ANC verwerp ‘korrupte’ GladAfrica-skikking

Stevens Mokgalapa. Foto: DA

Die opposisie ANC in Tshwane het Donderdag burgemeester se skikking met die ingenieursmaatskappy GladAfrica verwerp wat ʼn onreëlmatige kontrak met die stad aangegaan het.

Kgosi Maepa, streeksvoorsitter van die ANC in Tshwane, het gesê die party veroordeel die betaling van R250 miljoen aan GladAfrica deur die nuwe uitvoerende burgemeester Mokgalapa en die stadsbestuurder dr. Moeketsi Mosola. “Ons is verstom deur die blatante minagting van die voorskrifte van die wet deur die DA-administrasie in Tshwane. Dit is verbysterend dat Mokgalapa en Mosola eenvoudig die veroordelende bevindings van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika oor die GladAfrica-skandaal tersyde kon stel.”

Maepa het gesê Mokgalapa het nie die mag om die GladAfrica-kontrak te kanselleer en “ʼn korrupte goue handdruk van R250 miljoen” teen die einde van Junie te betaal sonder om die Tshwane-raad om goedkeuring te nader nie. “Ons ondersteun nie die verslag van die kantoor van die uitvoerende burgemeester in sy huidige formaat nie. Ons beveel aan dat die onreëlmatige kontrak met onmiddellike effek gekanselleer moet word sonder enige verdere betalings.”

Die ouditeur-generaal het bevind die R12 miljard-kontrak was onreëlmatig.

Mokgalapa het vroeër vandeesweek aangekondig die kontrak, wat die Tshwane-belastingbetaler reeds R300 miljoen gekos het, sal slegs aan die einde van die finansiële jaar gekanselleer word. Die kontrak is in November 2017 aangegaan om bystand te bekom van die maatskappy om infrastruktuurprojekte te bestuur ten bedrae van R12 miljard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riaan ·

Hoop Pretorianers is voorbery op moewiese storms en sneeu en hael en, en, en, want vir eenkeer praat CancER sense en ek stem saam met hulle! Hoekom vir die spul nog R250 m gee?
Nie ‘ n belowende begin vir korrup solly se opvolger nie!

Michael ·

Julle moet onthou hy is nou D A maar groot geword in die ANC onthou net dit.

Marietjie Blignaut ·

Oeps…. DA toe nie so onskuldig nie. Wie kan mens deesdae vertrou? Geld is die wortel van alle kwaad…..

Francois in NZ ·

Its is fout hier, GladAfrika is in goeie skoon hande. Hulle is sekerlik net vir dienste gelewe betaal. Hulle word heelmoontlik geteiken omdat hulle nie korrup is nie. Kyk wie maak die aantuigens en kyk wie doen die werk. Kyk eers mooi wat gaan aan voordat julle begin klippe gooi. Jare gelede toe ek die bestuur van GladAfrika geken het, was dit mense met integniteit.

Sarel ·

Die ANC se handjies is leeg, daar mag mos nie so n klomp geld hande verwissel en hulle ontvang niks nie. Belastingbetalers, doen julle plig met Burgerlike oorsigrol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.