ANC verloor steun in plattelandse tussenverkiesings

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Die ANC het steun ingeboet in die mees onlangse tussenverkiesings, wat in Bosbokrand in Mpumalanga en naby Lady Frere in die Oos-Kaap plaasgevind het.

Soos wat die patroon besig is om landwyd te vorm, het die steun van die grootste party af versplinter na wie ook al die sterkste opposisie in die gebied is.

In hierdie geval was die twee tussenverkiesings in twee diep landelike gebiede, en wys die uitslae nogmaals dat die koring groen op die land staan indien opposisiepartye hul eie interne probleme  kan oplos, kan saamwerk en ’n beter alternatief tot die ANC kan stel.

Die ontevredenheid met ANC-regering is daar. Dis die beter alternatief wat kort.

In die geval van die eMalahleni-munisipaliteit, wat setel in Lady Frere in die voormalige Transkei (en verwarrend genoeg dieselfde naam dra as die munisipaliteit wat Witbank op Mpumalanga se steenkoolvelde bedien!), is wyk 6 aan die uithoek van die munisipaliteit naby Queenstown geleë. Dit is volkome tradisioneel landelik.

Hoewel Nicolas James (ANC) gewen het met 1 689 stemme teen 133 vir die EFF en 130 stemme vir die UDM, verteenwoordig die uitslag ’n swaai van agt persentasiepunte teen die ANC sedert 2016.

Selfs taaier nuus vir die ANC het gekom vanaf die Bosbokrand-gebied in Mpumalanga, waar ’n tussenverkiesing in wyk 5 gehou is. Soos die res van Bosbokrand is dit digbevolkte landelike gebied, in hierdie geval aan die regterkant as jy met die grootpad van Witrivier na Acornhoek ry, kort nadat jy die rivier oorgesteek het om Bosbokrand van Witrivier se kant af binne te kom. Die wyk omvat die nedersettings Marite en Alexandria.

Daar het Sabelo Mkhabela (ANC) 1 751 stemme getrek teen 538 vir ’n plaaslike onafhanklike kandidaat, 130 vir die EFF en 59 vir die plaaslike inwonersvereniging. Dit is ’n verswakking van 18 persentasiepunte vir die ANC sedert 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

woorde ·

die anc se steun is dalk onderworpe aan hulle kundigheid. hoe kan die konstitutionele hof beslis dat wapeneienaars wie se lisensies verval het, binne 90 dae moet wapens inhandig vir VERNIETIGING maar voertuig eienaars en tv eienaars, hoef nie hulle voertuie en tv’s in te handig vir vernietiging nie? hoe grondwerlik is dit? tog swyg afriforum, vf+ en hulle gerrie nel oor hierdie presedent wat geskep is.

Koos ·

Klink of Garmin die berig geskryf het, regs verby die grondpad, hou verby die bruggie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.