‘ANC staar ʼn strategiese dilemma in die gesig’

anc-2017-nuwe-top-ses-twitter

Die nuwe top ses van die ANC wat Maandagaand tydens die nasionale verkiesingskonferensie in Johannesburg verkies is. Foto: Twitter.

Die ANC het ʼn “strategiese dilemma” en sal steeds sukkel om persepsies oor die regerende party te verander voor die algemene verkiesing in 2019.

Dit is die mening van prof. Richard Calland, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, nadat die nuwe top-ses vir die leierskap van die ANC Maandagaand tydens die ANC se nasionale verkiesingskonferensie by die Nasrec-sentrum in Johannesburg aangekondig is.

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa is as die nuwe president van die ANC verkies, maar het die posisie met minder as 200 stemme voor sy mededinger, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ʼn voormalige kabinetsminister en voorsitter van die Afrika-Unie, opgeraap.

Ander topamptenare sluit in David Mabuza, premier van Mpumalanga, wat as die party se adjunkpresident aangewys is. Die nuwe nasionale voorsitter van die ANC is Gwede Mantashe. Mantashe se vorige pos van sekretaris-generaal het na Ace Magashule, die omstrede premier van die Vrystaat gegaan. Jessie Duarte het haar posisie as adjunk-sekretaris-generaal behou, terwyl Paul Mashatile nou die nuwe tesourier-generaal van die ANC is.

Die top-ses is presies in die helfte verdeel met onderskeidelik drie kandidate elk van die Zuma-faksie en Ramaphosa-faksie. Politieke ontleders en kommentators meen Mabuza, Magashule en Duarte is steeds ondersteuners van die Zuma-faksie terwyl Mantashe en Mashatile deurentyd vir Ramaphosa in die aanloop tot die konferensie ondersteun het.

Die ANC se bestuurskomitee het ook Dinsdagoggend vergader oor beweerde “vermiste stemme” in die stemproses vir die party se sekretaris-generaal, wat moontlik dié posisie in die guns van die ander benoemde, Senzo Mchunu, kan swaai.

Terwyl Suid-Afrikaners moet wag vir ʼn verklaring vir die “vermiste stemme” het Calland gesê die ANC se nuwe leierskap word nou deur die sogenaamde premierliga beheer. Dit is ʼn term wat aan die Vrystaat-, Mpumalanga- en die Noordwes-premiers gegee is wat Zuma tot dusver deur dik en dun bygestaan het.

Hy reken ook Ramaphosa gaan baie tyd daaraan bestee om vure in die party dood te slaan, in stede daarvan om die ANC te hernuwe en te groei.

“Dit is met reg ʼn bekommernis vir die ANC omdat twee belangrike posisies binne die die party se top-ses nou deur dié premierliga gehou word, wat weer meer deel van die ANC se nasionalistiese vleuel is.

“Om die president van die ANC te wees, is ʼn buitengewone kragtige posisie, maar jy moet steeds binne die gees van kollektiewe leierskap met die res van die top-ses saamwerk,” het Calland gesê.

“Met die gelykopverdeling binne die top-ses sal Ramaphosa die mededingende politieke belange moet balanseer. Hy sal baie energie en politieke kapitaal moet gebruik om hulle te bestuur. Dit is tyd wat hy eerder kan gebruik om deurslaggewende stappe te doen om sy ekonomiese visie in te stel.

“Ek dink dit gaan maak dat die ANC sal sukkel om homself voor die 2019-verkiesing as ʼn progressiewe sentrum in die oë van kiesers te hervestig. Die party gaan waarskynlik voortgaan om oor die volgende 18 maande gemengde boodskappe te stuur en dit sal moeilik wees om sterk eenheid binne die organisasie te bou om ʼn verenigde handelsmerk aan te bied.”

Calland het ook gesê Dlamini-Zuma se kandidaatlys het waarskynlik beplan om Ramaphosa te isoleer, maar hopelik sal die twee kandidate van sy lys hom help om die land in die regte rigting te stuur.

ANC-afgevaardigdes sal nou lede van die party se hoogste besluitnemingstruktuur, die nasionale uitvoerende komitee (NUK), nomineer en verkies soos die vyfdaagse konferensie voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.