ANC teen substantiewe grondwetlike veranderings oor grond

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Indien die Grondwet verander word om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik sal dit bloot ter verheldering wees, nie omvattende veranderings nie, het Ronald Lamola, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, vanmiddag onderneem.

Lamola het deelgeneem aan ‘n partypolitieke paneelbespreking tydens Rapport en City Press se grondberaad, wat by die Johannesburgse buiteklub aangebied is.

Hy het aangevoer die enigste grondwetlike wysiging waarin die ANC belang stel, is een wat dit duideliker sal maak hoe onteiening sonder vergoeding binne die huidige grondwetlike opset moet werk. Die ANC meen die uiteinde van die proses moet steeds voorsiening maak vir eienaarskap deur individue, die staat en kommunale gemeenskappe.

Thandeka Mbabama, DA-LP, het gesê die DA is heeltemal gekant teen die verandering van die Grondwet. Sy meen die hele bohaai oor onteiening sonder vergoeding is net ‘n populistiese rookskerm om die ANC se onvermoë om behoorlik te regeer, te versteek. Sy sê dis duidelik dat die DA beter as die ANC vaar met regeer. Die DA is heeltemal ten gunste van private eienaarskap van eiendom.

Adv. Dali Mpofu, nasionale voorsitter van die EFF, het gesê sy party wil beslis die Grondwet verander. Alle grond moet beheer word deur die staat namens die bevolking. Hy meen dis irrasioneel om daaroor bekommerd te wees want dan sal alles aan almal behoort.

In ‘n belangwekkende verwikkeling het twee partye hulle vir die eerste keer onomwonde teen die verandering van die Grondwet uitgespreek. Dié twee partye is die IVP en die UDM.

Mkhuleko Hlengwa, nasionale woordvoerder van die IVP, het gesê daar is niks fout met die huidige Grondwet nie en die staat is nie in staat om enigiets behoorlik te bestuur nie – ook nie grond nie.

Die UDM-leier, genl. Bantu Holomisa, meen ook nie die Grondwet moet verander word nie. Hy dink in elk geval nie dit gaan gebeur nie – daarvoor is daar nie genoeg steun onder Suid-Afrikaners nie.

Namens die VF Plus het dr. Pieter Groenewald aangevoer die moontlike verandering van die Grondwet is rasgebaseerde stemwerwery voor die verkiesing, en die VF Plus ondersteun dit nie.

Cope se leier, Mosiuoa Lekota, is teen die verandering van die Grondwet en het gevra dat daar nie onderskeid getref moet word tussen Suid-Afrikaners op grond van ras nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karlien ·

Ek hoop die UDM se steunbasies groei weer en dat Suid Afrikaners wat soek na ‘n alternatiewe opposisie hulle moontlik sal steun, eerder as die DA(ek kan daai skreeuende,engelse, voorbanker MP’s van die DA nie meer vat nie)

lewies ·

Bravo! julle twee staatmakers! Ek weet ons kan ook op die President se integriteit reken.

Judge Dredd ·

Mooi woorde nou om die mense te paai – tot julle die vermoe/reg het om die grondwet te verander – dan wat keer die ANC om radikale stappe te neem? En van wat het die ANC nou ooit ‘n sukses gemaak?

Ek steun geen verander aan grondwet.

Sarel ·

Daar vind ook nie plaasmoorde plaas nie allas die Groot Baas CR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.