ANC-Vroueliga noem sy top-6

Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: ANA/David Ritchie

Die ANC-Vroueliga (ANCVL) het Maandag sy voorkeurkandidate vir president en die top-6 in die regerende party bekendgemaak.

Soos verwag is Nkosazana Dlamini-Zuma die vroueliga se voorkeurkandidaat vir president van die ANC. David “DD” Mabuza, premier van Mpumalanga en ANC provinsiale voorsitter, is die ANCVL se voorkeurkandidaat vir adjunkpresident, Nathi Mthethwa, die huidige minister van kuns en kultuur, die kandidaat vir nasionale voorsitter en Ace Magashule, premier van die Vrystaat, die kandidaat vir sekretaris-generaal.

Die ANCVL het Jessie Duarte, die huidige adjunk-sekretaris-generaal, genomineer om in haar posisie te bly en Maite Nkoana-Mashabane, die huidige minister van internasionale verhoudinge, as die voorkeurkandidaat vir tesourier.

Die ANCVL het Sondag ʼn vergadering met sy uitgebreide nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat deur verteenwoordigers van provinsies en streke bygewoon is, gehou.

“Die vergadering is saamgeroep hoofsaaklik om die voorkeur-ANC-leierskap te nomineer om in die ANC-NUK te dien na afloop van die 54ste nasionale konferensie in Desember 2017,” het die vroueliga Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Die vergadering het weereens die behoefte bevestig aan fundamentele veranderinge in die struktuur, stelsels, instansies en patrone van eienaarskap, asook die bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, waarvan die meerderheid Afrikane en vrouens is. Die ANCVL se uitgebreide NUK-vergadering het eenparig besluit dat die genoemde comrades in die top-ses van die ANC moet wees wat kampvegters vir radikale ekonomiese transformasie sal wees om ongelykhede, werkloosheid en armoede in die land uit te wis.”

Die vroueliga het gesê die addisionele lede van die ANC-NUK sal uit 50% vroue bestaan.

“Vir meer as 23 jaar het die meerderheid in hierdie land politieke vryheid geniet met min of geen rede om ekonomiese vryheid te vier nie. Die ekonomie is steeds in die hande van die minderheid. Die leierskap wat by die ANC se nasionale konferensie in Desember verkies gaan word, moet vreesloos en onapologeties wees in die implementering van radikale ekonomiese transformasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lena Jonk ·

Ons bid baie vir SA dat ons Almagtige Vader asb vir SA n eerlike, opregte leier met verstand sal gee dat die land weer sal herstel.

Alida ·

Ai Ouma gaan sit saam met die ander vrouens onder Nkandla se bome en maak krale of pas die baie kinders op wat daar rondhardloop daar is hoeka ‘n groot swembad wat ‘n gevaar inhou.

Hennie ·

Wat het Nkosazana Dlamini-Zuma gedoen om “dr” te word????

Elvira bothma ·

Mag die Vader in die Hemel SA genadig wees en keer dat hierdie men’s president word.

kat ·

Julle kommentare laat my so lekker lag!!!
Ek wil net weet waarom sy nog nie ‘n tandarts besoek het nie – want sy het sekerlik die geld?
Die gap is een te veel vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.