JULLE > julle is lekker tweegesig . kla vooraf en agteraf gaan stem julle ANC .. neewat ek sal julle dophou in die vervolg .. MANTELDRAAIERS.

Stephen Namibia ·

Afriforum julle moet registreer as n politieke party. Daar is baie anderskleuriges wat julle ondersteun. “Koos B” ek stem saam dat die binnegevegte in die DA die party skeur.

Peet ·

Die DA het hulself in die voet geskiet, en doen dit aan hulself. Beslis my stem verloor, nou weet ek nie eens meer of dit regtig die moeite werd is om die 4ure te ry om hier te stem in SA se verkiesing nie, geen party wat ek steun nie. Nie een wat my waardes bevorder nie.

J van Rustenburg ·

Ons sal moet begin stem vir raadslede wat werk in hulle wyk en nie net gepla is met nasionale politiek nie Blykbaar baie nuwe partye wat gaan regestreer vir die verkiesing Kan nie wag om die lys te sien nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.