ANC wil NGV met belasting finansier

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Die DA sê hy neem kennis van die nasionale tesourie se voornemens om bykomende belasting te hef op hardwerkende Suid-Afrikaners om die Nasionale Gesondheidsversekering te befonds.

“Die vooruitgeskatte finansiële impak van die NGV is kommerwekkend en beramings het al sowat R859 miljard per jaar gehaal,” sê DA-LP’s Dion George en Michele Clarke.

Sedert die bekendstelling van die NGV-wetsontwerp bly die regering ontwykend oor die finansiering daarvan.

“Die tesourie het nou planne aangedui om belasting op te stoot – met ʼn onbepaalde bedrag – om die onpraktiese NGV, wat bestem is om te misluk – te finansier.”

George en Clarke sê die Suid-Afrikaanse ekonomie is reeds een van die mees swaar belaste regimes in die wêreld en enige belastingverhoging sal uitermatig beswarend en hoogs regressief wees en ʼn oneweredige impak hê op laer-inkomste huishoudings.

“Suid-Afrikaners sukkel reeds met ʼn lewenskostekrisis sonder enige verligting van die regering – wat baie maklik brandstofheffings kan besnoei en die zero-BTW-kosmandjie kan vergroot. Die regering se onverskilligheid is tasbaar, veral as hulle belastingverhogings oorweeg terwyl talle burgers sukkel om aan basiese behoeftes te voldoen.”

Staatsoplegging op inkomste, verbruik en eiendomseienaarskap, vererger deur die wanbestuur van staatshulpbronne deur vermorsing, korrupsie en verduistering, het die publiek se vertroue weggekalwe. “Die ANC se verskerpte pogings om belasting te verhoog om hul populisme te finansier, verg dus ʼn kollektiewe teenkanting. Belastingbetalers moet besef dat hul bydraes vermors word deur ʼn bestel wat onverskillig staan en moreel bankrot is.”

Die DA se standpunt is duidelik. “Ons bly verbind tot die beginsel van universele toegang tot gesondheidsorg vir alle burgers. Maar die NGV-wetsontwerp is ongrondwetlik en sal slegs ʼn reeds mislukkende staatgesondheidbedryf verder erodeer. Die regering se model om alle gesondheidsorgfinansiering te sentraliseer in ʼn nuwe staatsbeheerde entiteit waar die privaat sektor se hulpbronne en staatshulpbronne saamgevoeg word in ʼn enkele poel, en beheer word deur die minister van gesondheid, is ʼn resep vir ʼn ramp.”

George en Clarke sê die DA se model, soos uiteengesit in die DA se manifes en beleidsdokumente, verduidelik hoe volhoubare toegang tot gesondheidsorg behaal kan word deur die huidige distriksbestuursmodel te herstel. “Deur die krag van die privaat sektor se invloed te gebruik in vennootskap met staatsgesondheid, sal ʼn DA-regering toegang tot hoë gehalte gesondheidsorg bied aan elke Suid-Afrikaner – sonder om die belastinglas te verhoog.”

Die NGV moet nog deur die president onderteken word.

“Terwyl die president vir sy pen soek om dit te bekragtig, het die DA regsadvies bekom en ons staan gereed om hierdie drakoniese wetgewing teen te staan wat dreig om toegang tot gehalte gesondheidsorg vir Suid-Afrikaners te verbied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Zonnebloem ·

Hou aan bid dat hierdie beplande NGV nooit deurgevoer sal word nie. Net soos Eskom en SAL sal dit groot ramp wees met die verskil dat mense lewens op die soek is. Die regering moet die huidige gesondheidsorg verbeter dan sal NGV nie eers nodig wees nie. Die feit is dat die regering onbevoegd is om dit te doen – ‘n skrikwekkende gedagte omdat die huidige staats hospitale’n goeie idee gee van hoe gesondheidsorg sal lyk onder NGV. Ons moet bid!

Marous ·

Begin by jou staatsamptenare paddapot . Dan sal jy sien hoe brand jou mishoop.

GWS ·

Die ANC het hul verstand verloor. Ons word reeds so belas!!!! Gekkigheid!

Protea ·

Oplossing as hulle bankrot is… Maak belasting hoor. Die mense dink nie lekker nie

Republikein in die Wes Kaap ·

NGV en BELA is ook belangrike redes waarom mense na die Wes-Kaap migreer.

OU SAAR ·

Dis nou die tyd vir elke belatingbetalende Suid Afrikaner om op te hou belasting betaal tot die regring tot sy sinne kom.
Liewe aarde, die klippe kan nie meer bloei nie. Wanneer gaan dit ophou?
Die 29ste Mei kan nie gou genoeg kom nie. Ek hoop net dat Suid Afrikaners hulle koppe gebruik en hulle kruisies op die regte plekke trek, anders is dit vergoed verby met ons.
BID MENSE BID…
NET GOD KAN ONS NOU HELP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.