ANC wen Mpumalanga-tussenverkiesing gemaklik

Argieffoto

Die ANC het die eerste tussenverkiesing van 2019 gemaklik gewen, maar tog heelwat steun ingeboet.

Die mees uitstaande kenmerke van dié tussenverkiesing in wyk 1 van die Thaba Chweu-munisipaliteit, wat Graskop, Sabie en Lydenburg insluit, is egter die lae stempersentasie en die feit dat die DA nie ʼn kandidaat gestel het nie. Albei aspekte maak dit moeilik om die uitslag te interpreteer.

Die wyk sluit ʼn deel van die township Mashishing in en is gewen deur Phindiwe Segoana (ANC met 520 stemme teen 265 vir die EFF). Die stempersentasie was net 22,9%.

Een van die redes hiervoor was dat die DA, wat in 2016 tweede geëindig het in die wyk, nie ʼn kandidaat gestel het nie.

Die ANC-steun, vir wat dit met so ʼn lae stempersentasie werd is, het afgeneem van 83% na 66%, en die EFF s’n het toegeneem van 8% na 34%.

So onbelangwekkend as wat die uitslag hierdie week in Mpumalanga was, so belangwekkend is drie tussenverkiesings wat aanstaande Woensdag in die Wes-Kaap plaasvind.

Die belangrikste van volgende week se tussenverkiesings is in Kaapstad wyk 31, wat grootliks Afrikaanssprekende bruin werkersklaswoonbuurte op die Kaapse Vlakte soos Bonteheuwel, Charlesville, Kalksteenfontein, Valhallapark en Montana insluit.

Dis die eerste toets van bruin Afrikaanssprekende stedelike steun sedert Patricia de Lille die DA verlaat het. Die DA verdedig ʼn meerderheid van 84% in die wyk soos blyk uit die 2016-verkiesing.

Ook in Kaapstad vind ʼn tussenverkiesing volgende week plaas in wyk 101, wat die ANC-gesinde plakkerskampe Bloekombos en Wallacedene buite Kraaifontein insluit. Dit is ʼn toets vir ANC-mobilisering in die party se hartland.

Die derde tussenverkiesing vind plaas in wyk 5 van die Bergrivier-munisipaliteit, wat setel in Velddrif. Die wyk sluit in die dorpies Redelinghuys en Eendekuil asook nedersettings en plase in die gebied waar die Swartland en die Sandveld bymekaarkom.

Die DA het dié wyk net-net gewen in 2016. Toe het die ANC dit verlede jaar afgeneem en nou is daar weer ʼn tussenverkiesing nadat die ANC-raadslid geskors is omdat hy te veel stadsraadsvergaderings misgeloop het.

Die uitslag sal met valkoë dopgehou word deur enigeen wat wonder hoe die Kaapse politieke winde waai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Om te leer ·

Ook maar te .. om te leer. Besef nie hulle armoede is tedanke aan die party vir wie hulle stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.