ANC steeds verdeeld oor e-tol

David Makhura, Gautengse premier. Foto: ANA

David Makhura, Gautengse premier en die ANC se provinsiale voorsitter, het Woensdag die provinsie se standpunt teen die omstrede e-tolstelsel verdedig en gesê die probleem is dat stedelike tolpaaie padgebruikers se belastinglas te swaar maak.

Makhura het by die Afrika-beleggingsforum in Johannesburg gesê die provinsiale ANC vra al lank dat e-tol geskrap word, vandat dit in 2013 in werking getree het. Hy sê die provinsiale ANC en die regering se standpunt sal nie beleidsonsekerheid skep of ʼn risikoprofiel vir Gauteng wat beleggers sal afskrik nie.

“Suid-Afrika ondersteun die beginsel dat gebruikers vir infrastruktuurprojekte betaal, maar wat stedelike tolpaaie betref, is dit ʼn netelige kwessie,” het hy gesê. “Ons het projekte waarin ondernemings bereid is [om te belê]; hulle wil net weet hoe ons dit gaan finansier.”

Hy het gesê as die finansieringsmodel uitgestryk is, kan daar geen verwarring oor beleidsonsekerheid wees nie. “Maar ʼn mens wil nie ʼn finansieringsmodel hê wat burgers oorlaai en mense later in opstand laat kom nie.

“ʼn Finansieringsmodel vir ʼn infrastruktuurprojek wat ʼn las word vir sekere burgers, kan ʼn probleem vir die beleggers word. Dis waar ons met die e-tolkwessie staan; dit skep nie beleidsondersekerheid nie.”

Verlede week het Makhura duisende ANC-ondersteuners in ʼn optog na die Uniegebou in Pretoria gelei waar hulle saam met lede van Cosatu en die SAKP asook burgerlike organisasies op die einde van e-tol aangedring het en gesê het die tolstelsel het geen toekoms solank die ANC aan bewind is nie.

Makhura het ontken dat die hernieude veldtog teen e-tol stemwerwery met die oog op die verkiesing in Mei volgende jaar is, en gesê die kommer bestaan dat daar net te veel tolpunte in Gauteng alleen is, wat daartoe lei dat motoriste “oorbelas” word.

“Enigeen met ʼn kort geheue sal dink ons het verlede week vir die eerste keer ons teenstand teen e-tol getoon, maar ek sê ons doen dit konsekwent,” het Makhura gesê.

“Ons is nie gekant teen tolpaaie nie, maar ons kan nie stedelike stelsels aan tolpaaie onderwerp nie. Ons glo e-tol is nie ʼn geskikte manier om vir paaie te betaal nie.”

Hy het gesê hy is vol vertroue dat as die verkiesing môre gehou moes word, Gautengers die ANC weer aan bewind sal stel ondanks die e-tolvraagstuk.

Intussen het Blade Nzimande, minister van vervoer, lede van die opposisie Woensdag in die parlement gewaarsku om nie e-tol as ʼn politieke voetbal te gebruik nie en bygevoeg die regerende ANC sal hulle in volgende se verkiesing ʼn deeglike loesing gee.

Nzimande het gesê hoewel die regering alternatiewe vir e-tol ondersoek, het Sanral enorme uitgawes aangegaan om snelweë te bou; dus sal padgebruikers moet betaal om snelweë te gebruik.

“Agterna beskou moes ons dié ding anders benader het, maar ons is nou waar ons is en ons het skuld,” het Nzimande gesê. “Ons moet tolgeld invorder om hierdie pragtige paaie in stand te hou.

“Kom ons wees volwasse…. Kom ons gebruik nie populisme omdat julle hoop om stemme in die verkiesing te kry nie. Ons gaan julle deeglik m*** in volgende jaar se verkiesing,” het Nzimande gesê.

Die speaker het hom gedwing om dié opmerking terug te trek omdat dit ʼn kru-woord bevat wat as onparlementêre taal beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Iewers is daar ‘n lekker diep put wat tap uit die geldjies vir e-trol. Die vraag is hoeveel geld word ge-in en hoe word dit geoudit en hoe word dit aangewend deur die private trolle waarsonder ons glo nie sal kan oorleef nie. Miljarde word ingesamel en ‘n druppel belasting oorbetaal. En die gewone man moet by die polisie boer en verklarings afle oor vreemde bedrae op sy naam. Wie is eintlik in beheer van hierdie speletjie? Vlek die spul asseblief oop. Was die Guptas die enigste groepie wat ‘n staatskaping geinduseer het?

Martiens ·

Nee, Suid-Afrikaners ondersteun nie die beginsel van gebruikers betaal vir infrastruktuur projekte nie. Daarvoor betaal ons belasting.
Belasting is veronderstel om die nasie in geheel tot voordeel te wees.
Indien die beginsel ondersteun word dan moet dit konsekwent en deur die bank toegepas word. Dan moet Eskom, die Poskantoor, Transnet, Denel, Staatskole, Staatshospitale en die SAL geprivatiseer word.
Dan moet die onderdane van die hordes konings wat deur die belastingbetalers gefinansier word self vir hulle koninklike huishoudings verantwoordelik gehou word.

Dries ·

Ek hou van di “kom ons wees volwasse”. Verskaf dan di volle besonderhede (soos reeds deur di hof beveel) rakende e-tol en di Oostenrykse ‘bedryf’ daarvan…

Judge Dredd ·

En so bly die ANC foute maak en dan agterna verwag dat die belastingbetaler maar moet bly betaal, want dis mos gedane sake ala Blade Nzimande.

Lerato ·

Hallo John

Ek betaal getrou my e-tol, maar kry deurlopend rekenings. Iewers is iets drasties verkeerd.

Wonder maar net! ·

SA se ses produsente lewer meet as 20 200 000 000 liter brandstof per jaar. Maal met R7.oo per Liter. Dit is R142 800 000 000 belasting per jaar. ANC, waar is daai geld? Dis mos meer as genoeg om die totale pad stelsel in n Báie goeie kondisie te hou. Dan is daar nog motor lisensie gelde ,, én tolgeld!! Ek vra ook maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.