ANC-steun neem af – peiling

(Argieffoto ter illustrasie: Brendan Magaar/ANA)

In afwagting op die munisipale verkiesing wat voor 1 November vanjaar te midde van die Covid-19-pandemie moet plaasvind, blyk dit dat steun vir die ANC die afgelope twee jaar aansienlik afgeneem het.

Dit blyk egter dat ʼn derde van dié wat kan stem, dit oorweeg om nie aan die komende verkiesing deel te neem nie.

Die marknavorsingsfirma Ipsos het tussen 16 en 20 Augustus telefoniese onderhoude met 1 501 respondente tussen 18 en 75 jaar oud gevoer om vas te stel hoe geskikte kiesers oor dié verkiesing voel en vir wie hulle gaan stem al dan nie.

Wanneer die peiling met vorige jare se studies vergelyk word, is dit duidelik dat steun vir die regerende party met sowat 7% in die afgelope twee jaar afgeneem het.

Nietemin lyk dit of 49% van kiesers steeds ʼn kruisie langs die ANC se naam sal trek terwyl 17,9% vir die DA sal stem en 14,5% vir die EFF.

Uit ʼn studie wat Ipsos in Desember verlede jaar van stapel gestuur het, het steun vir die ANC op 51,8% vir ʼn munisipale verkiesing gestaan. In November 2019 het 55,1% aangedui dat hulle dié party in ʼn nasionale verkiesing sal steun.

Respondente wat aangedui het dat hulle nie vanjaar vir die ANC gaan stem nie, het onder meer gesê dat hulle slegs aan nasionale verkiesings deelneem; vir enige party buiten die ANC sal stem; vir enigiemand sal stem wat die land behoorlik kan bestuur; eers by die kieslokaal ʼn besluit sal neem; óf dat hulle werkloos is en daarom nie rede insien om te stem nie.

Min lus om te stem

Ipsos het voorts bevind dat slegs sewe uit elke 10 (71%) respondente beplan om wel aan die komende verkiesing deel te neem.

Die data dui verder aan dat hierdie kiesers hul steun agter ʼn wye reeks partye sal plaas.

Suid-Afrika het verskeie geregistreerde politieke partye, hoewel baie min van dié partye tans meer as 1% van die land se steun geniet.

Ipsos het ook bevind dat die meer landelike provinsies van Suid-Afrika, naamlik Limpopo (79%), Noordwes (76%) en die Oos-Kaap (76%), die gretigste is om te stem.

Dít terwyl politieke leiers meer gereeld werwingstogte in metropole onderneem.

Die Vrystaat (61%) blyk egter die minste belangstelling uit al die provinsies in die komende verkiesing te toon.

Ipsos sê dis moeilik om te voorspel of kiesers wel vanjaar by die munisipale verkiesing gaan opdaag en of hulle uit vrees vir die virus gaan wegbly.

Hoewel sowat 39 miljoen Suid-Afrikaners geskik is om te stem, is nie almal geregistreer nie. Minder as 20 miljoen kiesers het in 2019 aan die nasionale verkiesing deelgeneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Willem Wikkelspies ·

TYD VIR VERSET

Die Feite:
Die bewyse is nou op die tafel, ons regstelsel het ons misluk.

Die Antwoord:
Dis eenvoudig .. dis maklik .. dis tyd. Dit is tyd vir burgerlike verset. Moenie weer gaan stem voordat die-voorbeeld van korrupsie aka meneer Nommer Een, homself in ‘n aftree-oord bevind met ‘n klein kamertjie en pragtie oranje klere.
.. en intussen, raak gereed vir verdere wetteloosheid, want die voorbeeld is gestel, enigiemand wat wil is bo die wet in ons land.

Vandag is ‘n hartseer dag. Kom ons maak dit die dag wat die land begin opstaan het vir dit waarin ons glo.

B-Man ·

Dis juis hoekom ons nou moet stem! Elkeen wat wegbly maak ANC-verlies ligter.

Willem Wikkelspies ·

B-Man, my antwoord aan jou is:
Wat se verskil maak jou stem in ‘n land waar die reg nie die opperste gesag is nie?

Pieter ·

Geknelde land, Offerland, Gelofte land, Bedoelde land. Ons storie is soos 200 jaar terug aan die Oosgrens. Stem help nie. Verootmoedig uit die riool uit. Vandag 55 jaar terug is Dr Verwoerd vermoor.

Misky ·

Daai EFF syfer is bitter naby die DA s’n. Dis kommerwekkend en ek sidder as ek aan die implikasies dink

Sarel ·

Mense verstaan nog steeds nie….geen stem dan stem jy vir die Regerende Party…finis & Klaar.
Mense wat hulle stemne weerhou moet nie later kla nie

Fritz ·

So hoe het die afgelope 27 jaar se stemmery en klaery tot dusver vir jou gewerk?

B-Man ·

Ek wens meer mense kon dink soos jy, Sarel. Vir elke een persoon wat wegbly moet twee gaan stem om op te maak vir daardie verlies. Ons moet stem, anders is ons nie veel beter as die plunderaars wat hulle stemme (en koskaste) dikgeaak het nie.

DieKriek ·

En ek wat elke keer nog gestem het, mag ek kla? En is ek beter af as een wat nie gestem het nie?

Pieter ·

Ek stem nie. Ek kla nie. Ek weet hoe die kullery werk. Ek sit my vertroue op iets Hoërs. Stem maak my deel van die rioolplaas.

Willem Wikkelspies ·

Haai Sarel, jy is heeltemal reg dat indien mens nie stem nie dit ‘n stem is vir die regerende party, maar my vraag bly steeds staan: Watse verskil maak jou stem in ‘n land waar die wet nie die opperste gesag is nie.

Indien die regerende party vertrou kon word om ‘n eerbare verkiesing te lei, en indien die opposisie party of partye se stemme saam naby daaraan kon kom om hulle dan te onttroon was die antwoord voor die hand liggend. Gaan stem!

Maar nou weet ons almal die regerende party het duidelik gewys dat hulle nie vertrou kan word nie, en dan, indien die hoof opposisie party se stemme verdubbel gaan dit nogsteeds nie ‘n verskil maak aan die uitslag nie.

Stap 1) Verset by die stembus
Stap 2) Verset met belasting
Stap 3) Forseer of onafhanklikheid, of oorgang.

Johan ·

Dink net so daaraan, indien ons Boertjies almal opdaag en teen die ANC stem is it meer as 15% teen hulle…net 20M uit die 40M is geregistreer. Dit help wel nie dat ons vir 5 verskillende partye stem nie en ook nie as die VF plus en DA gedurig ons aanval nie. Maar dis maar wie ons is. Dalk sal CapeExit werk, daar kan ons 30% wees?

piet ·

Ek dog die EFF se steun is af, hier lyk dit dan asof hulle besig is om te groei. Die stempersentasie gaan laag wees in hierdie verkiesing.

Dries ·

Dit is inderdaad so dat die regerende party minder stemme gaan kry maar wat nog nie mooi ingesink het by die land se burgers nie, is dat die stemme wat verlore is vir die ANC nou gaan EFF stem. Dit is presies soos Misky sê: “Dis kommerwekkend en ek sidder as ek aan die implikasies dink………”. Voor ons ons oe uitvee is die EFF die amptelike opposisie.

Cherokee ·

Met daai lang rye kiersers 1½ of 2 meters uitmekaar? Of gaan sosiale afstande nie in tel wees nie? Ek het geloofsbesware teen inenting. En vir diegene wat geënt is, is dit ook nie (veel) van ‘n troos nie. Daardie samedrommings kan moeilikheidsoek wees.

Samuel ·

Wat mense tydens ‘n telefoniese meningspeiling sê en wat hulle by die stembus doen is twee verskillende dinge.

Sarel ·

Net soos Zuma word Malemma nooit vervolg nie.
Pasop ook vir die Zuma nageslag…hulle is op pad..maar vermoed hulle wsg vir Nasionale Verkiesing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.