ANC verwelkom óók parlement se Nkandla-ondersoek

Nkandla homesteadStone Sizani, die ANC se hoofsweep, het Donderdag die parlement se besluit om die veelparty-parlementêre komitee op te stel om die Nkandla-verslag voor die algemene verkiesing te ondersoek, verwelkom.

Sizani het sy steun vir dié besluit saam met die Demokratiese Alliansie en die Vryheidsfront Plus bekendgemaak.

“Die besluit om die komitee op die been te bring is geneem kragtens die reël dat die speaker ‘n komitee van hierdie aard kan saamstel in oorleg met die hoofsweep van die meerderheidsparty en ander partye,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Die veelparty-parlementêre komitee se mandaat is om pres. Jacob Zuma se reaksie op die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor Nkandla te oorweeg een aanbevelings te maak, waar nodig.

Max Sisulu, speaker van die parlement, het Woensdag amptelik aangekondig dat ʼn komitee van 12 lede aangestel gaan word. Die komitee moet voor 30 April verslag lewer aan die parlement.

“In teenstelling met die opportunistiese, verkeerde en doelbewus misleidende verkiesingsretoriek van die DA, het dié komitee niks te doen met die DA se versoek dat president Jacob Zuma vervolg moet word nie,” het Sizani bygevoeg. “Dit is natuurlik dat die parlement, as die hoogste verteenwoordiger van die mense kragtens ons grondwetlike demokrasie, so ‘n spesiale proses sal ontwikkel om ‘n kwessie van nasionale belang, soos hierdie een, te oorweeg,”

Die komitee sal bestaan uit sewe ANC-LPs, twee DA-LPs, en een LP elk van Cope, die IVP-lid en een van die ander agt politieke partye in die parlement. Die komitee sal sy eie prosedures en vergaderings opstel en skeduleer.

Die DA het Donderdag gesê die komitee is die eerste stap in die stryd om president Jacob Zuma te laat vervolg. Die VF Plus het gesê daar rus ‘n baie groot verantwoordelikheid op hierdie ad hoc-komitee om reg te laat geskied aan die bepalings van die grondwet, sowel as om toe te sien dat die parlement en wetgewende gesag hulle oorsigtelike rol oor die president en die uitvoerende gesag behoorlik vervul.

Madonsela het haar finale verslag, genaamd “Secure in Comfort”, op 19 Maart vrygestel. Sy het bevind dat Zuma en sy familie onbehoorlik gebaat het by die opgraderings. Sy het ook bevind dat Zuma die land se Etiekwet vir Uitvoerende Lede oortree het. Madonsela het voorgestel dat Zuma ʼn persentasie van die geld moet terugbetaal. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Griet ·

Wie gaan hulle nou glo? Die “komitee” se hoofopdrag sal wees om bewyse te kook/plant/fabriseer wat Zuma verontskuldig en die vermorsing van die uitgawes ten alle koste te regverdig.
“Mark my words.”

anita ·

Die vraag is, hoe ver sal hierdie komitee kom! niks gaan verander nie, en Hy sal geen sent betaal nie
en soos reeds vir vele jare gaan ons dit aanvaar, want ons het geen steun sterk genoeg om enige verandering aan die saak te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.