ANC-veterane: ‘Moenie vir korruptes stem nie’

Foto: ANA.

Veterane van die ANC het Dinsdag ʼn beroep op partyleiers en afgevaardigdes gedoen om by die komende verkiesingskonferensie nie te stem vir mense wat geïmpliseer word in korrupsie en ander oortredings nie.

Dit kom slegs dae voor die ANC se 54ste nasionale konferensie die naweek in Johannesburg gehou sal word.

Die veterane van die party het gesê dit is nou tyd om dié beweging tot sy voormalige glorie te herstel. Die party se nuwe leierskap, topses-beamptes en nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal by dié konferensie, waarby sowat 4 000 afgevaardigdes verwag word, verkies word.

Die ANC-veterane het onlangs hul eie alternatiewe nasionale raadplegende konferensie gehou waar hulle besluit het dat Lindiwe Sisulu, NUK-lid, die party moet lei.

In ʼn emosionele ope brief wat deur Wally Mongane, ʼn vryheidstrydveteraan, onderteken is, doen hulle ʼn beroep op “mans en vroue om die integriteit binne die ANC en die regering te eer en op te staan teen alle vorme van korrupsie” wat die organisasie, regering en sy reputasie ondermyn en vernietig.

“Ons doen veral ʼn beroep op die NUK om leiding te gee en afgevaardigdes aan te moedig om nie hul stemme te gee aan dié wat betrek word by oortredings en niks gedoen het om hul naam in ere te herstel nie.”

Die veterane het ʼn beroep op stemmers gedoen om die rigting wat die ANC ingeslaan het te verander en die party terug te bring na sy waardes en beginsels. “Stem vir integriteit, eerlikheid, teen-korrupsie, teen-faksies en vir eenheid.”

Hulle het verder ander ANC-lede gevra om “die regte ding te doen” en enige moontlike oortredings bloot te lê aan wetstoepassers en die party se integriteitskommissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.