ANC-takke in KZN steun beleërde Zuma, Magashule

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Die ANC se takke in die eThekwini-streek in KwaZulu-Natal sê daar is ʼn rede hoekom sommige Afrika-leiers nie wil bedank nie – omdat hulle in hegtenis geneem word sodra hulle die amp neerlê.

Die takke het Woensdag terselfdertyd hul onomwonde steun aan oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die regerende party, gegee.

“Ons glo die vervolging van hierdie leiers word gemotiveer deur politiek en aangedryf deur diegene wat Suid-Afrika wil verdeel, destabiliseer en tot op die grond afbrand,” lui ʼn gesamentlike verklaring van die takke.

Zuma het vroeër gesê hy sal eerder tronk toe gaan as om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te getuig. Sy afsonderlike korrupsieverhoor sal na verwagting ook binnekort voortgaan.

Op sy beurt staan Magashule tereg op 21 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery.

Hy het vroeër vandeesmaand self vir Zuma in die bresse getree nadat verslaggewers hom gepols het oor Zuma se gedrag. Magashule het toe gesê daar is geen rede om Zuma uit die regerende party te skors nie. Magashule is ten spyte van die rits aanklagte teen hom ook nog in die tuig.

Die eThekwini-takke sê sy ontleding van takke sedert 2017 dui daarop dat die situasie ʼn “stryd om die siel van die ANC is”.

“Die agenda is om die ANC intern te verswak en eindelik te laat inplof tot net nog ʼn mislukte bevrydingsbeweging. Die vervolging is veronderstel om leiers en enigiemand wat vra vir ekonomiese transformasie te diskrediteer.

“Die doelwit is om leiers as diewe te brandmerk sodat die huidige situasie, wat apartheid-begunstigdes bevoordeel, kan voortduur.”

Die eThekwini-takke sê daar was tot dusver verskeie pogings deur sommige mense in die media om “kameraad Ace as korrup uit te beeld”, maar dit het misluk. Hulle voer ook aan die sogenaamde aanvalle het verskerp sedert Magashule gevra het vir radikale ekonomiese transformasie.

“Omdat hy die mandaat van die Reserwebank bevraagteken het, het Ace in monopoliekapitaal se grootste openbare vyand verander. Sy grootste sonde was om die ANC-konferensiebesluit oor die Reserwebank te herhaal en die ongetransformeerde ekonomiese struktuur van die land te betwis.”

Hulle sê net ANC-takke het die mag om ANC-leiers te verkies of van hul ampte te onthef.

“Die posisie van sekretaris-generaal is soos die enjin van die organisasie. Geen voertuig kan sonder ʼn enjin beweeg nie. Enige poging om hom te verwyder gaan die ANC laat ineenstort – maar ons gaan daarteen stry.”

Hulle sê ook diegene wat eis dat Magashule opsy staan, moet sy grondwetlike regte respekteer.

Die takke het voorts ook hul steun aan Zuma toegesê. Hoewel baie mense weens die Covid-19-pandemie nie die hofverrigtinge sal kan meemaak nie, staan hulle “bankvas” by die oudpresident.

“Die ewigdurende vervolging van pres. Zuma lyk nou na hoe Afrika-leiers in hegtenis geneem word wanneer hulle die amp verlaat. Dit is een van die redes hoekom sommige Afrika-leiers weier om die tuig neer te lê – omdat die imperialiste marionet-regerings aanstel om hulle in hegtenis te neem.

“Dit kan lei tot burgerlike onrus en onbestendigheid wat die imperialiste toelaat om sonder enige ontwrigting toegang tot Afrika se hulpbronne te kan hê.”

Die eThekwini-takke sê hierdie roete moet vermy word omdat dit net die sogenaamde imperialiste ten koste van vredeliewende Suid-Afrikaners gaan bevoordeel.

Die takke sê hulle gaan lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, provinsiale uitvoerende komiteelede en ander takke bearbei om Zuma te steun.

Hulle is ook bekommerd dat daar moontlik inbreuk gemaak word op Zuma se konstitusionele regte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Werner ·

Hierdie berig bewys net dat vandag se nuus kommentaar bietjie in die duister getas het

Willem ·

Vanwaar Gehasie ? Hierdie berig gaan oor die klomp onsinnige twak wat die eThekwini takke van die ANC kwytgeraak het. Watter verband dit het met vandag se nuuskommentaar is onduidelik. Vandag se nuuskommentaar deur Monica Mynhardt is soos gewoonlik weldeurdag en sinvol.

Mariana ·

Jippeee!!!nuwe woord vir vandag is Imperialste. Vredeliewende Suid-Afrikaners, pfft!!!

Persheks Adri ·

Kriminele het meer regte as ons eerlike landsburgers genade! Waar gaan dit eindig met hulle streke elke dag

Nie Verbaas ·

Gaan aan ANC narre. Dit is verblydend om te sien hoe skandes oopgevlek word en hoe die party besig is om ditself te verwoes.

Jaco ·

Zuma, Ace, hulle ondersteuners, waarskynlik die regter en definitief die minister van Justisie is ALMAL in die ANC. So dié hele Zuma ding is uit en uit ‘n ANC ding. Vat die ANC dan nou die ANC hof toe? Dié kan mos alles binne die ANC huis uitgepluis word. Dis hoogstens 1 week se admin

SomeOne ·

los hulle, laat hulle hulself uitroei, van hulle het “gedink” die waarheid sal nooit uitkom nie

Karlahari ·

They see no evil, hear no evil and speak no evil
……….

NWT ·

As Zuma is hoogste hof in ons land kan verontagsaam kan ek en elke persoon in SA dit doen. Zuma probeer die tronk vryspring.

Korrupsie in SA het geen vaccine nie. Dit is ongeneeslik .

Hennie J ·

Miskien moet ons meer lees in hierdie berigte. Hierdie oud terroris en sy gabbas beplan iets!!!!!

Johan ·

Maw,die Zulu takke van die ANCwil bepaal wie is eerlike diewe en die res van die takke landwyd,is imperialiste wat die arme bloedjies wil laat opsluit. What a pol party!

David ·

LOL – “wil nie bedank nie… want hulle word in hegtenis geneem” nou hoekom sal dit wees? Bwahahaha – soos hulle in Engels sê: “You can’t make this stuff up people!”

Pieter ·

Almal in anc is skelm ongeag of jy nou ‘Apartheid’ wil gebruik oor jou skelm streke. Die is net n woord ‘Aparthied’, maar skelm n daad en een wat Zuma die meester van is, en dan kom al sy onderdane en sy kinders die eff.

Genis ·

CR is die papbroek… dis ongelukkig die enigste punt waarmee ek met Malema saamstem… CR is n papbroek

quartus ·

as die mense steeds Zuma en Ace ondersteun, beteken dit eenvoudig hulle ondersteun misdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.