ANC vaar uit oor OB se betrokkenheid by Nkandla-hofsaak

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC het Maandag teen Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer (OB), uitgevaar nadat sy kragte met die EFF saamgesnoer het in lede se geveg teen die omstrede Nkandla-sage.

Die regerende party het gesê Madonsela “het ʼn tekort aan wysheid” en stel die onpartydigheid van haar kantoor in gedrang deur dokumente by die grondwethof in te dien in die saak wat deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) voor die hof gebring is.

“Die OB se besluit om haarself wetlik by ʼn politieke party te skaar, ongeag of dit enige wette oortree of nie, is onbesonne, betreurenswaardig en kan potensieel die instansie se naam as polities onpartydig fundamenteel skade berokken,” het Stone Sizani, ANC-hoofsweep, in ʼn verklaring gesê.

“Dit maak ’n bespotting van die beginsels wat sy behoort te handhaaf in die oë van die publiek.”

Madonsela het vroeër vandeesmaand ʼn verklaring by die hof ingedien wat daartoe kan lei dat sy ʼn vriend van die hof word in die saak waardeur die EFF hoop om pres. Jacob Zuma te dwing om ʼn gedeelte van die geld wat aan veiligheidsopgraderings by sy Nkandla-woning bestee is, terug te betaal.

Die EFF se saak steun op ʼn gedeelte van die grondwet waaronder die hof mag besluit of die wetgewer of die president hul grondwetlike verpligting nagekom het. Die EFF is van mening dat hierdie gedeelte van toepassing is aangesien Zuma nie Madonsela se aanbevelings nagekom het deur die geld terug te betaal nie.

Madonsela het dit in haar verklaring aan die hof duidelik gemaak dat sy nie die EFF se argument ondersteun óf teenstaan nie, maar dat sy wel ʼn belang het in die manier waarop haar verslag en haar magte geïnterpreteer word. Die saak sal na verwagting in Februarie volgende jaar aangehoor word.

Die appèlhof het verlede week in sy uitspraak oor Hlaudi Motsoeneng, omstrede bedryfshoof van die SAUK, gesê die OB se mond mag nie gesnoer word deur haar aanbevelings te ignoreer nie. Die hof het verder bevind mense of instansies wat nie met die OB se bevindinge saamstem nie, kan nie sonder meer ʼn soortgelyke ondersoek van stapel stuur en dan besluit om die nuwe ondersoek se bevindinge hoër te ag as die OB se bevindinge nie.

Sizani het gesê regsgedinge wat deur die EFF en die DA aangevoer word, het niks te doen met die beskerming van die wet en die grondwet soos hulle beweer nie, maar word gedryf deur opponerende politieke belange. “Dit sal naïef wees vir enigiemand, nog te meer die OB, om enigsins anders te dink,” het hy gesê. “Haar tekort aan politieke sensitiwiteit en miskenning van persepsies is tekenend van iemand by wie wysheid en onderskeidingsvermoë ontbreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liewe lulu ·

Gaan niks help. Ramaphosa het mos gese hulle gaan nie dat n hof hulle voorskryf nie

Dan ·

Ja die ANC is n politieke party wat nie hulle mag mag gebruik om iemand wat die landswette oortree en homself te verryk uit die staatskas uit ANC geledere tehulp wil stel om op n oneerlike manier van alle blaam te vrywaar nie. Sy tree op in aanvraag van diegene wat daarvoor vra. Dis waarvoor sy daar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.