ANC-tweespalt: Topses in Durban om krisis te ontlont

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die ANC se topses beamptes het Sondag in Durban aangeland in ʼn poging om eenheid te bewerkstellig onder die KwaZulu-Natal-streke, na die kwelpunte van die takke te luister en die datum vir dié provinsie se kieskonferensie vas te stel.

Pres. Cyril Ramaphosa kom tans byeen met afgevaardigdes van die eThekwini-distrik by die Moses Mabhida-stadion. eThekwini is die land se grootste ANC-distrik, maar word geteister deur verdeeldheid.

Chaos het Saterdagaand in dié stadion uitgebreek toe aggressiewe Kaizer Chiefs-ondersteuners die veld bestorm het ná ʼn skoknederlaag teen Free State Stars. Skoonmaakspanne het deurnag gewerk om te verseker dat die veld skoon is voor Ramaphosa se aankoms.

Die ANC in KwaZulu-Natal is in twee faksies verdeel sedert sy provinsiale konferensie in 2015 waartydens nuwe leierskap gekies is. Een faksie is pro-Ramaphosa en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty asook pro- Senzo Mchunu, voormalige ANC-voorsitter en premier.

Dié faksies het Maandag gevra vir uitstel van die provinsiale verkiesingskonferensie en beweer hulle word weerhou van takvergaderings en om as lede te registreer.

Die ander groep dring aan die konferensie moet so gou moontlik plaasvind en het Nkosazana Dlamini-Zuma tydens die nasionale kieskonferensie in Desember 2017 ondersteun. Hulle ondersteun ook Jacob Zuma en Sihle Zikalala.

Zikalala was tot Januarie provinsiale leier van die ANC toe hy geskors is ná die Pietermaritzburg-hooggeregshof bevind het dat die 2015-konferensie waartydens Zikalala vir Mchunu gewen het ongeldig was.

ʼn Tydelike struktuur, waarvan die mandaat Dinsdag tot ʼn einde kom, is ingestel.

Talle joernaliste van verskillende mediahuise moes Sondag tydens die vergadering sonder verklaring ophou beeldmateriaal en foto’s neem.

Lede van die ANC se nasionale werkskomitee (NWK) en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) is oor die hele provinsie ontplooi. David Mabuzo, adjunkpresident, en ander kom byeen in streke in die noorde, waaronder Zululand en iLembe. Ace Magashule, sekretaris-generaal, Bathabile Dlamini, Jackson Mthembu en ander kom byeen in Pietermaritzburg en die suidelike dele van die provinsie.

Gwede Mantashe, nasionale voorsitter, en Thandi Modise, Zizi Kodwa en Senzo Mchunu vergader in Newcastle en Dundee.

Paul Mashatile, tesourier-generaal, Dlamini-Zuma en ander kom byeen in Musa Dladla in Empangeni. Dié vergaderings sal na verwagting tot in die nag aanhou.

Die NWK en tydelike provinsiale struktuur sal Maandagoggend by die Coastlands-hotel in Durban bymekaarkom om vas te stel of en wanneer die provinsiale kieserskonferensie gehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Oogklap ·

Paragraaf 3 verwys.
Skoonmaakspanne het deurnag gewerk om te verseker
die veld is skoon voor Ramaphosa se koms?
Pleks dat hul als net so gelos het sodat hy
die ware toedrag van sake kon sien. Maar dankie,anyway.

Cecil Doyle ·

Ja daar is baie ander plekke wat skoon gemaak kan word. By elke plakkerskamp lyk dit gahoties.

SjN ·

Cyril, hoe kan jy met die praat waaroor daar swaarde oor hulle koppe hang, n vis vrot van sy kop af.

Willem ·

‘n Mens vrot van onder af. Eers voel hulle die gaut by die tone, later die steek-prikkels in die bene, en so voorts.

Praat praat ·

Hou heeltyd vergaderings waarvan niks kom nie. Dis al wat ANC kan doen, net praat en korrupsie.

John ·

Nee, the Zuma show must go on… Ontlont… Vure… CR gaan rondhol soos nog nooit. Hy het gedink toe hy verkies is gaan almal in ander kaders verander; wat die party nog nooit was nie. Die droombeelde wat aan die wereld voorgehou word is verbeeldingsvlugte. En dinge gaan eerder erger as beter word. CR het ‘n Zuma in sy kantoor wat alles aan haar ou eggenoot verklap.

Oom Kalahari ·

Skoonmaak prosesse moet liewer by die Parlement begin en nie in stadions. Daar is gedurig vergaderings, komitee sittings, koukusse en vieringe van elke denkbare geleentheid ens en niks daadwerkliks positief gebeur behalwe belasting gelde wat misbruik word en korrupte aktiwiteite. Doen liewer positiewe dinge met die geld vir Skole, ouetehuise/pensioenarisse, herstel werke aan paaie ens. Alles is besig om te tuimel van grondvlak tot ANC top ses. Met Antie Zuma daar gaan dinge nog skeef loop en die tyd gaan leer.

Willem ·

Wawawawa so ‘n biedjie, nie te haastig nie, gun hulle die vieringe en euforie van die 1994 oorwinning, hulle klink nog ‘n glasie daarop, maak van elke denkbare geleentheid gebruik.

Dirk ·

Nou kan die wereld die “true colours” van die “rainbow nation” mooi sien! Niks het verander van 1976 af nie! Verwoes, verbrand, verbreek en vermoor dan die wat die verstand het om op te bou en nie af te breek nie! Al wat jy nodig het is een met ‘n groot bek wat kinders kan opsweep, en daar was nog al die jare een en daar sal altyd een wees. My hart breek vir die wat nooit deel was hiervan nie. Daar was vrede want daar was orde, skill, hospitalen, saaie en werk vir almal. En as jy deur die “fake” gekookte doktorsgrade en kastige “geleerdheid” kyk dan sien jy die ware sirkus soos dit in die parlement afspeel. Daar is nooit geheel van hulle nie, as jou arbeid al is wat jy aanbied dan was jy vergoed en versorg daarvolgens. “Die arbeider is sy loon werd” Die verwoester sal op die ou end net himself oor he om te verwees!

Rynhardt ·

Cyril kan nie meer sy Anc red nie.Skade was reeds gedoen met Zuma wat as president,die Anc reeds verdeeld het.Sommige voel nog steefs dat Zuma onregverdig behandel is.Ontevredenheid met Anc politici lei tot brandstigting en gewelddadige betogings waar alles voor die voet afgebrand ????word.Stakings en buitensporige eise???? raak ook buite beheer!Net van geweld en onstabiliteit trek al nouer om SA!!

Petro ·

Dit is moes nou duidelik dat die mense nie kan bestuur nie, die land het so agter uit gegaan die laaste 20 jaar, al gee hulle dit terug sal ons nooit kan herstel nie.

Gee dit nog 40 jaar en daar sal niks van die mooi land oorbly nie en ons kan net hulle bedank vir hulle geld gierigheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.