ANC veroordeel gedrag deur ‘ANC-lede’ in PE

Argieffoto

Die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in die Oos-Kaap het sy skok uitgespreek oor die gedrag van ʼn groep mense Saterdag wat “beweer het hulle is ANC-lede” by die ANC Nelson Mandela-streekskantoor, Florence Matomela House in Port Elizabeth.

“Ons is bewus dat die betogings goed georkestreer is om die appèlproses van takke, oor die uitslag van takvergaderings in die metro, te ontwrig,” het Oscar Mabuyane, sekretaris van die ANC in die Oos-Kaap, Sondag gesê.

“Wat ons die meeste geskok het, was die teenwoordigheid van een wyksraadslid, wie se takke nie veronderstel was om deel te wees van die appèlproses op dié dag nie, aangesien dit reeds Vrydag aangespreek is deur die nasionale uitvoerende komitee onder leiding van comrade Mcebisi Skwatsha,” het hy gesê.

Die ANC in die Oos-Kaap het die gedrag “ten sterkste veroordeel” en versoek dat dié “gruwelike vertoning van ontevredenheid” dadelik opgeskort moet word, wat ook al die rede.

“Dit maak ʼn bespotting van die reg om te betoog en verminder die statuur van griewe en die werklike kwessies wat aangeroer kon word. Indien daar enige lede van die ANC betrokke was by hierdie tipe optrede, moet hulle dadelik ophou daarmee, of hulle sal ondersoek word en dissiplinêre stappe deur die organisasie in die gesig staar,” het Mabuyane bygevoeg.

“Die neiging deur sekere ANC-lede oor die land heen om hulself te wend tot gewelddadige betogings, die ontwrigting van ANC-vergaderings, gewelddadige besetting en die afbrand van ANC-kantore en simbole om organisatoriese besluite en prosesse te daag, vernietig die organisasie van OR Tambo. Die ANC-leierskap moet konsekwent en beslissend wees wanneer daar teen hierdie tipe praktyke opgetree word, sonder vrees of voordeel.”

Maroela Media het vroeër berig Skwatsha, adjunkminister van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, is Saterdagoggend vir ʼn kort rukkie gyselaar gehou deur ʼn groep betogers by die ANC se streekskantoor. Die polisie is ontbied om hom na sy hotel terug te vergesel nadat ʼn paar ANC-lede hom verhoed het om die kantoor te verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johannes van Rooyen ·

As hulle hulle eie goed ontwrig is geskok maar as hulle goed afbrand en ander partye ontwrig dan sê hulle niks ANC VERTROU MEKAAR NIE EERS NIE HOE MOET DIE RES VAN DIE LAND DAN ????

Toppie ·

Dit is mos hoe hulle geleer is deur die ANC, dis- respek en brand alles af , hoe voel dit as die skoen in die ander voet is.

Johann ·

Draai daai skoothondhies nou om en byt hulle base aan die gat! Lekker…..

jaco ·

en die ergste van alles: volgende verkiesing stem al daardie ANC mense wat nou so teen die ANC betoog, maar net WEER vir die ANC

Adam ·

Interessante opmerking Jaco. Ek moet jou gelyk gee, Afrika se mense is versot op armoede.

Rupert Ashford ·

Ironies ne? Die Engelsman het ‘n gesegde van ‘n “slippery slope”. Mens kan nie hierdie tipe menslike gedrag beheer en ‘n harde grens stel van “dit is reg en selfs edel as jy die opposisie aanval maar moenie jou eie mense oor dieselfde kam skeer nie”. Die geskiedenis het hope voorbeelde van hoe hierdie tipe ding buite beheer raak en ontaard in anargie. En dan sit jy met goed soos die EFF en Mugabe. Die wereldwye Antifa beweging en alles daarmee saam stuur op dieselfde gemors af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.