ANC-veterane wil eie raadplegende konferensie hou

Argieffoto

Nadat ANC-veterane besluit het om die eerste twee dae van die party se vyf dag lange nasionale beleidskonferensie in Johannesburg te boikot, het die veterane Donderdag aangekondig hulle beplan om in September vanjaar hul eie raadplegende konferensie te hou.

Dit kom nadat die veterane se versoek dat ʼn raadplegende konferensie apart van die beleidskonferensie gehou word deur die ANC-toplui geweier is. “Ons het besluit dat ons ʼn nasionale raadplegende konferensie gaan reël,” het ANC-veteraan Wally Serote aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Ons gaan met ANC-lede gesels oor wat ons moet doen in hierdie krisis. Wat is die kriteria vir die soort leierskap wat die organisasie uit hierdie krisis kan lei.”

Die raadplegende konferensie wat sal beoog om ʼn manier te vind om die ANC se interne struwelinge op te los, sal takke en provinsiale strukture insluit. “Die aanbevelings wat uit die konferensie spruit, moet stipuleer hoe om die ANC te red en sy waardes te herstel,” het Serote gesê.

Murphy Morobe het gesê die probleme wat die ANC in die gesig staar is groot en verg ernstige introspeksie en nie “net twee dae se besprekings nie”.

Hy het gesê die ANC se raadplegende konferensie wat vir Vrydag en Saterdag beplan word, sal ʼn nuttelose oefening wees. “Dit is duidelik dat daar nog geen beplanning was nie. Elke keer as daar ʼn gesprek oor ʼn raadplegende konferensie [met ʼn ANC-leier] gehou is, het ʼn filtreringsproses plaasgevind en ons het opgeëindig met inligting wat heeltemal anders is as dit wat ons bespreek het,” het hy gesê.

“Daar gaan altyd diegene wees wat ontken daar is ʼn krisis. Dit word gedoen met die hoop dat indien jy ʼn leuen genoeg kere herhaal, dit vir die waarheid aangesien sal word. Maar dit is ʼn belediging teenoor elke burger van hierdie land wat in hul alledaagse lewens die gevolge sien van die staatskapingprojek en die effek daarvan op hul gemeenskappe.”

Ten spyte van die boikot van die eerste twee dae van die beleidskonferensie sal die veterane vanaf Sondag as individuele ANC-lede aan die konferensie deelneem.

Nog ʼn ANC-struktuur, die Umkhonto We Sizwe (MK)- nasionale raad, het die hele beleidskonferensie afgejak en dit as ʼn nuttelose oefening bestempel. Siphiwe Nyanda, voorsitter van die raad, het gesê slegs ʼn aparte raadplegende konferensie kan Afrika se oudste vryheidsbeweging red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Ek wonder hoeveel miljoen word aan kos spandeer gedurende hierdie “beraad”. Die spyseniers lag weer al die pad bank toe. By hierdie berade word niks konstruktiefs bespreek nie net ‘n manier om nie op kantoor te wees en ons geld te mors.

snoefie ·

solank die anc veterane hulle konferensie self betaal, reiskoste, verblyf, kie en vermaak kan hulle voortgaan. indien nie moet hulle fit maar met n conference call doen.

Alida ·

Snoefie, wie dink jy betaal vir daardie onthale. Ek en jy!!!!!!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.