ANC-werker summier ontslaan ná transitorooftog

Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad. Foto: Google Earth

Die ANC het Woensdag gesê een van sy werkers, Errol Velile Present, is summier ontslaan nadat dit aan die lig gekom het dat hy in verband met ʼn transitorooftog in Johannesburg in hegtenis geneem is.

Dit volg nadat Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, vroeër onthul het dat ʼn verdagte wat onlangs in verband met ʼn transitorooftog in hegtenis geneem is, by die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis, werk.

“Dié inhegtenisneming laat die vraag ontstaan of die ANC bewus is daarvan dat die persoon aangekeer is, en as dit die geval is, hoekom bly die party dan stil oor so ʼn belangrike kwessie?

“Nog ʼn vraag is hoe die ANC, wat die nasionale regering bestuur, mense in diens neem wat so skaamteloos openbare veiligheid en die wette van ons land ondermyn,” het Mashaba in ʼn verklaring gesê.

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, het daarop gereageer dat die party “ontsteld is oor die feit” dat een van sy werkers in hegtenis geneem is en in die hof verskyn het “in verband met ernstige misdade”.

“Misdaad bly ʼn ernstige kanker in ons jong demokrasie en ons moet dit voortdurend beveg, ongeag die manifesterings,” het Mabe gesê.

“Ons ondersteun die pogings van die wetstoepassingsowerhede om die oortreders van sulke hoë prioriteitsmisdade te ondersoek, in hegtenis te neem en te vervolg.”

Die party het kort daarna bevestig dat Present ontslaan is.

“Die ANC verwag van sy lede en werkers om die land se wette te gehoorsaam en by geen strafregtelike misdrywe betrokke te wees nie,” lui ʼn verklaring van die ANC.

Maroela Media het vroeër berig Present en nog drie verdagtes was na bewering onlangs betrokke by ʼn transitorooftog in Dobsonville in Soweto. Die polisie het ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur en hulle op 6 en 7 Julie tydens klopjagte in hegtenis geneem.

Die polisie het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op vier voertuie wat gekaap is. Twee van dié voertuie is tydens die rooftog in Dobsonville gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

leser ·

die anc weet van al hul werkers se doen en late, hulle “wil” dit nie raaksien nie, wil dit nie openbaar maak nie, anders verloor hulle stemme vir 2019

zoom zoom ·

Wat ‘n toonbeeld van eerlikheid om die man te laatgaan of is dit fop nuus.

Andre ·

Wat van die “Innocent until proven guilty” of betaalde verlof?

Wynand ·

Al wat die man in die ANC verkeerd gedoen het is om gevang te word. Nes hul voriger President nie gefire is toe dit aan die lig kom dat hy n’ bedrieer is nie. Errs toe hulle intern begin baklei oor hoe die winste verdeel word het CR hom vervang met die voorwaarde dat sy
‘generaals” aanbly en hy n’ groot maate van beskerming geniet. Om n’ krimineel te wees laat jou groot hoogtes binne die ANC bereik. As dit op jou CV is word jy gebruik om ander op te lei

pieter ·

O tjorts. dan sal julle omtrent die hele ANCircus moet ontslaan

Chris ·

Die kader se grootste fout was om uitgevang te word en sy party in onguns te bring. Sekerlik is hy kwansuis uitgeskop net vir oe verblindery . Sy party gaan hom nog help met sy regskoste as dit sover sal gaan. Die klagte teen hom gaan net verdwyn

Hansie ·

Dalk het hy net gehelp met befondsing vir die komende verkiesing

Moeg ·

Sooooo…. nou kan hy sy tyd voltyds toespits op sy 2de werk!

Potlood ·

Julle gaan baaaaaaaaaaie van julle lede moet öntslaan as dit by crime…. of is dit selektief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.