ANC vra vir eenheid in party

Argieffoto

Argieffoto

Zizi Kodwa, die ANC se nasionale woordvoerder, het ʼn beroep op ANC-lede gedoen om eenheid in die party te bevorder te midde van persone wat “uitsprake maak” oor die organisasie.

Hy het die media Woensdag in Port Elizabeth toegespreek in aanloop tot die party se manifes wat oor die naweek by die Nelson Mandelabaai-stadion bekend gestel word.

Die ANC in Gauteng het Dinsdag ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om na te dink en “die regte ding te doen” om die krisis in die party op te los, nadat die provinsiale uitvoerende komitee Maandag ʼn spesiale vergadering gehou het om die konstitusionele hof se uitspraak oor die Nkandla-sage te bespreek. Die komitee het gesê hulle aanvaar Zuma se verskoning, maar glo wanbestuur rondom die Nkandla-saak het politiese skade veroorsaak en wantroue onder Suid-Afrikaners gesaai.

Kodwa het ANC-lede Woensdag ontmoedig om oor die organisasie te praat en gesê dit is nie in die beste belang van die party nie. “Dit doen skade aan die organisasie en sy beeld. Of dit nou veterane of die uitvoerende komitees is, dit versterk nie die ANC nie,” het Kodwa gesê.

“Ons hoop dat ons kamerade op die pad vorentoe sal verstaan daar is dinge wat ons moet doen om eenheid in die ANC te versterk.”

Nomvula Mokonyane, die ANC se nasionale hoof van veldtogte, het Suid-Afrikaners gevra om die interne prosesse van die ANC te respekteer en waardeer. “Oor die kwessie van die konstitusionele hof se uitspraak: die ANC het nooit gesê kom ons gaan maar net aan nie. Daar moet gehoor gegee word aan die hof se besluite en daardie verantwoordelikheid lê by die regering. Ons, as die ANC, het kwessies geïdentifiseer wat intern hanteer moet word en lesse is daaruit geleer. ʼn Nasionale uitvoerende konferensie word in Mei gehou en ons hoop ons kan die saak dan afsluit,” het Mokonyane gesê.

Kodwa het bygevoeg die ANC kom nie in Nelson Mandelabaai byeen omdat hulle bekommerd is oor mededinging in die gebied nie. “Prakties gesproke het ons nie mededingers nie. Verlede jaar het die ANC meer as 50% [van die stemme] gekry en die DA net meer as 10%, dus is daar geen ware mededinging nie,” het hy gesê.

Hy het gesê hy is vol vertroue die ANC sal Nelson Mandelabaai behou en die party beoog om die metro in ʼn “klein eiland te verander” in aanloop tot die manifes-bekendstelling Saterdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

HEVW ·

Dit is juis die hoofoorsaak van SA se probleem dat die anc geen mededinging het nie.Ons is uitgelewer aan n eenpartystaat met n inherente gebrek aan integriteit. Verder is die anc se probleem dat hy n kieserskorps beskik waavan sommige tog kan onderskei tussen reg en verkeerd. Die eenheid waarvoor daar gepleit word kan slegs bereik word wanneer lg. faksie hul kan vereenselwig met die groter meerderheid se korrupsie en ook met die bereidheid om klakkeloos die sigbare ineenstoting rondom hul te aanvaar, en om te aanskou hoe n kleinere faksie hulsef verryk tenkoste van die grotere meerderheid.

Pappa Beer ·

Waneer het “zoem-zoem die nar” al ooit die “regte” ding gedoen? Daar sal seker meer as gratis t-hempde en gratis middag etes uit gegee word by die “comrades” se partytjies! Dalk weer lee beloftes gesmeer met heuning, die gees van “ubuntu”! MAAK JULLE OGIES OOP KIESERS! Of is julle nog in die bui vir “koue storte, en afrika-aartapel!” Hehehehe!

Jordaan ·

Die kiesers se vorige rekord stem my nie juis positief nie, word banggepraat dat hulle toelae sal weggevat word deur die DA

Simon ·

Wys net weereens die ware kleure van die ANC, Geel en Groen is piesang kleure met swart heel bo, Piesang Republiek, ons nuwe Suid Afrika.

Anika ·

ANC vra vir eenheid ! Watse eenheid – om saam te staan om ons land te besteel en te beroof. ons Grondwet te vertrap en rowers te verheerlik!
Die ANC het reeds hulle ware kleure gewys, dit is nou tyd vir die kiersers om saam te staan TEEN die ANC.

Anoniem ·

Ontbreek, ontbreek, ontbreek ANC!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.