ANC verwelkom skorsing van EFF-parlementslede

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die ANC het Vrydag die skorsing van 20 LP’s van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) sonder ʼn salaris uit die parlement verwelkom.

Die verslag en aanbevelings van die komitee oor regte en voorregte is Donderdagaand goedgekeur nadat hulle bewerings van wangedrag teen die 20 EFF-lede in die parlement ondersoek het.

“Al 20 EFF-LP’s, insluitend partyleier Julius Malema, is skuldig bevind aan minagting van die parlement ná hulle op 21 Augustus 2014 die parlement ontwrig en hulself wangedra het,” het Moloto Mothapo, woordvoerder van die ANC, in ʼn verklaring gesê. Hulle het president Jacob Zuma tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie uitgejou, Hulle het ook “betaal terug die geld” gedreunsing, waarna die verrigtinge gestop moes word.

Mothapo het gesê hul optrede het die geskeduleerde verrigtinge van die Nasionale Vergadering belemmer en so verhoed dat die huis sy pligte uitvoer.

“Verskeie sanksies is teen die 20 LP’s opgelê kragtens die kategorieë van aanklagte waarop hulle skuldig bevind is. Die eerste groep, wat die ringleiers Malema en EFF-hoofsweep Floyd Shivambu insluit, is vir ʼn tydperk van 30 dae sonder vergoeding geskors,” het Mothapo gesê. “Die tweede groep is vir ʼn tydperk van 14 dae sonder vergoeding geskors. Die derde groep is beveel om die huis om verskoning te vra en is met die ekwivalent van 14 dae se salaris beboet en enige toelaag wat hulle sou ontvang.”

Mothapo het die komitee vereer vir die volledigheid, regverdigheid en deursigtigheid waarmee hy sy verpligtinge binne nege weke afgehandel het.

Malema het Donderdag buite die parlement gesê die party gaan Vrydag ʼn dringende aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad bring om die skorsing te betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.