ANC skors Jhb-raadslid ná korrupsie

Argieffoto

Die ANC in Johannesburg het bevestig dat hy ʼn Johannesburgse raadslid van wyk 92 in dié stad geskors het nadat die raadslid aan korrupsie skuldig bevind is.

Die Valke het vroeër dié raadslid van Kaalfontein in die Midrand-omgewing in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hy glo twee erwe, wat aan die stad behoort het, onwettig verkoop en die geld daarna in sy sak gesteek het.

Die erwe is vir altesaam R210 000 verkoop.

ʼn Tweede verdagte, wat glo ʼn verhouding met die raadslid het, is ook in hegtenis geneem.

Volgens ondersoekbeamptes is die geld vir die onwettige transaksie eers in die vrou se rekening inbetaal waarna sy die oorbetaling aan die raadslid gedoen het.

Die korrupsie het glo aan die lig gekom nadat die eerste man op die erf begin bou het en deur inwoners van die omgewing in kennis gestel is dat die erf gemeenskaplike sportterrein sou word. Die man het die erf vir R80 000 gekoop.

Die tweede koper, wat die erf vir R110 000 gekoop het, het ook ondersoek ingestel nadat sy die erf wou herverkoop.

Jolidee Matongo, ʼn woordvoerder van die ANC in Johannesburg, het gesê die raadslid het ʼn geleentheid gekry om sy saak aan die party by die ANC se integriteitskomiteevergadering voor te lê en dié komitee het bevind dat sy optrede “moreel en eties onaanvaarbaar” was.

Matongo sê die komitee het daarom besluit om die raadslid met onmiddellike inwerkingtreding te skors.

Herman Mashaba, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, sê soortgelyke gevalle van korrupsie is ook al aangemeld.

“Ek doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting oor die onwettige verkoop van erwe en HOP-huise om vorendag te kom en dit met die polisie te deel. Dié inligting sal nuttig wees vir wetstoepassingsagentskappe wat soortgelyke sake in die stad ondersoek,” het hy gesê.

Die raadslid en sy vriendin sal Woensdag in die hof verskyn waar hulle van korrupsie en bedrog aangekla sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Met groot ‘show’ wil die ANC nou die stemme van kiesers voor 2019 ‘terugkoop’. Kamma-‘etiese’ waardes gaan ingespan word om die volk te oortuig die ANC dra hul belange op die hart, maar wag net tot ANC-VIP-vriende iets onwettigs doen… dan tree ander reels inwerking.

CHRISTA ·

Jy is doodreg!! Dit is net ‘n “show” – Zuma wat R250 MILJOEN op sy privaathuis spandeer het sit nog steeds in die FRONT SEAT en intussen melk hy, sy seuns en sy vrinne ons land aan die een speentjie!!!

O aarde ·

Het die ANC ‘n verantwoordelikheidsaanval gehad? Dis mos nie beleid om korrupte kaders te skors nie. Hy moet mos eers deur ‘n hof skuldig bevind word. Kyk net na die voorbeeld van die prez en sy tjommies!

CHRISTA ·

Moenie dat dit jou beïndruk nie!! Dis net “WINDOW DRESSING”!!

Willie ·

Vang nou die klein vissies vir die “show”, van die groot visse!

Adriaan ·

Dit laat my dink aan pad tekens wat kort voor verkiesings nuut geverf word. Dis n lee gebaar.

Israel ·

ja , net vir die show , maar dit werk , die massas val daarvoor keer op keer en hulle sal aanhou om hulle gunsteling sokker span die ANC te ondersteun tot die son oor hierdie land finaal sak eendag

Frikkie (Nie pienk) ·

Die ANC se integriteitskomitee !!?? En hul president steel die land leeg ??
Ek lees ook nêrens dat Herman die betrokke munisipale amptenaar geskors of afbetaal het nie. Tog doen hy ‘n beroep op die publiek om onwettighede aan te meld.

SjN ·

Volgens die berig is hy skuldig bevind en geskors, fire die skelm en laat die gereg hom vonnis.

MM ·

Gaan seker geskors bly tot na die 2019 verskiesing met vol salaris en dan weer heraangestel word na die verkiesing – watter show speel die ANC in???????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.