ANC-veterane sê Zuma moet betaal

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die ANC se veteraneliga glo president Jacob Zuma moet die eerbare ding doen en ʼn gedeelte van die R246 miljoen terugbetaal wat spandeer is om sy private woning in Nkandla op te gradeer, het die Mail&Guardian Vrydag berig.

Sandi Sejake, president van die veteraneliga, Ben Turok, voormalige ANC-LP, en Mavuso Msimang, voormalige direkteur-generaal van binnelandse sake, het Zuma gekritiseer vir sy verontagsaming van Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, se aanbeveling dat hy ʼn gedeelte van die geld moet terugbetaal.

“Die president het by die konstruksie gebaat, ondanks die feit of hy dit gemagtig het of nie. Indien jy baat moet jy iets betaal,” het Turok gesê. Zuma beweer dat hy nie die opgraderings aan sy Nkandla-woning versoek het nie.

“Algemene kennis sê vir my die man het naweke by Nkandla deurgebring en het gesien daar gebeur dinge,” het Turok gesê.

Sejake het ANC-LP’s intussen daarvan beskuldig dat hulle Zuma nie verantwoordbaar hou nie. “Ons [die ANC] het mense gestuur wat nie kan debatteer nie, maar om hulle belange te beskerm. Hulle gebruik Zuma om hulle neste te veer,” het Sejake aan die koerant gesê. “Hulle weet hulle kan nie onder iemand anders se leierskap plunder nie. Hierdie is mense wat nie die belange van Suid-Afrika op die hart dra nie.”

Msimang het gesê korrupsie is orals. Hy het die ANC se leierskap daarvan beskuldig dat hulle nie die publiek se bekommernisse hanteer nie. “Nkandla gaan op die agenda bly vir so lank as wat dit onopgelos bly,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

monica ·

Uiteindelik iemand van die ANC wat logiese redeneer en al die jakkelsdraaie sommer met een slag vas vat en uitwys vir wat dit is. Dit gee my sommer weer moed.

zahn ·

%^&&%$!!! Amper laaik ek die anc! Of dan ‘n gedeelte van hulle.

monika ·

dit is darem goed dat een dit kan raak sien. ek wil net weet wie betaal vir die elektriese tyd en water daar elke maand daar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.