ANC-takvergaderings ‘onwettig en onreëlmatig’

Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: ANA/David Ritchie

Die ANC Vroueliga (ANCVL) in die Vrystaat het gesê hulle het “met teleurstelling” kennis geneem van die uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein dat 29 algemene takvergaderings onwettig en onreëlmatig gehou is.

Die hof het Woensdag uitspraak gelewer dat die ANC se provinsiale verkiesingskongres wat van 1 tot 3 Desember gehou sou word, nie gehou kan word nie tot dat dié takvergaderings weer op ʼn wettige manier gehou word, in lyn met die grondwet van die ANC. Die besluite wat dus vroeër tydens die 29 takvergaderings geneem is, is deur die hof nietig verklaar.

Die ANCVL het gesê hulle het tekens gesien dat die party dalk geïnfiltreer is deur fanatici “wat elke keer as hulle deur interne prosesse verslaan word, hof toe hardloop”.

Thandi Masiteng, die ANCVL se provinsiale sekretaris, het in ʼn verklaring gesê dié fanatici en hul “meesters” redeneer dat hul aksies geregverdig is. “Hulle bedoeling is egter nie om ʼn sterk, doeltreffende ANC te bou nie, maar eerder om alle interne prosesse van die ANC te laat misluk tot die voordeel van die teen-transformasie-meesters,” het Masiteng gesê.

Die ANCVL ondersteun Nkosazana Dlamini-Zuma as kandidaat om pres. Jacob Zuma by die party se verkiesingskonferensie volgende maand te vervang.

Dlamini-Zuma is die afgelope naweek deur die party se algemene provinsiale raad in die Vrystaat genomineer as presidensiële kandidaat, maar die hofuitspraak kniehalter nou dié nominasie. Ramaphosa en Dlamini-Zuma is die voorlopers in die stryd om ANC-president.

Die ANCVL in die Vrystaat het gesê die liga is steeds ʼn integrale deel van die ANC in die provinsie en sal met die provinsiale leierskap vergader om voorstelle te maak oor die pad vorentoe na aanleiding van die hofuitspraak.

Hanno Bekker, prokureur vir die 26 ANC-lede wat die saak voor die hof gebring het, het gesê daar moet sewe dae kennis gegee word voor daar ʼn algemene takvergadering gehou kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Die hof het beslis die vergaderings is buite orde spesifiek verwysend na die aaensee se beleid. Nou is dit die fanatici en hul meesters.
Wat n verwronge uitkyk op reëls en regulasies, beleid en die wet! Daar is hoeka ernstige bewerings deur die media oor die stemgekopery. Enige normale organisasie sal dan liefs bo verdenking sy sake wil bedryf, maar née, nie die aaenseeee nie!
Wat n hopelose uitkoms wag daar vir die helhool?

Van ·

Eks amper seker hulle gaan een of ander tyd die apartheid kaartjie uithaal en met hom speel en die joker kaart rassisme bere hulle vir heel laaste net om te kry wat hulle wil he.

Tanja ·

Groot vraag? Wie betaal die regskostes van al hierdie hofsake?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.