ANC vertraag ondersoek teen openbare beskermer

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Die ANC-meerderheid op die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en grondwetlike ontwikkeling het Woensdag ʼn poging van die opposisie om ʼn ondersoek te doen na die geskiktheid van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhabane, suksesvol vertraag.

Dit was van die begin van die sitting af duidelik dat die ANC langtand was om enige optrede teen Mkhwebane te neem, met die komitee se voorsitter, dr. Mathole Motshekga, wat sy ontevredenheid daarmee duidelik laat blyk het in ʼn aanvangstoespraak van sowat tien minute.

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het die aansoek dat Mkhwabane se geskiktheid vir haar pos deur die parlement ondersoek word, ingedien. Hy het dit gegrond op twee afsonderlike hofbevindings teen haar in die Noord-Gautengse hooggeregshof.

Die hof het bevind dat Mkhwabane haar magte erg oorskry het toe sy bevind het die Grondwet moet verander word betreffend die Reserwebank, dat sy ʼn swak begrip van die reg geopenbaar het, dat sy die onafhanklikheid van haar amp in die gedrang gebring het, dat sy irrasioneel en ongrondwetlik opgetree het, dat sy prosedureel onregverdig en onwettig opgetree het en dat haar gedrag verkeerd was.

In ʼn hoogs ongewone stap het die hof ook ʼn kostebevel teen Mkhwebane persoonlik ingestel.

Op grond hiervan het Steenhuisen gevra dat Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos deur die parlement opgeweeg word, soos deur die Grondwet bepaal.

Hierin is hy in die komitee ondersteun deur die DA, EFF, ACDP en VF Plus, maar ANC-lede was uiters onwillig.

Motshekga het gesê baie mense dink soms regters maak foute, maar hulle lê nie elke keer ʼn klagte nie. In reaksie het Steenhuisen uitgewys dat dit wel dikwels gebeur dat klagtes teen regters gelê word, maar dat dit uiteraard by die regterlike dienskommissie gebeur, wat die aanstelling van regters hanteer. ʼn Klagte teen die hoof van ʼn artikel 9-instelling soos die openbare beskermer moet egter deur die parlement aangehoor word, want die parlement het haar aangestel. Die voorbeelde is dus nie vergelykbaar nie, aldus Steenhuisen.

Die ANC het aangevoer dat Mkhwebane geappelleer het teen die bevindings teen haar, maar Steenhuisen het uitgewys dat haar appel slegs op die kostebevel teen haar van toepassing is; nie teen die res van die bevindings nie.

Al die lede van die komitee het vervolgens gemeen dat Mkhwebane die geleentheid moet kry om haar saak te stel voordat die komitee kan besluit of ʼn ondersoek gedoen moet word.

Toe die opposisie egter probeer om ʼn sperdatum vir Mkhwebane se verduideliking daar te stel het die ANC by monde van Motshekga viervoet vasgeskop. Die gebrek aan ʼn sperdatum het adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, laat opmerk dat dit suksesvol vertraag is en waarskynlik nooit gaan plaasvind nie.

Die komitee is op dié ontevrede noot uiteen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willem ·

Al is CR nou aan die stuur, gaan die land nerens nie. As hy nie van die oorblywende korruptes, wat hom blykbaar ‘gevange’ hou en die onbevoegdes ontslae raak nie, sal die dinge van die verlede aangaan. Nou is dit nie Zuma wat vry na die OB se gunste nie, hy is mos nou nie meer ‘n faktor nie, maar sy kabinet. Nou waarom sal hulle na haar gunste vry, of is dit ‘n simpel vraag?

Willem ·

Is daar nog iemand anders wat die kitaar slaan en waarvan die mense hul opdrag kry?

Jerry ·

Luthuli huis Willem, dit is die ANC se HK, hulle slaan die kitaar.

Pieter ·

Die ANCircus is nou maar eenmaal n korrupte en onbevoegde klomp narre.

Stealers Wheel se lied is gepas. Clowns to the left of me! Jokers to the righ! Here I am, stuck in the middle with you

Paul ·

Slaan jy die spyker dat hy sommer heeltemal ombuig. Hehehehe ……

Ella ·

SA se mense, die wat nog kan sien dinge gaan erg verkeerd, kan weereens se: “Cry the beloved country”
Onbevoegdes en korruptes word oral beskerm.
Hoekom sal hulle haar nou anders behandel?

J B ·

Die OB is totaal onbevoeg. Hierdie verslag is heelwaarskynlik inderhaas op instruksie/versoek van iemand anders gedoen om die aandag af te lei van een of ander probleem of blaps deur die Anc.

Pierre ·

Hulle weet indien hulle haar laat gaan en n raakvatter kom in haar plek, dan kom die sambok weer uit en n hele paar se agterstewe gaan brand. So, kom ons vermy dit liewer en hou haar in plek sal die denkwyse wees!!

Koos ·

Die ANC se oorbekende ware kleure toon geen verbleiking oor die jare nie!

Ongelukkig is dit al positiewe aspek in hulle agenda wat staande bly, die res is steeds afbrekend en net al meer so oor die tyd, soos wat huidig bewys word.

Nou word ‘n ondersoek na ‘n onbevoegde openbare beskermer deur die ANC vertraag, nie lank terug nie was NVG se Shaun Abrahams in die gedrang en moes afgedank word.
Het dit gebeur?
Geensins!!!

En so is CR maar net nog ‘n pion in die ANC se strategie van vernietiging, bedrog, korrupsie en wat alles daarmee saamgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.