ANC Vroueliga kap media oor Caster Semenya

Caster Semenya (Junie 2016). Foto: AP Photo/Gregorio Borgia

Caster Semenya (Junie 2016). Foto: AP Photo/Gregorio Borgia

Die ANC Vroueliga (ANCVL) het Saterdag uitgevaar teen “ongevraagde bespiegeling” deur internasionale media oor die geslag van die Suid-Afrikaanse top-atleet Caster Semenya.

Meokgo Matuba, die vroueliga se sekretaris-generaal, het gesê die debat oor Semenya se geslag is ʼn “aanval om haar te verneder en te demoraliseer aangesien sy na verwagting ʼn goue medalje in die 2016 Olimpiese Spele [in Rio] sal wen”. Matuba het nie gespesifiseer na watter voorval sy verwys nie.

“Die ANCVL veroordeel die motiewe van diegene wat aanhou om die persepsie te skep dat ʼn Afrika-vrou nie die vermoëns het om in sport uit te blink nie,” het Matuba gesê. “Caster se geskiktheid om teen ander vroue-atlete mee te ding, is nie ʼn debatteerbare saak nie aangesien sy as ʼn dogtertjie gebore is en watter mate van openbare vernedering ook al sal nie haar geslag verander nie.”

Semenya het tevore internasionale nuus gemaak nadat haar geslag en prestasies tydens die vorige Olimpiese Spele bevraagteken is. In 2009 moes sy ná haar sege toetse in Berlyn ondergaan om haar geslag te bevestig.

Matuba het bygevoeg dat die vroueliga die besluit van die hof van arbitrasie aanvaar dat daar geen afdwinging van testosteroonbeperkings op atlete mag wees nie. “Die howe het beslis dat daar nie genoeg bewyse is om te beslis dat vroue-atlete met ʼn hoër testosteroonvlak ʼn voordeel bo ander vroue-atlete het nie. Hierdie tipe bestudering is onmenslik en ʼn oortreding van Caster se menseregte.”

Matuba het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om Semenya te ondersteun en nie deel te neem aan bespiegeling oor haar geslag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.