ANC veroordeel Beeld se Zuma-artikel

Adriaan Basson Foto: @AdriaanBasson, Twitter

Adriaan Basson Foto: @AdriaanBasson, Twitter

Die ANC het Dinsdag ʼn rubriek deur Adriaan Basson, redakteur van Beeld, veroordeel waarin hy die president kritiseer.

Die berig, Hoe raak ons ontslae van pres. Jacob Zuma?, het Maandag in die koerant verskyn. (Dit is in Engels vertaal en ook op News24 gebruik.) Basson voer in die rubriek aan die land benodig ʼn nuwe leier en Zuma kan nie meer baie lank president wees nie. Hy glo Zuma is nie daardie leier nie en dit het duidelik na vore gekom in sy [Zuma] reaksie op verslae oor die opgraderings van R246 miljoen by sy huis in Nkandla in KwaZulu-Natal.

Zizi Kodwa, woordvoerder vir die ANC, het in ʼn verklaring die rubriek as “minagtend” en “arrogant” beskryf. “Die artikel dui op ʼn obsessie deur Basson om ʼn vasbeslote, desperate en nuttelose veldtog te voer om van pres. Zuma ontslae te raak,” het hy gesê. “Hy ignoreer die wil van 11 miljoen Suid-Afrikaners wat die mandaat van die ANC hernu het, met Zuma aan beheer van sake om die land te lei.”

Kodwa voer aan Basson het “blatant gejok”. “Hy het gesê dat [Zuma] van beter moes weet toe ʼn paleis uit die niet rondom hom verrys het,” aldus Kodwa. “Dit is algemeen bekend en die Openbare Beskermer het dit so bevestig dat die president nie van staatsgeld gebruik gemaak het om sy woning te bou nie. Pres. Zuma het al met die bou van sy woning begin en daarvoor betaal nog voordat hy as staatshoof van die land aangestel is. Dit is eers nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens betrek is, dat die koste van veiligheid na vore gekom het. Die ANC ondersteun die president sonder voorbehoud in sy versoek aan die minister van polisie om sy grondwetlike plig uit te voer om te bepaal watter van die koste van ʼn veiligheidsaard is sodat hy, soos wat hy al minstens drie keer vantevore gesê het, private uitgawes van openbare uitgawes kan skei.”

Kodwa sê die ANC is onomwonde verbind tot vryheid van spraak, maar Basson hanteer demokrasie asof dit “wegdoenbaar” is deur drie opsies aan te bied om “voor 2019 van Zuma ontslae te raak”.

Basson het in reaksie op die ANC gesê die rubriek spreek vanself. Basson sê die artikel is nie bedoel om mense teen Zuma op te stook nie, maar bloot om te verwoord wat deur mense binne en buite die ANC gesê word. Hy voer aan mense word al hoe meer ontstel deur Zuma se gebrek aan leierskap.

Intussen het Marius Redelinghuys, woordvoerder vir die Demokratiese Alliansie, in ʼn verklaring die ANC gewaarsku dat die skandaal van opgraderings by Nkandla nie gaan weggaan deur Basson aan te val nie. “Die histeriese reaksie op Basson se rubriek werp lig op die ANC se onsekerheid en onvermoë om rasioneel die luukse opgraderings te verduidelik. “Die vry en onafhanklike media is ʼn waghond teen regeringsmisbruik, nie ʼn skoothondjie wat dit teen ondersoek moet beskerm nie,” het Redelinghuys gesê.

Anton Alberts, woordvoerder vir die VF Plus, het gesê die aanval van die ANC op die media en op die koerant Beeld in die besonder is “ongehoord” en skep die indruk dat die ANC en sy leier wel ernstig is met die regulering van die mediawaghond in Suid-Afrika. “Die waarheid is dat Zuma self ‘n persepsie geskep het dat hy iets het om weg te steek deur verskeie hofsake, sy vreemde vriendekring soos die Guptas en skandale soos Nkandla,” het Alberts bygevoeg. “Zuma moet as leier van die ANC en president van Suid-Afrika pa staan vir sy dade en as hy aanhoudend die persepsie bly skep dat die misbruik van staatsfondse en die vriendskap met ongure karakters in orde is, moet hy bereid wees om kritiek te verduur. In die lig hiervan is billike kritiek in orde, asook ʼn oproep van die publiek en die media dat hy moet plek maak vir iemand beter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

demokraat ·

Zuma is die hoogste openbare figuur in Suid-Afrika en is verder ook nie verhewe bo kritiek nie.

As president van ‘n land, laat sy optredes en vriendskappe veel te wense oor – die destydse wapenskandaal is nog vars in die geheue; sy sekskapades met vroue en reiniging deur slegs te ‘n stortbad te neem, word nog steeds wyd onthou; die onlangse Gupta skandaal is nog lank nie vergete en laastens sal die Nkandla-vergryp nooit tot ruste kom nie.

Zuma se optredes pas eenvoudig nie by sy presidentskap nie en kan dit in geen gesofistikeerde bestel lank hou nie. As die meerderheid en deurgaanse onderontwikkelde en afgesonderde Afrikane sy optredes goedkeur, beteken dit nog nie die ganse beskaafde wereld moet dit ook goedkeur nie.

Jandre Kroeze ·

Net die feit dat die ANC reageer is n aanduiding dat daar iets verkeerd is gaande Zuma en sy doen en late. Die waarheid maak seer. As dit nie waar was nie, dan zou hulle nie gereageer het nie. Logies.

Thys Human ·

Ek vind dit verstommend dat Alberts van die VF+ vir Basson in die bresse tree. Basson lag homself seker ‘n papie dat hy die mense wat hy die meeste minag en gereeld op hulle instellings en kultuur braak, nou sy kant kies.

Ja, persvryheid is goed en wel en die media moet kwaai krities wees, maar ek is bevrees die ANC het ‘n baie goeie punt gemaak deur daarop te wys dat die kiesers kwalik 4 maandfe gelede vir die ANC met Zuma as leier gestem het – en Basson en sy DA-vriende en (helaas ook die VF+) totaal verwerp het. Dit is verregaande en vermetel om nou te eis dat Zuma moet waai – net omdat Basson en kie nie van hom hou nie! En dan bly die vraag steeds: indien Zuma moet waai, wie gaan hom vervang? Beslis nie Ramaphosa nie – hy is weer by die Marikana verhoor verneder en afgetakel. Nee, dit sal ‘n nog meer radikale wees wat die bedreiging van die Malemas hok kan slaan.

Alberts maak hom verder daaraan skuldig dat hy bewerings oor Zuma wat nog nie naastenby bewys is nie, tot “feite” verhef.

Lynni ·

Ek stem 100 persent saam met Thys. Basson het afrikaners al te veel kwaad gemaak. (Pukke debakel). Soek nou mense om sy koerant te koop. Wie gaan by Zuma oorneem? In engels is gesegde: carefull what you wish for.

Koos ·

Die punt is: Zuma is nie soseer ons problem nie, maar die massas wat vir hom stem is wel.
Hoe verander jy dit?

Johannes ·

Grassie ek stem saam ek het in elk geval geen tyd vir hom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.