ANC vat weer Mogale City

Argieffoto

Die ANC is weer aan stuur van Mogale City in Krugersdorp aan die Wes-Rand nadat hul speaker, Patrick Naga Lipudi, Woensdagaand as die uitvoerende burgemeester verkies is.

Die stryd was tussen Lipudi en die DA-burgemeester, Michael Holenstein. Lipudi het 39 stemme gekry, Holenstein 36 en twee stembriewe was bederf. Die stemming het tydens ʼn raadsitting plaasgevind nadat ʼn mosie van wantroue teen Holenstein gebring is.

“Die ANC in die Wes-Rand is verheug oor Lipudi se aanstelling as uitvoerende burgemeester van Mogale City,” het Mzi Khumalo, adjunkvoorsitter van die ANC in dié streek, in ʼn verklaring gesê.

“Lipudi is ʼn bekwame en ervare leier. Met sy lang en bewonderenswaardige geskiedenis van diens aan ons mense sal hy weer stabiliteit bring, die agteruitgang van bestuur stop en basiese dienslewering aan die inwoners versnel.”

Noluthando Mangole is in Lipudi se plek as speaker aangestel.

John Moodey, DA-leier in Gauteng, het Donderdag in ʼn verklaring gesê die party veroordeel ten sterkste die “ondemokratiese gebeure” van Woensdagaand se stemming.

“Ons mag dalk die burgemeesterstoel verloor het, maar saam met ons koalisievennote bly ons heeltemal toegewyd om die inwoners te dien,” het Moodey gesê.

“Sedert die munisipaliteit in Augustus verlede jaar oorgeneem is, het die DA korrupsie ontbloot en vrugtelose vermorsing gestop. Die fokus was om ʼn diensleweringstelsel in plek te stel.”

Hy het gesê Woensdagaand se verkiesing het op ʼn ondemokratiese manier plaasgevind, aangesien die speaker [Lipudi] geweier het om homself te verskoon, selfs al was hy ʼn kandidaat. “Hy het verder daarop aangedring dat raadslede met ʼn stempel stem in plaas van ʼn pen, wat tot volg gehad het dat van die stembriewe bederf is.”

Moodey het gesê die ANC kon daarin slaag om “by hook and by crook” die burgemeesterstoel te verseker, maar dit gee nie die ANC, “wat Mogale City in die eerste plek in die grond in gelei het nie”, volle beheer oor die munisipaliteit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

Sal maar sien of daar enige iets kom van hulle beloftes af – of soos altyd kom die korrupsie uit sodra DA weer in beheer is – die is net tydelik.

Annette Stander ·

Dit is die enigste manier wat hulle kon wen, met korrupsie en bedrog. Dit is hulle leuse.

Ettienne ·

Kom ons kyk of Lipudi die staats gesondheidsorg kan uitsorteer. My kleinseun het amper sy been verloor danksy Krugersdorp se mediese dienste. Daai outistiese kind wat gewag het vir mediese sorg.

Koos1 ·

Ek vrees die eerste algemene verkiesing wat die ANC kan verloor! Wat gaan hulle reaksie wees? Is hierdie ‘n oefenlopie tot dan?

Ans ·

ANC stadsraad het darem die sypaadjies in stand gehou terwyl hulle aan bewind was. Het nie gebeur onder DA leierskap nie. Het meer van DA verwag……. Dit bly egter ‘n gekonkel na alle kante!!

Wern ·

Absurde redenasie. Volgens alle indikators is DA beheerde munisipaliteite baie ver voor ANC.

Huh!? ·

Huh Wern!? Die koalisie hier by die Metsimaholo munisipaliteit (Sasolburg) is nie so watwonders. Slaggate volop, rioolstortings, vullisverwydering, brandkrane buite werking (Deneysville), lang gras op sypaadjies, nee wat, Ans is reg, dis Vinkel en Koljander, die een is soos die ander. Dalk het kolonialisme tog so ‘n ietsie goeds ook gehad . . . ?

Koos1 ·

As my wiskunde reg is het die DA-EFF een setel meer as die ANC. Dan kort hulle mos nou 4 stemme (36 DA 39 ANC). Twee is bedorwe briewe, dan kort hulle mos nog 2 stemme? Behalwe as alle lede nie gestem het nie of daar weer DA lede was wat vir die ANC gestem het.
Of het ek nou die kat aan die stert beet?

Johann ·

En die ANC legacy van korrupsie en wanbestuur en magsvergrype stoom voort…

Nico ·

Weer beloftes is gemaak die anc het die DA met n groot klomp skuld gelos wat moes betaal word en n groot klomp moet nog betaal word kom ons kyk of hulle dit kan betaal

Jacques Venter ·

Krugersdorp se finansies is redelik stabiel. Nou wil die ANC hulle laat saamsmelt met Randfontein, Zuurbekom, Molhakeng en Westonaria wat almal feitlik bankrot is.
Ek is so bly ek bly nie in Krugersdorp nie. Hierdie mense gaan betaal dat hulle bars

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.