ANC wil Solly by OB verkla

solly-msimanga-04

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro Foto: Facebook

Die ANC se Tshwane-koukus het Woensdag na burgemeester Solly Msimanga gekap deur te sê die party sal kwessies van “growwe finansiële wanbestuur, wanadministrasie en totale verontagsaming van grondwetlike en regsvoorskrifte” voor Kersfees by die kantoor van die openbare beskermer (OB) aanmeld.

Die ANC-leiers in Tshwane, wat gelei word deur voormalige burgemeester van die stad, Kgosientso Ramokgopa, het die media in Pretoria toegespreek en ʼn assessering van Msimanga se 16 maande oue administrasie gegee.

Ramokgopa het die DA-administrasie skerp gekritiseer en hulle daarvan beskuldig dat hulle die hoofstad in die grond in bestuur. Hy het Msimanga gekritiseer oor die R2 miljard begrotingstekort van die stad wat die DA vroeër gesê het hulle by die ANC-geleide munisipaliteit geërf het.

“Toe ons die bestuur verlaat het, het die raad nagenoeg R700 miljoen in surplus gehad. Hoe is ons dan verantwoordelik vir ʼn R2 miljard tekort? Msimanga en die lede van sy burgemeesterskomitee moet die inwoners van Tshwane vertel hoe hulle die stad bestuur,” het hy gesê.

“Dit is teleurstellend en hartseer om lede van die publiek en ons inwoners in te lig dat die Stad Tshwane in ʼn diep finansiële krisis van ongekende afmetings gedompel is. Die DA-geleide administrasie het vinnig ʼn gesonde en stabiele finansiële nalatenskap van die ANC-administrasie verwoes.”

Die ANC-leiers in Tshwane het gesê die omvang van die krisisse in die stad kan nie langer geïgnoreer word nie en vereis onmiddellike ingryping. “Die omvang van die krisisse vereis ʼn provinsiale en uiteindelik ʼn nasionale finansiële reddingsingryping in terme van artikel 139 van die grondwet,” lui die verklaring van die ANC.

Die groep het ook gekap na Msimanga se inkomsteinvorderingsmetodes in die stad en gesê sommige daarvan is “blatant onwettig”.

“Ons het daarop afgekom dat inwoners van Tshwane sedert Julie 2017 ʼn onwettige belasting opgelê is: ʼn stadskoonmaakheffing van R127,04 per huishouding en R2 911,67 vir kommersiële en nywerheidseiendomme,” lui die verklaring.

“Die stad sal jaarliks meer as R2,2 miljard deur hierdie heffing invorder. Dit demonstreer verder die totale verontagsaming van die grondwet.”

Ramokgopa het gesê hulle sal om hierdie redes die OB se kantoor voor die einde van die jaar nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Lola ·

Goed so ANC! En dit is hoe ‘n demokrasie werk. En hoekom koalisie die enigste oplossing is vir SA. Die politieke partye hou mekaar eerlik en verantwoordelik.

fani ·

Vir die eerste keer in my lewe stem ek saam met die ANC , ons betaal vir dienste in Tshwane wat ons nie kry nie .Maar wat kan ons se hulle is almal dieselfde.Toe die ANC Tshwane raad gehad het het hulle ook nie die strate skoon gemaak nie.

dallas ·

ek kan eerlik waar se dat n mens sien n verbetering in sekere aspekte soos ek al deur die stad gery het kan mens opmerk dat daar meer skoon makers is …die vullis dienste is nog net eenkeer ontwrig die jaar en met die ontwrigting het die vullis trokke steed die volgende oggend op gedaag..die anc moan oor dinge wat nie gedoen word nie want hulle het dit gerf van apartheid af…hulle het altyd n verskoning of n agenda wat hulle dryf hulle geld krane is nou toe gedraai.sou graag wou sien hoe het anc by n surplus uit gekom van 700mil…

Phillip Smit ·

Ek betaal al “City Cleaning charge ” vanaf voor 2012. Wys jou net hoe die ANC lieg.

bgj van der westhuizen ·

anc en da en die es belieg net die belasting betalers voor verkiesing baie mooi beloftes na werkiesing is alles net soos dit was en verval net verder die kaap is n goeie voorbeeld voor die plaaslike vekies in as jy gebel het was daar dadelik gekantwoord goed was gedoen nou na dit dat hulle weer da in beheer is dies is nie wat dit was nie col sentrum kan nie jou help in taal nie jy kan nie verstaan wat hulle se nie en dan lock hulle nie eers die vout nie die hele los beteking niks vreet net ons belasting geld op

John ·

Dit gaan oor die R700 milj surplus… nie of dienste gelewer is nie…. So kry die ANC alle beswaardes altyd aan hul kant. 22 jaar van ANC-bestuur kan nie in ‘n jaar en wat uitgewis word nie… Nie dat ander partye altyd perfek is nie. Miskien moet Pretoria weer in groot maat vir die ANC stem…. ha…. ha….

Louis ·

Sal wonderlik wees, dan kan hulle sommer al die “onwettige” stadskoonmaakheffings wat sommige van ons al langer as vyf jaar betaal aan ons terug betaal :)

Jakkals ·

Ek stem. Dit vat baie langer om te bou as om te breek …… en dit is baie duurder. Wat hierdie ouens in 22 jaar tot niet gemaak het sal die DA of enige ander party nie in so ‘n kort tydjie kan verander nie. Gee die nuwe besems ‘n regverdige kans.

PJS ·

‘n Goeie voorbeeld van ‘vinkel en koljander’?
In die onderskrif van die foto het ‘burgermeester’ deurgeglip.

Dalene de Vente ·

Dagsê PJS

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Oosie ·

Moenie kommentaar lewer as julle nie feite het nie. Die bestuur van die groot Metro’s het baie meer om die lyf as wat lede van die publiek besef. Politiek is deurspek van vuilspel en 80% van die tyd op bewerings en persepsies geskoei i.p.v. feite.

Al ·

Suur druiwe! Practise what you preach! Jul het die munisipaliteite drooggemelk, nou moet ander die kastaings uit die vuur probeer krap.

Andréas ·

Dankie MM en versoek dat daar hieroor voortdurend verslag gedoen word asb? Almal is moeg vir bekwas politiekery… dié een wat dit sê en ander weer dat sonder konkrete bewyse/ feite. Verkry die syfers/ veegelyk dienslewering voor en na, so ook dui werklike verkwisting/ tekorte voor en na aan. Net soos “staatskaping” nou as realiteit bewys is, sal “munisipale” skuldiges ook weldra openbaar gemaak word. Ons sien uit om dan daarvan te hoor… ‘n Gewete en altyd wil ontken/ wegkruip is nare belewenisse.

Sean ·

Dit is maklik om dit te bewys.
Audit die boeke.
Ek dink dit gaan meer oor vorige korrupsie wat oop gevlek word as enige iets anders

Rupert Ashford ·

Ek vra van ver: Was daar werklik ‘n surplus? Hoe is dan nou so verkeerd “omgedraai”? Het die DA finansiele state wat kan help verduidelik – dit behoort baie maklik te wees om te verduidelik wat hier aangaan, en ook wat die ware toedrag van sake was.

Hendrik ·

Het die ANC bewyse vamndie “groot” oorskot wat hulle nagelaat het? Ek vermoef dit was eerder n hengse klomp skuld wat hulle nagelast het!

Adam ·

Lola, moenie opgewonde raak oor die ANC nie. Hulle kan nie verstaan dat ‘n R700m surplus eintlik ‘n surplus van R2,7mijard behoort te gewees het, indien hulle nie ‘n R2miljard “tekort” (lees wanbesteding) veroorsaak het nie. Dit behoort hulle onkunde vir jou te bewys en koalisiepolitiek in Afrika is ‘n vreemde konsep, amper iest soos ‘n olifant wat ballet-skoentjies dra. Demokrasie en Afrika is nou nie juis bloedbroers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.