ANC voor groot toets oor Ace

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vergader hierdie naweek en hoewel daar belangrike punte op die agenda is, is dit die lot van die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat die meeste aandag sal kry.

Die vier punte op die sakelys is die Covid-19-pandemie, ekonomiese herstel, dienslewering in plaaslike regering en die verbetering van Afrika se plek in die wêreld.

Maar al is die welstand van munisipaliteite en die stryd teen die koronavirus hoe belangrik, sal die land se fokus na verwagting wees op hoe Magashule hanteer word.

Die NUK se besluit dat hy by sy eerste vergadering vanjaar gaan besin of Magashule moet terugstaan as sekretaris-generaal, sal die sterkste aanduiding nog wees van of pres. Cyril Ramaphosa se faksie wel die hef in die ANC in die hand het en of die mag eintlik by die Zuma-Magashule-faksie lê.

Sedert die ANC se integriteitskomitee in Desember beslis het dat Magashule wel moet afstand doen van sy magtige posisie tot die korrupsie-verwante hofsaak teen hom in die streekhof in Bloemfontein afgehandel is, loop spanning in die regerende party hoog.

Magashule se posisie plaas hom in beheer van die takstruktuur waarbinne die ANC se ledetal, wat volgens die inligting tans sowat 1,4 miljoen is, georganiseer word.

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffot: ANA)

Dit is veral ʼn magtige posisie in aanloop tot die ANC se nasionale algemene raadsvergadering (NGC) wat binne die volgende paar maande moet vergader. Die NGC moet daar bestek opneem van of die ANC-leierskap die besluite van die party se 2017-beleidskonferensie te Nasrec uitvoer.

Die verwagting is dat Ramaphosa se teenstanders binne die regerende party (mits hulle meen hulle kan wen) hul falankse sal opstel om hom tydens die NGC te verswak deur ʼn mosie van wantroue in te stel omdat beleidsbesluite soos die nasionalisering van die Reserwebank nie uitgevoer word nie.

Sowat 90% van die afgevaardigdes by die NGC is verteenwoordigers van ANC-takke en dit is die sekretaris-generaal wat die verkiesing van daardie afgevaardigdes moet orden. Daarom beklee Magashule so ʼn belangrike posisie.

As die Ramaphosa-groep hom kan uitknikker, is hul posisie baie sterk. Hulle het egter ʼn gevoelige slag weg met die dood van die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, wat as bobaas politieke organiseerder ʼn gewilde sleutelondersteuner van Ramaphosa was.

Indien Magashule nie verplig word om terug te staan nie, sal dit ʼn verlammende slag wees vir Ramaphosa se beheer oor die party en die land – en dit sal ook beteken die stryd teen interne korrupsie in die ANC kry ʼn skop in die tande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Werner ·

Gaan mekaar seker nou weer die wereld se nonsens sit en vertel oor hoe hulle alles gaan regruk.Jammer julle het hierdie land onherstelbaar verwoes geen van julle wil haar stories Sal him meer kan red nie

Connie ·

Jip laat ons sien wie regeer die land, (cyril of zuma) kannie wag nie.

domheks ·

cr het te lank gevat om oornag veranderinge aan te bring, iets wat jz hom dalk kan leer!
geen ruggraat by cr. Te veel kommissies wat derduisende kos, met GEEN resultate. Hoop ons kan vir Trump kry ipv cr….

Persheks Adri ·

Ace is BAIE glibberig en beslis nie stupid nie. Die hel gaan los wees as hy moet oor vat by Cyril! Behoede ons van die man!!!

Jacobus ·

Die toets is klaar gedop. Daar is nog vooruitsigte vir die fondse vir Covax om te kom.

Aikie ·

As Magashule dit regkry om aan te bly sien ek swarigheid vir ons land, want dan kan hy en sy faksie maak wat hulle wil en daar is niemand om hulle te stop nie. Oompie Ramaphosa sal sy sokkies moet optrek.

Strandloper ·

Met rampoker in beheer van die all now criminals sal die uitslag grens aan raserny soort gelyk aan topie zumpie se sage! Nog n toets wat hul dop soos gewoonlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.