ANC-verkiesingskonferensie: Markte hou asem op

cyril-en-nkosazana-deur-ANA

Cyril Ramaphosa en dr. Nikosazana Dlamini-Zuma is tans die twee voorlopers in die stryd om die ANC se leierskap. Foto: ANA.

Twee van die land se voorste ekonome sê dat die ANC se verkiesingskonferensie wat eerskomende naweek in Johannesburg begin, na verwagting nie juis veel vir die ekonomie sal doen nie.

Dit is omdat Suid-Afrika reeds deur verskeie negatiewe faktore beïnvloed word wat deur die huidige regering veroorsaak is.

Die bekende ekonoom Mike Schussler sê markte is wel positief met die verwagting dat Cyril Ramaphosa, die ANC se huidige adjunk-president, die party se leierskapstryd kan wen. Hy waarsku egter dat Ramaphosa dalk nie die paal kan haal nie, wat verdere negatiewe uitwerkings op die ekonomie kan hê.

Schussler meen ʼn oorwinning deur Ramaphosa se teenstander, Nkosazana Dlamini-Zuma, kan beleggers afskrik en tot verdere kredietafgraderings vir die land lei. Schussler sê markte is te optimisties oor ʼn Ramaphosa-oorwinning.

Volgens Schussler sal die ekonomie ʼn onsekere tyd binne gaan sou Dlamini-Zuma wen. Hy meen Ramaphosa sal beleggersvertroue kan wen, maar dat drastiese stappe steeds nodig sal wees om die ekonomie te stimuleer.

Volgens Schussler neem die ANC-konferensie Suid-Afrika se ekonomiese toekoms in sy hande. “’n Verkeerde besluit kan die land duur te staan kom en tot kapitaal-uitvloei lei,” waarsku hy.

Intussen sê die hoofekonoom by die Efficient Groep, Dawie Roodt, dat wie ook al die leierskapstryd wen, nie juis verligting vir die ekonomie sal bring nie.

Hy meen ʼn Ramaphosa-oorwinning kan finansiële markte oor die korttermyn ʼn hupstoot gee. Hy verwag egter dat Suid-Afrika se fundamentele probleme oor die medium- tot langtermyn markte en die ekonomie kan pootjie. Van dié probleme sluit in die skrikwekkende werkloosheidsyfer, die tekort op belastingsinvordering, swak bestuur by staatsbeheerde ondernemings en die hoë staatsdiens-loonsyfers.

Roodt sê die faktore vererger die negatiewe persepsie wat daar van Suid-Afrika bestaan en meen ook, soos Schussler, dat dit tot ʼn kredietafgradering vroeg in die nuwe jaar kan lei. Hy sê ʼn Ramaphosa-oorwinning sal finansiële markte ʼn hupstoot gee, maar dat dit Ramaphosa se aksies sal wees wat uiteindelik bepalend sal wees.

Daarteenoor meen hy ʼn Dlamini-Zuma-oorwinning sal “net meer van dieselfde” meebring en geen aksie teen staatskapers sal geneem sal word nie.

Roodt meen dat Suid-Afrikaanse staatseffekte, waar daar in rand en buitelandse valuta geld geleen word, veral aan die kortste end kan trek. Hy sê dit kan tot vyf jaar duur om van die skade te herstel wat die ekonomie aangedoen is.

Boonop waarsku hy dat dit harde werk en moeilike besluite, soos staatsdienswerkverliese, sal moet insluit om die ekonomie weer op koers te kry. Roodt sê ook dit is noodsaaklik om staatsinstellings reg te ruk met die regte bestuur. Hy meen sukkelende staatsinstellings moet óf reggeruk óf verkoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Kan saamstem met die ontleders. CR gaan tot gevolg hê dat ons langer en stadig met heelwat lyding ons tydjie in die kookpot gaan deurbring. Met NDZ is ons ge “fast forward”
Al die idiome wat ek op skool geleer het, kry nuwe diepte in die helhool.
“Tussen die duiwel en die diepblou see.”

Nico K ·

Ons sal eers moet sien of die Zumas so maklik gaan oorgee. Onthou as Ceril inkom is die tronk ‘n moontlikheid vir Zuma. Hy gaan hard baklei voor dit gebeur.

Johannes Kriel ·

Slaan my nou met a slap voel oor die voorkop maar dit maak net glad nie vir my sin nie? Hoe kan hulle dit toelaat. Dis totaal en al vir my onaanvaarbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.