ANC veroordeel “seks vir werk”

harassment-2Die ANC het bewerings dat regeringsamptenare in Bisho in die Oos-Kaap seks geëis het van vroulike interns in ruil vir ‘n werk, ten sterkste veroordeel.

“Ons wil dit duidelik stel dat niemand die reg het om seks te eis van enigiemand in die werkplek nie,” het Lubabalo Mabuyane, provinsiale sekretaris van die ANC, in ‘n verklaring gesê. “Regeringsinstellings het ‘n beleid in plek om sake te hanteer rakende seksuele teistering en die beleid moet deurentyd aan werknemers gekommunikeer word sodat hulle bewus is daarvan.”

The Herald het vroeër berig dat sommige regeringsamptenare in die provinsiale wetgewer betrokke is by ‘n skandaal waar seks geëis word vir werk. Die bewerings dat amptenare seksuele gunste van interns geëis het in ruil vir ‘n werk het verlede week in die wetgewer aan die lig gekom.

Interns wat geweier het om aan die seksuele eise te voldoen se kontrakte is glo nie hernu nie. Die koerant het berig dat die vakbond Nehawu vir Noxolo Kiviet, speaker van die provinsiale wetgewer, gevra het om die bewerings te ondersoek.

“Ons ondersteun die regering se ondersoek na die saak en doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om die speaker se kantoor of die polisie te kontak,” het Mabuyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.