ANC vra verskoning oor geheime komiteevergadering

Jackson Mthembu. Foto: Flickr/GCIS

Die hoofsweep van die ANC in die parlement, Jackson Mthembu, het vanoggend om verskoning gevra nadat ʼn parlementêre portefeuljekomitee gister verkeerdelik in die geheim plaasgevind het, en die parlement se uitsmyters ontplooi is om te verhoed dat joernaliste die inligting wat bespreek word, bekend maak.

Dit volg nadat die ANC gister sy meerderheid ingespan het om die portefeuljekomitee oor water en sanitasie se verrigtinge vir die publiek te sluit. Die komitee het vorderingsverslae van die Nasionale Vervolgingsgesag, die Valke en die spesiale ondersoekeenheid ontvang oor die vordering van vervolgings teen mense wat by beweerde omvattende bedrog, korrupsie en wanbestuur in die departement van water en sanitasie betrokke was.

Daar heers groot belangstelling om vas te stel of die voormalige minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, wat ook ʼn voormalige premier van Gauteng is, by die ondersoeke betrek word, maar weens die feit dat die komitee geslote verklaar is, is die inligting nou nie bekend nie.

Mokonyane is tans minister van kommunikasie en dien as kabinetswoordvoerder.

Ondanks die besware van die Persgaleryvereniging, wat uitgewys het dat die kwessie verkeerd hanteer is, het die komiteevoorsitter en ANC-LP Lulu Johnson die komitee geslote verklaar en die media uitgejaag.

Tydens vanoggend se vergadering van die Nasionale Vergadering se programkomitee het die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, erken verskeie foute is gemaak.

“Indien ʼn vergadering geslote verklaar word, moet daar goeie redes voor wees en die publiek moet behoorlik vooraf ingelig word. Mense – en dit sluit die media in – kan nie al die pad inkom parlement toe net om skielik uit te vind ʼn komiteevergadering is geslote nie,” het Mthembu gesê.

Hy het voortgegaan: “ʼn Ander fout wat begaan is, is dat die onluste-eenheid …” (hier is hy gou reggehelp) “… ek bedoel die parlementêre sekerheidspersoneel teen die joernaliste ontplooi is.

“Dit was heeltemal onnodig. Ons ken hierdie joernaliste, hulle is kollegas wat deel van die parlement is. Nie een van hulle is skurke nie,” het Mthembu gesê.

Die bestuur van die Persgaleryvereniging onder leiding van die voorsitter, Andisiwe Makinana, het vanoggend vergader met die voorsitter van die Nasionale Vergadering, die ANC-LP Cedric Frolick wat Johnson toestemming gegee het om die vergadering geheim te verklaar, om te verseker dat so iets in belang van die ope demokrasie nie weer gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Thinus ·

Hoekom in die geheim vegader. Wat het die ANC weereens om weg te steek, seker wer om hulle onbevoegde en korrupte comrades te beskerm. Dis net ‘n bewys dat die hele ANC een vrot korrupte en skelm spul is wat alles wil wegsteek om hulle onbevoegdheid weg te steek. Hulle kan met net mooi niks vertrou word nie. Dis tyd dat hulle almal in die pad gesteek word.

Chris du preez ·

Maklik om nou jammer te sê die vergadering het klaar plaasgevind. Geheime vergadering is net om goed vir die publiek weg te steek. Maw nog n klomp skelmstreke

Jacques ·

Jammer help nie na die tyd nie , se eerder wat steek julle nou weer weg of wat konkel julle .

Anoniem ·

Die oplossing is maklik. Deel die vorderingsverslae wat gister agter geslote deure voorgelê is met die media.

Sean ·

Miskien beplan hulle om ons water te vergiftig Hoekom anders in die geheim met water en sanitasie te vergader

Snowball ·

Nou word hooflip Jackson uitgestuur met ‘n saamgeflanste verskoning en witgepleisterde skuldbelydenis en dan gaan dinge weer aan soos voorheen and so on and so forth….. wat ‘n klug.

christa ·

so doen hulle nog baie dinge skelm. Dis die anc daardie wat so “eerlik” wil regeer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.