ANC verloor steeds steun in tussenverkiesings

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Die agteruitgang van die ANC in munisipale tussenverkiesings het verlede week voortgeduur, met die regerende party wat kwaai teruggesak het in Noordwes en nog ʼn wyk aan Inkatha afgestaan het in KwaZulu-Natal.

Die vreugdevure sal hoog brand in IVP-kringe nadat Tholinhlanhla Ngema wyk 7 in die Mthonjaneni-munisipaliteit by die ANC afgeneem het, om ʼn sterk neiging na die IVP weg van die ANC voort te sit.

Die wyk sluit ʼn landelike gebied tussen Empangeni en Melmoth in Zoeloeland in. Ngema het 1 188 stemme getrek teenoor 1 006 vir die ANC, 53 vir die NFP en 30 vir die EFF.

Die versplintering in die swart stem weg van die ANC was ook waarneembaar in Mahikeng wyk 19, wat verskeie nedersettings net buite Noordwes se hoofstad op die N18 vanaf Vryburg, insluit.

Daar het Nonzame Hlazo (ANC) weliswaar die wyk behou, maar met ʼn drasties verkleinde meerderheid en ʼn swaai van 21 persentasiepunte teen die ANC sedert 2016.

Verlede week het die ANC 491 stemme getrek teenoor 334 vir die EFF, 318 vir die Forum for Service Delivery, 42 vir ʼn onafhanklike kandidaat en 7 stemme vir die SAPP.

Die Forum for Service Delivery (F4SD) raak ʼn party om dop te hou in Noordwes en die Vrystaat in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing. Die party het na links uit die ANC ontstaan in reaksie teen ANC-korrupsie. Die F4SD het in 2016 in verskeie stadsrade verteenwoordiging verkry, en hul steunvlakke blyk redelik standhoudend te wees.

Wat minder seker is, is hul uiteindelike lojaliteit in die politieke magspel. Dit blyk veranderlik te wees. In die Metsimaholo-stadsraad in Sasolburg het hulle byvoorbeeld ʼn groot rol gespeel om die meerderheid aanvanklik aan die opposisie te besorg, net om dit later aan die ANC te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

In die kwynende steun vir die ANC het ons die ware rede hoekom Ramaphosa gister die ANC se 2019 verkiesingsveldtog afgeskop het met die verklaring dat die grondwet verander gaan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Dit is eenvoudig die Mugabe 2.0 opsie vir die ANC – as die regerende party misluk en hul steun kwyn, val dan die wit minderheid aan en neem hul eiendom af.

Soos witmense nou die land sal uitstroom, sal die rug van die DA gebreek word en die EFF sal moeilik vordering kan maak teen ‘n nuwe ‘revolusionêre ANC’ wat nou self die eiendom van wittes mag uitdeel. Die versterkte ANC sal dan net soos Mugabe na 1998 vir die volgende twee dekades kan regeer.

Meeste van wat dusver oor onteiening gesê was, is ‘n klug – onteiening sonder vergoeding gaan bloot oor die behoud van die ANC as regerende party en niks anders nie.

hendrik ·

Casper, se ek ook. Die anc stel nie belang om te regeer of opbou nie, maar alles gaan oor bewind.

John ·

En dis hoekom die grond gegryp en uitgedeel wil word… bloot die (om)koop van stemme vir die ANC vir ’19. Dit het in Zim gewerk. Kyk nou. Net wat gaan ons die bestel noem as demokratiese regte nie meer geld nie… waarvan eiendomsreg een is? Kommunisme of Sosialisme? Of hoop CR die wereld gaan stilbly? Anargie is sekerlik oppad of dr x-Zuma nou mooi smile vir die volk op tv of nie. Gemoedere loop hoog en die verwagtinge staan op 99%. Hier is net soveel plase in SA met miljoene afwagtendes. Die plaaseienaars gaan die minste van hul probleem wees, eerder die opposisie… die ander grypers. Die weermag sal bang wees om op te daag…

Casper Labuschagne ·

@John – jy is doodreg. 32,000 plase en 170,000 stedelike eiendomme is nie deelbaar in 40 miljoen wat nou glo dat hulle grond gaan ontvang nie. Wat van hulle, want hulle gaan verseker nie net weer gaan sit nie. Hierdie monster het losgekom en gaan nie gou weer in ‘n hok gevang word nie.

Sonder eiendomsreg is dit neusie verby vir die wit minderheid, diegene wat sal agterbly sal mettertyd alles verloor wat hulle besit en absolute verarming in die gesig staar – of dit ‘n jaar sal neem of vyf jaar, maar dit kom. Ek sien ook nie meer enige rede om aan enige politieke proses deel te neem nie, die skrif is reeds aan die muur vir die wit minderheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.