ANC vra vir kalmte in Noordwes

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Spanning in Mahikeng in Noordwes was Donderdag weer op ʼn mespunt te midde van toenemende eise dat Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, moet bedank.

Winkels op die dorp is gesluit en ʼn groep jong betogers gewapen met klippe en stokke het Nelson Mandelarylaan wat Mahikeng en die Botswana-grenspos verbind, versper met brandende voorwerpe.

Een van die betogers het gesê hulle praat glad nie met die media nie. “Gaan praat met Supra en sy kabinet,” het hy gesê.

ʼn Vragmotor is sowat 10 km weg op dieselfde pad aan die brand gesteek deur ʼn groep jong mense wat bande op die pad aan die brand gesteek het.

ʼn Njala-pantservoertuig is in Danville met ʼn petrolbom bestook terwyl ʼn groep jong mense in Dibate naby Mmabatho winkels geplunder het. Die polisie moes die skare met rubberkoeëls uiteenjaag.

Aggressiewe betogers het vir verslaggewers gesê hulle eis dat Mahumapelo as premier van Noordwes bedank.

Maroela Media het vroeër berig betogings het Woensdag in Montshioa begin toe ʼn bus aan die brand gesteek is. Dít het plaasgevind nadat twee mense in die Montshioa Stad-kliniek dood is nadat hul glo nie mediese behandeling ontvang het nie omdat die verpleegpersoneel deelgeneem het aan ʼn voortslepende staking.

Lede van die National Health and Allied Workers Union (Nehawu) staak sedert 26 Februarie en eis die afdanking van dr. Thabo Lekalakala, hoof van die departement van gesondheid, die beëindiging van die departement se kontrakte met eksterne maatskappye, bonusbetalings, die betaling van beroepspesifieke bedeling vir werknemers by provinsiale kantore en die verhoging van gemeenskapsgesondheidwerkers se salarisse.

Mpho Motlhabane, LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoer, het gesê hulle het kennis geneem van individue wat die huidige situasie gebruik om misdaad te pleeg. Hy het inwoners gemaan om in hul huise te bly en te verseker dat hulle veilig is en onnodige beserings en aanvalle vermy.

Maroela Media het vroeër berig lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê nege mense is reeds in verband met die gewelddadige betogings in hegtenis geneem. “Die verdagtes is in Montshioa [suid van Mahikeng] en die omliggende nedersettings onderskeidelik op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die Mmabatho-landdroshof verskyn,” het Myburgh gesê.

Myburgh het gesê hoewel die polisie gister daarin kon slaag om die geweld in die gebied onder bedwang te bring, het die geweld later weer plek-plek opgevlam. “Gedurende die nag is ʼn vragmotor in die Moshawane-nedersetting buite Mahikeng aan die brand gesteek, terwyl nog ʼn voertuig en vragmotor langs die Mahikeng-Vryburg-pad aan die brand gesteek is. Daar was ook voorvalle van plundering wat in gebiede soos Lomanyaneng, Montshioa en Mmabatho aangemeld is.”

Intussen het die ANC in Noordwes Donderdag gesê hy is bekommerd oor die sporadiese betogings in Mahikeng.

Susanna Dantjie, speaker en provinsiale sekretaris van die ANC, het gesê daar is dikwels werklike diensleweringsbetogings, maar dié betogings is volgens die ANC “politieke opportunisme wat as gemeenskapswoede verbloem word.”

Dantjie het verder gesê dat dít duidelik is uit die uitlatings van dié wat in die media aangehaal word. “Hulle gebruik ongetoetsde aantygings van korrupsie teen hom [Mahumapelo]. Hulle gaan voort op dieselfde trajek van die Supra Must Fall-veldtog wat begin is deur die Northwest Business Forum wat nou hulle naam na die Revolutionary Council verander het.”

Sy het bygevoeg die ANC was gelukkig met die volgehoue skakelings tussen Nehawu en die taakspan van LUR’e wat Mahumapelo aangestel het om ʼn oplossing te vind vir die gesondheidswerkers se betoging.

“Ons doen ʼn beroep op hulle om dag en nag te vergader om ʼn ooreenkoms te bereik wat voldoen aan die stakende werkers se eise. Ons versoek ons staatsamptenare om terug te keer werk toe om ons samelewing te help met gesondheidsdienste waarop hulle ingevolge die grondwet geregtig is.”

Sy het die geweld en skade aan eiendom deur betogers veroordeel en dit duidelik gemaak dat dit “verkeerd en onaanvaarbaar is”. Dantjie het gesê kinders kon nie skool toe gaan nie, pasiënte het nie toegang gehad tot fasiliteite nie en staatsamptenare in klinieke rondom Mahikeng word deur betogers geteister.

Die DA in die provinsie het gesê die ANC beskerm Mahumapelo eerder as om in te gryp.

Joe McGluwa, die DA se provinsiale leier, het gesê die provinsie “val uitmekaar” en steeds sê die ANC hul sal nie ʼn mosie van wantroue in Mahumapelo ondersteun nie.

Verlede maand het die Valke ʼn klopjag op Mahumapelo se kantoor uitgevoer waartydens daar op verskeie dokumente beslag gelê is wat verband hou met beweerde wanadministrasie, bedrog en korrupsie van sowat R160 miljoen.

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het destyds gesê die klopjag hou glo verband met ʼn kontrak wat vir drie jaar tussen die Noordwes-regering en Nepo Data Dynamics aangegaan is wat glo help met die verskaffing van internet- en bemarkingstelsels in die premierskantoor en ander regeringskantore.

Volgens Groenewald is die kontrak aangegaan vir die tydperk van 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan Nepo Data Dynamics oorbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Reguit ·

So baie kriminele word glo elke keer “gevang”. Hoe getroos voel ons nou. Is daar darem nog plek in die tronke? O ja… nou onthou ek: wonderlike SA-hool se tronke is lankal oorvol.

PJC ·

Die druk neem toe op Supra. Hopelik is die land binnekort van hom ontslae. Ons het nog nie vergeet wat sy rol in sekere onluste in Noord-wes was nie.

Koos ·

Die beleg van Mahikeng, Episode Twee. Wonder wat sou Baden-Powell van hierdie sirkus gedink het?

Oom Kalahari ·

Dit kom voor of Mnr Supra se paadjie ook oopgekap word soos Mnr Zuma. Dalk moet die twee gaan koukus met ‘n beker koffie op Nkandla se stoep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.