ANC vergader in Mahikeng oor Mahumapelo se lot

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes (12 Mei 2017) Foto: ANA

Ondersteuners van die omstrede Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, het Woensdag in Mahikeng bymekaargekom en geskree “No Supra, no election!”.

Mahumapelo sou na verwagting sy bedanking Woensdag tydens ʼn perskonferensie aankondig, maar dit is onverwags uitgestel as gevolg van “nuwe verwikkelinge”.

ʼn Dringende vergadering van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) is in die Embassy-saal in Mahikeng gehou waar PUK-lede volgens berigte geweier het om Mahumapelo se bedanking te aanvaar.

Sussana Dantjie, provinsiale sekretaris van die ANC, het egter in teenstelling met dié berigte Dinsdagaand ʼn verklaring uitgereik wat Mahumapelo se vrywillige uittrede as premier van Noordwes verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig Mahumapelo het Dinsdagaand aan die SAUK gesê hy sal teen Woensdagmiddag die voormalige premier van Noordwes wees. Ure vroeër het Mahumapelo in sy provinsiale begrotingsrede bevestig hy sal voor Vrydag “ʼn brief aan die speaker van die wetgewer stuur”.

Hoewel hy nie uitgebrei het oor die inhoud van die brief nie, word daar wyd verwag dat dit sy amptelike bedanking sal wees ná weke lange volgehoue druk uit alle oorde dat hy moet bedank.

Betogers het weke lank aan gewelddadige protesoptredes deelgeneem om te eis dat Mahumapelo sy tasse pak. Inwoners beskuldig die premier van korrupsie wat hulle meen die rede is vir die swak toestand waarin die provinsie verkeer. Op talle plekke is daar ʼn ooglopende gebrek aan basiese dienste soos water en sanitasie. Betogers is ook ontevrede oor die provinsiale regering se onvermoë om werkskepping in die provinsie te bevorder.

Mahumapelo het Dinsdagoggend verwarrende kriptiese boodskappe in sy begrotingsrede gegee. “In sommige kritieke gevalle in ons lewe word daar op jou as lid van die mensdom ʼn beroep gedoen om die essensie van die afwesigheid van teenwoordigheid te skep. Dit is daarom dat ek binne die konteks van hierdie essensie van afwesigheid van teenwoordigheid en in volle ooreenstemming met die grondwet vir die speaker sal skryf met hierdie onderneming voor Vrydag vandeesweek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

thinus ·

Perfekte voorbeeld van ANC se organisatoriese (wan-) orde!

Eish ·

Duidelik soos daglig dat leierskap en stemvee van verskillende planete is.

Johann ·

Whahhaaaa… Esensie van afwesigheid van teenwoordig in die mensDOM se dinges se esensie van afwesig wees tydens aanwees sessies… HUH?

Supra en sy pos: soos n flikker lig… hy werk, hy werk nie, hy werk, hy werk nie? Mooi geleer by ZUMA… n Zumaukie loop nie sommer nie. Aikonna a, hy klou soos dinges aan n esensie van n aanwesigheid se afwesigheid se whara whara.

LAGWEKKEND!

Oom Kalahari ·

Dit is te bespeur waar vandaan sy taktiek van vertragings kom. Hy is mos een van Mnr Zuma se groot kaders en aanhanger. Deur hom en sy korrupte optredes het dit al miljoene rande se skade teweeg gebring met vandalisme en toy-toy optredes. Mnr Supra, jou seun het sommer net R1,1 miljoen rand as beurs ontvang vir ‘n vliegskool van die belastingbetalers se geld. Vlieg hy darem nou-al die SAA se A380 wat so vertoon word. Baie miljoene is wangebruik en vermis en tyd dat jy pak en aanbeweeg. Daar sal ‘n nuwe hoe pos vir jou geskep word deur die ANC. Sterkte en groete uit bokjol valley.

Werner ·

Sien nou op n24 vergadering is verby hulle se hy gaan nêrens nie

Neels ·

Die ou taktiek se jy gaan loop as dit donker word konkel jy en jou trawante en dreig mense. As die son opkom mobiliseer die massas en se hulle sal nie toelaat dat hy gaan nie, nou is dit mos die gemeenskap wat hom daar hou, hy wou dan nou so graag loop. Regte afrika politiek

Ella ·

“Cry the Beloved Country” met apologie aan die skrywer.
Ek voel ook nou so namens myself en die land se inwoners wat nog verstaan dat wat aangaan nie reg is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.