ANC-woordvoerder met verlof hangende ondersoek

Pule Mabe, ANC-woordvoerder. Foto: Facebook

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, het vrywillig aangebied om met verlof te gaan hangende die uitslag van die dissiplinêre ondersoek wat teen hom aan die gang is.

ʼn Griewepaneel binne die ANC is tans met die ondersoek besig nadat Mabe se persoonlike assistent hom van seksuele teistering beskuldig het.

“Die ANC het [Mabe se] versoek aanvaar en bedank hom dat hy eerder die integriteit en beeld van die ANC voor dié van sy eie stel,” het die ANC Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Zizi Kodwa en Dakota Legoete, lede van die party se nasionale werkskomitee (NWK), sal voorlopig tot die uitkoms van die saak as woordvoerders optree.

Die ANC het Maandag aangekondig dat die party ʼn klagprosedure teen Mabe ingestel het nadat ʼn klag van seksuele teistering teen hom ingedien is. Die party wou egter nie nadere kommentaar lewer op die bewerings nie en het dit as ʼn “interne proses” bestempel.

Dit volg nadat die media onthul het dat Mabe se 26-jarige persoonlike assistent die klagte teen hom ingedien het. EWN berig die vrou het ʼn brief van 14 bladsye aan Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, geskryf waarin sy om ingryping pleit.

Die vrou beweer Mabe het haar by minstens twee geleenthede seksueel geteister en dat hul werksverhouding versuur het toe sy hom weggewys het. Volgens EWN beweer die vrou onder meer Mabe het haar hotelkamer in die nagtelike ure binnegekom, op suggestiewe wyse aan haar gevat en tydens ʼn ANC-geleentheid daarop aangedring om in haar hotelkamer te werk.

Sy beweer nadat hul werksverhouding versuur het, is haar postitel verlaag en haar salaris verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Die “Spindokter” het seker aangeneem sy nuwe praat-posisie sluit ook “n slaap-posisie” in. Sal wil sien hoe hy hom hieruit gaan los-vroetel, he, he, he!

Daan Erasmus ·

Die klag maak Pule nie skuldig nie. Onthou daar is 2 ANC ‘s. Klagtes soos die word gebruik om mense buite aksie te stel.

Estelle ·

Ja… ek sal ook aanbied om met verlof te gaan as my salaris steeds maand na maand in my rekening land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.