ANC verdeeld oor Internasionale Strafhof


Setel van die Internasionale Strafhof in Den Haag (Foto: Hypergio – Eie werk via Wikimedia Commons)

Verdeeldheid het in die topgeledere van die ANC kop uitgesteek oor Suid-Afrika se veel gepubliseerde maar dikwels vertraagde voorgenome onttrekking aan die Internasionale Strafhof in Den Haag.

En nogmaals is dit ‘n geval van pres. Cyril Ramaphosa aan die een kant van die verdelingslyn, en die sekretaris-generaal van die regerende party, Ace Magashule, aan die ander kant.

Na verstaan word, is die kwessie op die mees onlangse vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) op die spits gedryf toe Ramaphosa, wat tans voorsitter van die Afrika-Unie is, gesê het die besluit van die ANC-konferensie by Nasrec in 2017 om aan die Strafhof te onttrek, het Suid-Afrika uit tred met die res van Afrika geplaas.

Hoewel bronne op die NUK-vergadering luidens ‘n berig in die Sunday Times gesê het die NUK het akkoord gegaan met Ramaphosa se siening, is dit nie vervat in die mediaverklaring wat na die NUK-vergadering deur die ANC uitgereik is nie.

Die mediaverklarings word uitgereik deur Magashule as sekretaris-generaal van die party. Magashule is na verstaan word nie gediend met die hersiening van die 2017-konferensiebesluit nie, en het aangevoer slegs ‘n ANC-konferensie kan die besluit van ‘n ANC-konferensie herroep.

Die volgende ANC-konferensie is in 2022.

Daar was in die verlede al omstredenheid oor wat Magashule by die mediaverklarings ter terugrapportering van ANC-leierskapvergaderings insluit en wat hy uitlaat.

Magashule se teenstand teen Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die Internasionale Strafhof het geen verrassing in politieke kringe veroorsaak nie, gegewe dat die Internasionale Strafhof korrupte leiers aan die pen laat ry.

Die Suid-Afrikaanse regering se besluit om by voorkeur aan die Internasionale Strafhof te onttrek (soos onderskryf deur die ANC se Nasrec-konferensie) is voorts gewortel in erg omstrede gebeure tydens die Zuma-bewind in Suid-Afrika (toe Ramaphosa weliswaar adjunkpresident was), en Magashule is ‘n Zuma-kornuit van die eerste water.

Suid-Afrika is naamlik as ondertekenaar van die Verdrag van Rome waaruit die Internasionale Strafhof tot stand gekom het, verplig om diegene vir wie dié hof ‘n lasbrief uitgereik het, in hegtenis te neem wanneer hulle hul voete in ‘n land sit wat die Internasionale Strafhof onderskryf, soos byvoorbeeld Suid-Afrika.

Die Internasionale Strafhof het in 2009 ‘n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van pres. Omar al-Basjir, destydse president van Soedan. Maar toe Al-Basjir in 2015 – as gas van die Zuma-regime – in Suid-Afrika aanland vir ‘n beraad van die Afrika-Unie, het Suid-Afrika sy plig versaak deur hom nie in hegtenis te neem nie.

Toe internasionaal en plaaslik uitgewys is dat Suid-Afrika se ondertekening van verdrae (in praktyk die land se erewoord) dus eintlik niks werd is nie, het die Zuma-regering en die destydse minister van internasionale verhoudinge, Maite Nkoana-Mashabane (tans minister van vroue, kinders en gestremdes) aangevoer Suid-Afrika moet aan die Internasionale Strafhof onttrek want dié is dan nou so teen Afrika gekant.

Sedert Ramaphosa se bewindsoorname het die twee vroue wat sedertdien die internasionale verhoudinge-portefeulje hanteer het – Lindiwe Sisulu en Naledi Pandor – al verder van dié standpunt geretireer, veral sedert Al-Basjir se bloedige bewind van twee dekades deur ‘n staatsgreep beëindig is.

Nou is die tafel gedek vir die volgende stryd tussen Magashule en Ramaphosa oor wie nou eintlik die ANC-leisels in die hand hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Ja Ace. Jys nie van plan om gevang OF gestraf te word nie.

Pompies55

Cyril is net so korrup soos magashule!Hulle,saam ndz moet hulle ry kry asook hele Anc skelm regering!

marius

Al Bashir . Is dit genoeg ? Huigelaars !

Genis

Hulle is die die drie skelm musketeers!

LANA is ELANè

Wel dit is debateerbaar oor wie hierdie geveg gaan wen, die ANC leiers natuurlik, en dit sluit nie die huidige president in nie – almal in SA weet wie die werklike leiers in die ANC is, die een wat meer korrup as die ander kan wees wen die leierskapstoel, onder die dekmantel van die huidige president.