ANC sleep voete met grondhervorming vir politieke gewin

Argieffoto: led.co.za

Die ANC-regering sloer doelbewus en vir eie politieke gewin met grondhervorming. ʼn Bewys hiervan is dat daar in byna 20 jaar sedert die proses begin het, steeds eise van 1998 is wat nog nie afgehandel is nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Groenewald het Vrydag met die begrotingsposdebat van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê die ANC gebruik grondhervorming as ʼn politieke speelbal.

“Dit is vir die ANC belangrik dat sy president moet rondgaan en vir die mense sê hulle kan nie grond kry nie want die witmense het dit gesteel en daarom moet dit eers onteien word sonder vergoeding. Dit is ʼn gevaarlike politieke speletjie want dit plaas voedselsekerheid en sekuriteit op die spel.

“Dit is maklik om te sê wittes besit 80% van grond in Suid-Afrika. Die minister moet sê of dit waar is.

“Ek vra reeds sedert 2004 vir ʼn oudit oor grondbesit. In 2015 het die ANC in sy eie beleidsdokumente gesê die tweede fase van die oudit sal beskikbaar wees teen September 2015. Hierdie tweede fase is baie belangrik, want dit sal die ras en geslag van grondeienaars aantoon.

“Nou is ons reeds in 2017. Waarom word dit nie bekend gemaak nie? Waarom neem dit so lank om die oudit te finaliseer? Die antwoord is dat dit die ANC pas. Die regering kan nou aan mense sê die beloftes wat oor grond gemaak is, sal nagekom word sodra die struikelblokke uit die weg geruim is.

“Die regering moet nou die grond in sy besit aan die mense gee. Tot nou toe is net een uit elke tien titelaktes van grond wat deur grondhervorming oorgedra is, aan die nuwe eienaars oorhandig. Altesaam 90% van die titelaktes is by die regering. Die staat besit die grond.

“Waarom dra die regering nie die titelaktes aan die nuwe eienaars oor nie? Dit word nie gedoen nie omdat dit die ANC se politieke agenda pas.

“Die minister het gesê hy het van Zimbabwe geleer om grond nie net te gryp nie en dat dit wettiglik gedoen sal word. Maar die ANC is tans besig om grondgryp deur die staat te wettig.

“Die regulasies wat die Waardeerder Generaal (WG) hieroor gepubliseer het, maak dit duidelik dat eienaars minder as die markwaarde, en selfs tot net die helfte daarvan, kan kry.

“Ek wil aan die mense van Suid-Afrika sê om na hierdie regulasies te kyk. Hulle moenie dink dit is net landbougrond wat ter sprake is nie. Dit raak alle eiendom in Suid-Afrika. As die nuwe Onteieningswet in plek is, gaan die regulasies van die WG op almal se eiendom van toepassing wees.

“Dit sluit ook ontroerende eiendom in. Hierdie regulasies is die rooi vlag wat vir grondeienaars sê om wakker te skrik en hul besware teen die wet in te dien,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan ·

Gerieflikheidshalwe word die derduisende hektaar ou “trust gebiede”, wat grootliks onbewerk le, ook vergeet.

snoefie ·

ai Pieter groenewald dis vir jou lekker en maklik on te sê “skrik wakker mense. en dien julle besware in.” maar jy sê nie Waar en hoe nie. jy stuur nie jou mense om na grondeienaars met petisie vorms om te teken nie. sal dit dus verkeerd wees om te sê, die vf+ wil stemme hê sonder om daarvoor te werk? gaan jy en jou mense om na die ABC kiesers wat hulle tandem slyp en hulle lippe sit en aflek in afwagting van daardie gratis “land” en vertel hulle dat die anc is nie titelaktes van regeringsgrond aan die “opkomende boere” oordra nie? vertel jy die anc hoopvolle boere van die plase wat lê en smeek om GEKOOP en bewerk te word? dus vra ek Pieter Groenewald, skrik wakker! gaan uit tussen die mense en gaan VERDIEN jou stemme voordat iemand anders dit doen en kry.

Chrisjan ·

Mooi snoefie, se hom, ons wat die meeste het om te verloor sal sit en wag tot hy by ons uitkom.

verstom ·

Hierdie is harde en werklike feite, waar ek woon is ‘n plaas verledejaar aan die eisers gegee. Daarop WAS ‘n masiewe groot fabriekkonstruksie met huise (die eienaars het ‘n keuse gehad om terug te huur maar weens gedurige verliese asgevolg van proteste en beskadiging (slote oor die pad) het hul elders hul fabriek begin. BINNE SLEGS DRIE!!!!!! dae was die hele konstruksie (sinkplate alles) afgebreek en weggedra. Ons hele gebied is ooggetuies daarvan. Vra om gedoen te word was ‘n reuse groot sak fabriek wat aan plaaslike inwoners werk verskaf het.

sioux ·

daardie einste gemeenskapsdiens eat daar werksaam was het dit afgebreek en weggedra.

al ·

Die regerende ANC is seker die grootste eienaar van grond? Hoeveel titelaktes het hul?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.